Pa skiet seun: Pa en seun was glo vervreem van mekaar

Sharon Taylor tydens die onderhoud met Maroela Media. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Coert Kruger, die man wat deur sy pa doodgeskiet is toe hy in die nag by sy ouma se huis opgedaag en op die dak geklim het, was ten tye van sy dood van sy pa vervreem. Sharon Taylor, Kruger se ma, het haar hart uitgestort oor die aand toe haar geliefde seun in Maart vanjaar geskiet is, en die swaar pad wat sy sedertdien moet loop.

Coert Kruger sr. (51) is vroeër vanjaar skuldig bevind aan die moord op sy seun Coert jr. (30) nadat hy sy seun op 22 Maart glo vir ’n rower aangesien en hom op die dak van ’n huis op sy kleinhoewe buite Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek doodgeskiet het. Coert jr. was ten tye van die voorval aan dwelms verslaaf.

Kruger het skuld erken op die voorval en is in September vanjaar ʼn waarskuwing opgelê en vrygelaat.

“Dit is egter nie so eenvoudig soos pa skiet seun wat op dwelms is nie,” vertel Taylor aan Maroela Media.

Taylor is vasbeslote dat haar kind se storie verder strek as net ’n junkie wat daardie aand by sy ouma se huis op die kleinhoewe ingebreek het en toe deur sy pa as dief aangesien en geskiet is.

“Hy was nié daar om te steel nie. Hy was daar om kos te soek,” verduidelik sy.

Volgens Taylor het haar seun tot en met 2016 sy eie besigheid vanaf sy ouma se huis bedryf. Dieselfde huis waar sy pa hom geskiet het. “Ek kyk na die finansies van dié besigheid en ek kan net vra wat het in my kind gecrack? Hoe gaan ’n mens van dít tot ‘ek gee op’?”

Taylor vertel haar seun en haar gewese man het nog altyd ’n moeilike verhouding gehad. Taylor en Coert sr. is in 1994 geskei.

Sharon Taylor tydens die onderhoud met Maroela Media. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Vir Taylor is dit ’n bitter pil om te sluk dat haar eksman op waarskuwing vrygelaat is. “Daar moes ten minste ’n opgeskorte vonnis gewees het,” meen Taylor. Sy glo Coert sr. het geweet dit is haar seun op die dak. Die hof het egter nie hiermee saamgestem nie.

Coert sr. het gedurende die verhoor aan die hof gesê hy en familielede het die aand van die moord ’n geraas by die ouma se huis, agter sy eie huis, gehoor en ondersoek ingestel. Hy het ’n figuur op die dak gesien en ’n skoot afgevuur. Eers toe hy ’n gekreun hoor, het hy besef dit is sy seun, was sy verweer.

Coert jr. is op die toneel dood.

Taylor vertel dat die voorval omstreeks 19:30 plaasgevind het. Sy het net voor 23:00 die oproep ontvang van ’n polisiebeampte om te sê haar seun is dood. Dié oproep het haar wêreld inmekaar laat tuimel.

“Die polisiebeampte het gesê hy bel van Sebokeng-polisiestasie en toe gesê: ‘Jou seun is in die lykshuis.’ Ek het gedink iemand grap met my. ‘Nee man, in die lykshuis?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, hy is geskiet.’

“Ek dink op daardie oomblik het ek regtig mal geword.”

Taylor vertel dat sy gevra het waar hy geskiet is, waarop die polisiebeampte geantwoord het: “Op die kleinhoewe.”

“My eerste woorde was: ‘As hy op die kleinhoewe geskiet is, het sy pa hom mos geskiet’. Die beampte het toe geantwoord: ‘Ja. Ons het hom in die selle. Hy is in hegtenis geneem vir moord.’”

Coert jr. het in daardie stadium in sy motor gewoon, vertel Taylor.

“Mense besef nie wanneer jy ’n hawelose persoon of ’n junkie sien, dat daardie persoon trauma beleef het om te wees waar hy of sy nou is nie. Ek sê nie my kind is ’n engel nie… maar mense sien nie die pyn wat agter so ’n mens skuil nie. Hoekom gaan hulle nie huis toe nie? Want dít is waar hulle seerkry.

“Dit was my enigste kind. Of hy op dwelms was of nie, mense moet verstaan dit was my kind en ek was lief vir hom. Selfs terwyl hy verslaaf was, was hy so ʼn omgee-mens. Hy was ’n eerlike en opregte mens. Hy het keuses gemaak wat ek nie noodwendig vir hom wou gehad het nie, maar ek verstaan hoekom hy daardie keuses gemaak het.”

Coert Kruger en sy ma, Sharon Taylor. (Foto: Verskaf)

Taylor benadruk dat daar ’n aanloop tot dáárdie nag was. Sy vertel dat Coert jr. maande voor sy dood by haar gekuier het en hiér probeer het om homself te rehabiliteer.

Volgens Taylor was haar seun ’n trotse mens en het gedurende die tyd by sy ma se huis haar tuin vir haar mooi gemaak. Later het hy ook die buurman se tuin omgespit. Dié buurman huil steeds oor sy dood, vertel Taylor nou.

“Dít is die kind wat ek grootgemaak het.

“Dit is vir my belangrik dat mense moet weet trauma veroorsaak dwelmgebruik. Dis nie ’n keuse nie. Ons land is so ver agter met dit. Ons besef nie dat dit ’n siekte is nie. Nee, my kind was nooit in ’n dwelmhel nie. Ek het hom nog nooit bewusteloos sien lê nie, maar hy het nooit sy dwelmmisbruik weggesteek nie.”

Taylor vertel dat dit juis dan moeilik is om jou kind te help.

Coert Kruger sr. (Foto: Facebook)

“Jy dink so baie aan hoe jy jou kind kan help. Ek het by soveel dwelmgroepe probeer hulp kry. Daarna het ek gedink tough love gaan help. Later het ek weer gevoel dit dryf hom net weg. Toe het ek hom probeer motiveer en suksesstories van ander verslaafdes vir hom aangestuur.

“Jy veroordeel jouself. Dis nie eers nodig om die kind te veroordeel nie, want my kind het homself só veroordeel.”

’n Bewoë Taylor neem ’n oomblik voor sy weer praat. “Dis maklik om te sê jy is lief vir jou kind as dit goed gaan.”

Taylor vertel sy voel haar kind is ’n ongeregtigheid gedurende sy lewe en ook in sy dood aangedoen. Sy hoop nou om hoop aan ander dwelmverslaafdes te bring wat vanaf hul ouerhuise vlug.

“My kind se situasie is nie uniek nie.” sê Taylor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.