Pa skuldig na baba se wrede dood

Eugene Plaatjies in die hof. Foto: ANA

Eugene Plaatjies in die hof. Foto: ANA

ʼn Wes-Kaapse pa is Maandag skuldig bevind aan die moord op sy babadaogter van drie maande.

Eugene Plaatjies (25) is ook in die hooggeregshof skuldig bevind op aanklagte van kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy babadogter, Anthonique, is op 14 Junie 2014 in die Rooikruis-kinderhospitaal dood, ʼn dag nadat sy opgeneem is.

Waarnemende regter Nolita Kose het Maandag gesê sy kan nie Plaatjies se weergawe van die gebeure aanvaar nie en het geen twyfel dat hy met opset die beserings op Anthonique toegedien het, wat uiteindelik tot haar dood gelei het nie.

Gedurende die verhoor het ʼn forensiese patoloog, wat die nadoodse ondersoek gedoen het, getuig die baba het verskeie kneusplekke en frakture opgedoen saam met ernstige kopbeserings en snywonde oor haar kop, terwyl haar lewer ook geskeur het, haar ribbes gebreek was en haar long gekneus is. Die babadogtertjie se beserings was beide nuut en oud en sy was “chronies mishandel”.

Volgens die patoloog het die veelvuldige beserings aan haar kop daarop gedui dat haar kop óf teen ʼn muur geslaan is óf dat sy teen die kop geskop is. Die regter het nie Plaatjie se verweer, dat die baba van die bed afgeval en haar kop teen ʼn stoel gekap het, aanvaar nie.

Louise Alkaster (30), die baba se ma, het aan die begin van die verhoor skuld beken op ʼn aanklag van kinderverwaarlosing. Sy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, wat opgeskort is.

Gedurende die verhoor het Alkaster gesê sy is ook deur Plaatjies mishandel. Sy het vertel van verskeie voorvalle toe die baba beseer is terwyl sy in haar pa se sorg was, maar het gesê sy het altyd die pa se verduideliking van die beserings aanvaar.

Net drie weke voor Anthonique se dood is sy by ʼn hospitaal in Montagu opgeneem met ʼn gebreekte arm. Die trauma-dokter wat haar behandel het, het tydens die verhoor getuig dié beserings is skaars by min babas en “ʼn redelike hoeveelheid krag” moes gebruik word om die besering toe te dien.

Plaatjies se ma het ook gedurende die verhoor getuig sy het een dag na Anthonique omgesien toe sy sokkies oor haar hande gedra het. Toe sy die sokkies afhaal, het sy gesien Anthonique se hande was erg gekneus en geswel. Haar voete was ook gekneus. Plaatjies het aan die hof gesê hy het Alkaster se 15-jarige seun met ʼn kierie pakslae gegee en in die proses “per ongeluk vir Anthonique raakgeslaan”.

Alkaster het aan die hof gesê die dag voor haar dogter dood is, was sy buite die huis besig toe Plaatjies haar binnetoe geroep het. Die baba het ʼn stuipe-aanval gehad en is na ʼn hospitaal gehaas. Sy is die volgende dag breindood verklaar.

Twee dae later het Plaatjies Alkaster glo met ʼn mes gedreig en haar aangerand. Een van hul bure het tot haar redding gekom en die polisie ontbied. Alkaster het aan die hof gesê sy het nooit ʼn aanklag teen Plaatjies aanhangig gemaak nie, uit vrees en liefde.

Plaatjies sal op 1 Junie gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Vliegie ·

……dit wat ek wil sê is nie geskik vir sosiale media nie…..arme arme weerlose baba, liewe genade wat gaan aan met die mensdom???

jakes ·

Selfvoldane glimlag die MAN het hoor, gee hom borg asb! 1 voorwaarde, hy moet sterk hier by my huis kom wees.

Andrea van Vuren ·

Lewer hom uit aan die gemeenskap. Die howe vat te lank. Geregtigheid sal dan in gemeenskap geskied! Die Bybel sê jy moet jou naaste liefhê. Hierdie gemors is nie my naaste nie!

muis ·

ek hoop hy word vi lank toe gesluit hoe kan hy sy eie kind so mishandel sy het ni gevra om hier te wees ni shame on you hoop jou gewete pla jou die res van jou lewe ek hoop as jy daar in jou trok sel sit dat jy dink an wat jy aan daai arme baba gedoen het sies vir jou man!!!!!!

Xa ·

Die probleem is dat die ou heel moontlik n psigopaat of iets erger is, en hulle het geen gewete nie.

gesiggie ·

Ek voel dat dai ma nt so skuldg is.sy ht geweet wat die pa doen ma steeds stilgebly….sies vi hle albei….die arme kind het nie nodg ghad om soooo mishndel te word.

Netta ·

Sien in Brittanje is ‘n ma wat haar kind op die wyse vermoor het lewenslank tronk toe gestuur. Die regter het gese sy moet 24 jaar sit. Die Britse kind is ook in 2014 oorlede en die ma is in die week gevonnis. Die ma se vriend het 4 jaar gekry. Mag Mnr Plaatjies ook lewenslank kry.

Hartseer ·

Ek stem, en ek wens dat alle ouers wat aangekla word van mishandeling of as so iets gebeur moet hulle dadelik gesteeiliseer word, mans en vrouens. Hulle vedien nie kinders nie!!

Willemien ·

Hoe kan hy so vermetel wees om so breed te smile na dit wat hy gedoen het? Dis siek. En die arme babatjie se ma behoort ook aangekla te word.

neelsie ·

Mnr Plaatjies, jou swaarkry le nog voor, jou ‘inmates’
het nie genade vir n kindermoordenaar nie.
Mag jy genade by God ontvang…anders!

m ·

Die arme kind. Party mense is ma net nie gemaak om ouers te wees nie.

kwaad ·

Sies sy behoort haar te skaam vir dat wat sy toe gelaat ht . Sy is net so n moordenaar soos die jong

GES ·

Geoordeel aan die meegaande foto van die berig lyk hy heel trots op wat hy gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.