Pa skiet seun per ongeluk by wapenskou

Dag 1 van HuntEx2014 by Gallagher Estate Foto: HuntEx, Facebook

Dag 1 van HuntEx2014 by Gallagher Estate Foto: HuntEx, Facebook

ʼn Pa het Maandag tydens die jaarlikse HuntEx-ekspo by Gallagher Estate in Midrand, Gauteng, sy agtjarige seun geskiet.

Adriaan Woudstra, organiseerder van HuntEx2014, het in ʼn verklaring gesê ʼn besoeker en sy twee jong seuns is na die badkamer en was saam agter ʼn afskorting in die badkamer. “ʼn Skoot het per ongeluk afgegaan en die seuntjie is getref,” het hy gesê. Woudstra het verduidelik dit is die man se persoonlike vuurwapen.

“Paramedici het dadelik die seun behandel en hom op die toneel gestabiliseer,” het Woudstra bygevoeg. “Die kind en sy gesin is in die ambulans na die naaste hospitaal geneem.

“Die seun is kritiek beseer en is na die Carstenhof-hospitaal geneem,” het konst. Matomi Tlamela, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. Tlamela het gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van die nalatige hantering van ʼn vuurwapen.

“Die pa het aangedui die kind is buite gevaar en geen lewensbelangrike organe is beskadig nie,” het Woudstra gesê. “Die seuntjie ontvang verdere behandeling in die hospitaal.”

Hy het dit benadruk dat streng maatreëls by die vuurwapenskou van toepassing is. “Alle uitstallers voldoen aan die wetgewing soos vervat in die Vuurwapenwet,” het hy verduidelik. “Die polisie se sentrale vuurwapenregister (CFR) reik tydelike lisensies uit vir die duur van die uitstalling. Beamptes van die CFR was tydens die skou op die perseel en het verseker dat alle wetgewing nagekom word.”

Die CFR-beamptes het glo ook twee stalletjies beman en het die Midrand-polisiestasie bygestaan met hul ondersoek na die ongeluk.

Die ekspo het gister tot ʼn einde gekom. HuntEx is die grootste ekspo vir jagters en sportentoesiaste op die kontinent en die grootste kleinkaliber-ekspo. Die eerste HuntEx is in 2011 behou. Meer as 35 000 mense het die skou in 2013 bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius Durandr ·

Tydens wapenopleiding moet meer klem gele word op die finaliteit as die skoot afgaan. Woorde kan nog herstel word deur, ek is so jammer, maar wanneer die ronte die loop verlaat kan niks dit regstel of herstel nie, vra maar vir Oscar, of gaan die pa ook se, I never shoot at my boy. Dankbaar die kind het ongeskonde daarvan afgekom.

Maggie ·

Dit kom daarvan as orige pa’s maak of kinders hero’s is as hulle alles kan skiet, ipv hul te leer om respek te he vir alles en amal wat God geskape het.

Mike ·

Wat soek jy met ‘n gelaaide vuurwapen by ‘n skou? Die ou moet verbied word om enigsins ‘n wapen te besit hy het nie ‘n clue hoe om wapens te hanteer nie.

Engela de Klerk ·

My man het op ‘n plaas en met vuurwapens groot geword en het 2 jaar militêre diens gedoen. Hy is vertroud en versigtig met ‘n vuurwapen. Hier in Kanada moes hy intensief eers ‘n kursus deurgaan, aangebied deur afgetrede lede van die Weermag/Polisie, voor hy sy vuurwapen lisensie kon kry. Ek dink mense is hopeloos onverskillig met skietgoed en hoewel my hart uitgaan vir die persoon, dit mag eintlik gladnie gebeur nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.