Pa, seuntjie gered ná golf hul van hawemuur slaan  

Kalkbaai-hawe. (Foto: Simon McDonnell/NSRI)

Twee barmhartige samaritane het ʼn moontlike tragedie help voorkom toe hulle tot die redding van ʼn pa en sy seuntjie gekom het nadat hulle deur ʼn golf van die Kalkbaai-hawemuur geslaan is.

Volgens Darren Zimmerman, hoof van bedrywighede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Simonstad-stasie, is hulle Saterdag omstreeks 12:00 in kennis gestel van ʼn kind wat in die water by die Kalkbaaihawe beland het.

Verskeie organisasies is ontbied en lewensredders van die Stad Kaapstad het gaan ondersoek instel. “Volgens ooggetuies het ʼn golf onverwags oor die hawemuur gebreek en die pa en seuntjie, wat in ʼn stootwaentjie was, is deur die water meegesleur.”

Twee barmhartige samaritane, ʼn man wat saam met sy gesin op die hawemuur was en ʼn man wat by die hawe werk, het in die water gespring om die pa en kind te help.

“Die kleuter, wat enkele oomblikke vroeër uit die stootwaentjie losgemaak is, is deur sy pa bo die water gehou totdat die mans hulle bereik het. Die twee mans het die kleuter uit die water gered en ook die pa gehelp om uit die water te kom.

Volgens Zimmermann is die stootwaentjie en ander besittings deur nog ʼn man, wat ook by die hawe werk, uit die water gehaal nadat hy ook ingespring het om te help.

By die NSRI se aankoms is hulle in kennis gestel dat almal veilig uit die water gehaal is, maar mediese hulp nodig het. Paramedici het die pa en seun behandel voordat hulle in ʼn stabiele toestand met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is. Die pa is steeds in die hospitaal vir waarneming.

Zimmerman het gesê die pa en sy gesin is van Muizenberg en besoek Kalkbaai gereeld.

“Ons loof die barmhartige samaritane en al die omstanders en familielede wat betrokke was om te help vir hul vinnige denke om die kleuter te red en die pa uit die water te help. Die pa word geloof dat hy sy seun se kop bo die water gehou het totdat hulp opgedaag het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cecilia ·

Baie dankie aan die persone wat pa en seun te hulp gesnel het, ek is Bly om te Sien daar is nog mense wat bereid is om ander te hulp te kom, mens kry dit nie meer somer op enige plek nie. Magie die Liewe Vader sy hand oor jul hou en jul harte altyd goed wees.

Duck ·

Was al baie op die hawe muur, almal groet altyd beleefd en ek is glad nie verbaas dat iemand gehelp het nie. Miskien kan die owerhede nou meer “reddings boeie” op die muur aanbring. Nie seker of daar is nie.

trotsNAMSA ·

Wat soek die mens op die hawe muur ? Die see is onvoorspelbaar soos die mens. Bly weg van water veral die see.

Bolandse Nooi ·

Kudos aan die mense wat almal – sonder ‘n gedagte aan hul eie veiligheid – letterlik en figuurlik ingespring het en gehelp het!

Marous ·

Ware helde . Het met ons gebeur op Gordonsbaai se hawemuur jare terug. Windstil en geen waarskuwing . Gelukkig kon ons agter toring skuil en toe hardloop met klein seuntjie . Die see is onvoorspelbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.