Pa skiet ma ná dogter polisie waarsku, hoor hof

geweerʼn Vrou van Sandrivier naby Hazyview het Dinsdag in die Nelspruit-sitting van die hooggeregshof in Pretoria getuig sy het die polisie gewaarsku dat haar pa in besit van ʼn vuurwapen was, skaars twee ure voor haar pa haar ma doodgeskiet het.

Cynthia Sonto Sengwane het teen haar pa, Godfrey Sefayi Sengwana (62), getuig. Hy word daarvan aangekla dat hy Cynthia se ma, Zodwa Mdlalane Sengwane (60) op 3 Maart verlede jaar doodgeskiet het.

Sy het aan die hof gesê haar ma se niggie, Lydia Mpangana, het tydens ʼn familieseremonie aan haar ma gesê Godfrey het ʼn geweer en dat hy die bure se seun wil skiet.

“Ek het vir hom gesê wat hy beplan, is nie goed nie. My pa het baie heftig reageer. Hy het gesê as hy my by die bure se seun se huis sien, gaan hy my doodskiet,” het sy gesê.

Cynthia het gesê sy was vreesbevange ná die dreigement.  Sy het die voorval by die polisie gaan aanmeld en hulle versoek om haar pa te deursoek. Die polisie het hom nie deursoek nie, maar net ondervra. Later het iemand haar geskakel om te sê haar pa het haar ma doodgeskiet.

Konst. Zwelithini Mnisi van die Hazyview-polisiestasie het aan die hof gesê hy het voor die voorval saam met ander polisiebeamptes na die verdagte se huis gegaan, maar Zodwa het ontken dat haar man ʼn vuurwapen het.

“Die verdagte het ook ontken dat hy ʼn geweer gehad het. Hy het geen behoorlike antwoorde gegee nie, maar aangehou om Cynthia te dreig. Cynthia het geweier om ʼn saak van intimidasie aanhangig te maak, en ons het die toneel verlaat,” het Mnisi gesê. Hy sê hulle is twee ure later van die skietery ingelig.

Godfrey het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, intimidasie en die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Adv. Melanie Erasmus, die verdagte se regverteenwoordiger, het gesê haar kliënt gaan alle getuienis teen hom ontken. Hy is tans op R1 000 borgtog vrygelaat. Die saak duur voort. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.