Pa sterf in gyselaarsdrama: ‘Ek sal onthou hoe dapper hy was’

Charlize saam met haar pa Edward.

Charlize Gobey en haar pa Edward Gobey (Foto verskaf)

“Ek sal onthou hoe dapper hy was. Hy het gedoen wat niemand anders wou doen nie. Hy het mense altyd probeer veilig hou.”

Dit is hoe Charlize Gobey (17) haar pa, Edward Gobey (47), onthou nadat hy Woensdag tydens die opspraakwekkende gyselaarsdrama by die The Meadows-kompleks in die ooste van Pretoria doodgeskiet is.

Volgens Charlize het haar pa al vir ‘n geruime tyd by die kompleks gewerk, waar hy eers die voorsitter van die huiseienaarsvereniging was, voordat hy later as die kompleks se veiligheidsbestuurder oorgeneem het. Edward het saam met sy vrou en twee dogters, Charlize en Tyla (13), in die kompleks gewoon.

“Hy het die werk gedoen wat niemand anders wou doen nie en mense was baie keer lelik met hom daaroor. Maar dit is hoe ek my pa sal onthou. Hy het altyd almal veilig gehou, net soos hy my, my ma en my sussie veilig gehou het,” het Charlize gesê.

Edward en Marina Gobey (Foto verskaf)

Edward en Marina Gobey (Foto verskaf)

Charlize het verduidelik haar ouers was al 27 jaar lank getroud. “Sy was baie, baie, baie lief vir hom,” het Charlize aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het vroeër berig Danie Small, een van die inwoners in die kompleks, het Woensdag drie mense in die kompleks doodgeskiet voordat hy later die aand homself om die lewe gebring het. Edward en Jannie Earle is twee van die mense wat deur Small doodgeskiet is. Die derde oorledene se identiteit is nog nie bekend nie.

Nadat inligting op sosiale media begin versprei het dat The Meadows se opsigter en nog iemand doodgeskiet is, het Charlize haar tot sosiale media gewend om vas te stel of haar pa beseer is. Sy het gebruikers op ʼn Facebook-groep gevra of hulle weet wat die name van die oorledenes is en het later ook een van Maroela Media se joernaliste gekontak om uit te vind of die identiteit van die oorledenes al bekend is. Sy het Maroela Media Woensdag omstreeks 17:45 laat weet haar pa is dood.

ʼn Emosionele Charlize het Donderdag vertel haar pa was mal oor kamp, het altyd na Bok van Blerk in sy motor geluister en het graag oor politiek debatteer. “Hy was mal oor nuwe gadgets en het op ʼn stadium ook modelkarretjies versamel,” het sy gesê.

“My pa het elke Sondagoggend voor almal opgestaan en na die BP-vulstasie toe gery, waar hy vir hom en my ma cappuccino’s en vir my en my sussie warm sjokolade en sjokolade-muffins gekoop het. Dan het ons almal op die stoep gaan sit met die twee honde en net gesels oor alles. Daardie oomblik, dít is hoe ek hom sal onthou.”

Lees alle vorige berigte oor The Meadows-skietery op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kaspaas ·

Ongelooflik sad dat daardie nou net herhinneringe moet wees. So so onnodig en so het almal n storie en familie ongeag hulle stand in die samelewing.

Retha ·

Soveel onnodige hartseer deur een siek mens veroorsaak. Mag God hierdie families vertroos.

Pieter ·

So hartseer. Is nou sommer emosioneel. Ek voel die meisie se pyn en hartseer. Jammer meisiekind. Dit is so onnodig. Dis so seer as mens se pa so uit jou lewe geskeur word. Ek wens ek kan die pyn wat jy het en kom net weg vat.
Skryf ek die nou met trane in my oë.

Marianne ·

Sterkte aan Edward se gesin, familie en vriende. Dis uiters hartseer.

Johan ·

Baie jammer vir jul verlies. Klink as of hy die belangrikste werk reg gedoen het, om julle superman, geliefde pa en man te wees. Hy is deel van julle vir altyd.

Elize ·

Dit is verskriklik. Meisiekind, jy moet nou sterk wees vir jou Ma en sussie. Ek weet jy ken ons nie, maar ons is ‘n hele groep mense wat vanaand vir julle gaan bid. Wat ‘n groot tragedie, al my innige simpatie met julle groot verlies!

Ockert ·

Die mense wat lelik met jou pa was, is die eerstes wat na hom roep as iets in hulle tuin ritsel, jou pa was ñ MAN.

J ·

My innige simpatie vir die familie en vriende. Ai so onnodig. En bitter hartseer. Hy het net sy werk gedoen. Mag God julle dra vorentoe

Rieks ·

Baie sterkte aan julle en almal wat ‘n geliefde verloor het met die onsinnige optrede van iemand wat nie geweet het waar om die lyn te trek nie.
Ons lewe vandag in so ‘n “normale – mal” samelewing en weet nie wanneer dit die laaste keer is wat jy jou geliefdes sien nie.
Ons sal moet leer om meer vir mekaar om te gee en te wys hoe ons voel, want met die mal mensdom daar buite weet jy nie wat elke dag vir jou inhou nie.
RIV – mag ons Vader julle almal koester en berusting vir julle bring ;-(

Johannes Meintjes ·

Jammer oor sulke betreurenswaardige situasies onder ons mense. Baie van ons manne sukkel na mening en ondervinding met gesonde perspektief op die lewe na grensdiens of diens in huursoldaat omgewings. Omdat ons nie ‘n volwaardige “Mil Vets” instansies in SA het nie moet die manne self probeer regkom in die samelewing. Dit is dikwels ongelukkig nie geslaagd nie en meer van ons vaardighede en ondervinding gaan tragies verlore, soos in die geval van Small.

Cobus ·

Derde persoon wat geskiet is, is mnr Hannes van der Zwaard. Hy is ook deur die kop geskiet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.