Pa stabiel ná AK47-aanval

James Reed. Foto: Verskaf

James Reed (43), die oudpolisieman wat nou ʼn veiligheidswag is wat Donderdagoggend minstens drie keer, vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer, geskiet is, se toestand is stabiel.

Reed, ʼn inwoner van Polokwane in Limpopo en pa van twee kinders, word in die waakeenheid in die MediClinic Tzaneen behandel ná ʼn mislukte transitorooftog buite Tzaneen.

“James is stabiel en hy het ʼn goeie nag gehad. Sy dokters is besig om hom geleidelik uit verdowing by te bring en hy lyk goed. Hy was Vrydag sterk genoeg om terug te gaan vir sy tweede operasie. Ons wag nou om van sy dokters te hoor oor wat die volgende stappe is,” het Reed se ma, Annette, Maandag aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het vroeër berig Reed is minstens drie keer tydens die voorval geskiet. ʼn Volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Donderdag se skietvoorval het omstreeks 09:30 op die pad tussen Modjadjiskloof en Tzaneen, naby Hoërskool Merensky, plaasgevind.

“ʼn Groep gewapende verdagtes het die geldwa aangeval en verskeie skote is gevuur. ʼn Veiligheidsbeampte [Reed] is geskiet en gewond. Geen geld is gebuit voordat die verdagtes van die toneel gevlug het nie,” het lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, aan Maroela Media gesê.

Na wat verneem word, het Reed ʼn geldwa in sy persoonlike motor begelei toe die groep aanvallers glo in twee of vier voertuie toegeslaan het. Hy is in sy voertuig vir die eerste keer in die rug geskiet waarna die voertuig tot stilstand gekom het. Die verdagtes het hom glo twee keer in die bors geskiet voordat hulle hom in een van hul motors in gedwing het.

Die aanvallers het met hul motors en Reed se motor agter die geldwa aangejaag, wat toe glo sowat 1 km verder was. Reed se motor het egter naby die hoërskool onklaar geraak en die bestuurder het beheer daaroor verloor.

Die aanvallers het Reed in ʼn stadium uit hul motor in die veld gegooi en glo weer op hom geskiet. Die aanvallers is na bewering afgeskrik toe wagte vanuit die geldwa op hulle geskiet het, waarna die verdagtes met leë hande gevlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TDW ·

Baie dankbaar dat hy stabiel is, sterkte aan die gesin en spoedige beterskap vir jou James. Jy is ‘n yster om dit te oorleef het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.