Pa steeds kritiek ná aanranding buite kuierplek

Louis Pienaar in die hospitaal. Foto: Verskaf

Louis Pienaar (38) se toestand is onveranderd nadat hy glo Saterdagoggend deur ʼn Blou Bul-o.21-rugbyspeler by ʼn kuierplek in die ooste van Pretoria aangerand is.

Pine Pienaar, Louis se pa, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy toestand is steeds stabiel maar kritiek. Hy word weens ʼn breinbesering in die Life Wilgers-hospitaal onder verdowing gehou en is aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel.

“Dit is maar touch and go in dié stadium. Hy het op twee plekke bloeding op die brein. Die dokters wil kyk of sy liggaam self die bloeding absorbeer, anders sal hy geopereer moet word om die drukking te verminder,” het ʼn bekommerde Pienaar gesê.

Maroela Media het vroeër berig Louis, sy vrou, Corryne, en twee kinders, onderskeidelik drie en ses jaar oud, het drie maande gelede geïmmigreer nadat Louis 18 jaar lank in Brittanje gewoon en as rekenaarspesialis gewerk het. Hy het Corryne daar ontmoet en met haar getrou.

“Hulle huur tans ʼn huis in Lynnwood Manor terwyl daar verbeteringswerk aan hul eie huis gedoen word.” Pienaar het gesê Louis en Louis se neef, Christian Cronjé, het Vrydagaand by ʼn kuierplek in die Wilgers-omgewing gaan kuier.

Louis Pienaar saam met sy vrou, Corryne en kinders, Aden en Finn. Foto: Verskaf

Louis en Cronjé het ʼn hegte band en het Vrydag die eerste keer ʼn geleentheid gehad om mekaar ná ʼn lang tyd weer te sien.

“Volgens ooggetuies het die kuierplek so teen 04:00 toegemaak. Louis was nog op die dansvloer toe daar ʼn groep rugbyspelers aangekom het. Soos ons verstaan, het iemand glo aan iemand gestamp, waarna ʼn woordewisseling ontstaan het,” het Pienaar vroeër gesê.

Louis en Cronjé is toe na buite waar die speler hom glo in die parkeergebied “van agter van sy voete af geslaan het”. Die speler het hom glo nog ʼn hou gegee, voor hy saam met mense in ʼn voertuig geklim en weggery het.

Pienaar het verduidelik dat Louis ʼn hartkwaal het en vantevore ʼn kunsmatige hartklep moes ontvang. Hy is van medikasie afhanklik om sy bloed te verdun. Hy het sy bewussyn verloor en is deur Cronjé na die Wilgers-hospitaal geneem waar hy in die waakeenheid opgeneem is.

Kapt. Ilze Jones, woordvoerder van die Garsfontein-polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is aanhangig gemaak en word steeds ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Shanil Mangaroo, woordvoerder van die Blou Bulle Maatskappy, het Maandag gesê die maatskappy kan nie in dié stadium enige kommentaar oor die voorval lewer nie. “Aangesien daar wetlike aspekte betrokke is, wag ons eers vir die ondersoek om sy gang te gaan. Sodra daar meer inligting beskikbaar word, sal ons dit verder hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harambe ·

Niks goeds gebeur so vroeg in die oggend nie. Veral nie waar jong rugbyspelers betrokke is nie.

Buitestander ·

Op die Rugbyveld beteken die “RAMETJIE UITNEK”
niks maar van die veld af het.
Vertou dat hy ‘n gepas

Adriaan ·

Van die veld af beteken die tipe van “man” net iets wanneer hy saam met sy pelle is en die ander ou alleen is. Ek hoop hy kry die swaarste moontlike straf.

HPV ·

Uiters lafhartige daad! Neem die vent in hegtenis en kla hom aan. Sy meelopers ook want hulle kon hom gekeer het.

Sasha ·

Ek glo daar is twee kante van n storie maar realisties gesproke weet ek ook dat een of twee houe geen persoon in hospitaal sit in kritieke toestand nie. Ek is blou bul ondersteuner en ek moet se, as mens so iets lees besef jy net hoe een vrot appel die res van boks affekteer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.