Pa sterf ná hy erg brand

JP en Denise Vorster op hul troudag. Foto: Facebook

JP Vorster (36), wat meer as ʼn maand gelede ernstige brandwonde opgedoen het tydens ʼn veldbrand, is Maandagaand oorlede.

Vorster, bestuurder van die Safari Park-gasteplaas buite Colesberg in die Noord-Kaap, is op 10 September ernstig beseer toe vlamme hom oorval het toe hy gehelp het om ’n veldbrand te probeer blus. Hy is na die Colesberg-hospitaal gehaas waar hy gestabiliseer is voor hy na die Kimberley-hospitaal oorgeplaas is.

Sue-Mari Vorster, JP se skoonsuster, het gesê haar swaer het 54% brandwonde oor sy hele lyf opgedoen en is in die hoësorgeenheid van die hospitaal behandel. “Hy het by tye begin beter lyk en een Sondag so drie weke terug het hulle die buis uit sy keel gehaal en kon hy ʼn paar woorde met sy vrou praat.”

Volgens Vorster het JP egter kort daarna weer ʼn terugslag gehad. “Sy toestand was die laaste week onveranderd en hy het Maandag skielik agteruitgegaan. Hy is Maandagaand omstreeks 21:00 oorlede.”

JP het help vuur slaan sowat 20 km buite die dorp naby die gasteplaas wat hy bestuur toe hulle deur die vlamme vasgekeer is. “Hy het op die bakkie probeer spring, maar gegly en geval. Hy het weer opgespring, maar die vlamme was tussen hom en die bakkie en hy moes deur die vlamme hardloop.”

JP het brandwonde aan sy gesig, rug, arms, bene en ʼn gedeelte van sy maag opgedoen. “Hy is meestal onder verdowing gehou. Sy niere het ook begin probleme gee en hy het dialise gekry.” Volgens Vorster het JP verskeie veloorplantings ondergaan en ʼn tipe fungus aan sy gesig ontwikkel.

“Hulle het vel op sy gesig weggesny en moes sy regteroor amputeer. Die infeksie het nie verder versprei nie, maar daar was nog infeksie in weefsel en hulle het weer geopereer.” Vorster het gesê dit is nog nie duidelik presies waaraan JP oorlede is nie en ʼn nadoodse ondersoek word gedoen om dit vas te stel.

“JP het ʼn lus vir die lewe gehad. Hy het elke ding wat oor sy pad gekom het, aangepak en oorwin. Hy het altyd tyd gehad vir almal om hom en was almal se vriend gewees.” Huldeblyke het ook op sosiale media ingestroom ná JP se dood.

JP en sy vrou, Denise (25), is in April vanjaar getroud en het ʼn dogtertjie wat in Desember twee jaar oud word. “Ek is so oneindig baie lief vir jou en ek het vandag gesien eintlik hoeveel mense se lewens jy geraak het. Maak my nog meer trots om jou my man te noem! Jy het my soveel dinge geleer en hoe om op te staan vir dinge waarin mens glo en vir mense vir wie jy omgee. Weet jy gaan altyd hier saam ons wees en oor ons meisiekind waak! Jy is die beste pappa ooit! En my rots! Dis erg leeg sonder jou, maar jy maak ons harte so vol van liefde! Lief jou my Lelie. Ons dans eendag weer!” het Denise op Facebook geskryf.

Vorster het die familie se dank uitgespreek teenoor die hospitaal en sy personeel. “Hulle het alles gedoen wat hulle kon en het vir JP baklei. Hulle het geen moeite of onkoste gespaar nie.”

JP laat benewens sy vrou en dogtertjie, sy broer en ma agter.

Begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

MERAAI ·

RIV – Sterkte aan familie en vriende dis nou n moeilike tyd om deur te gaan,sterkte julle is in ons gebede.

CK ·

Sterkte vir sy vrou, dogtertjie en die familie. ‘n Hero in my oë.

Annie ·

RIV – My innige simpatie aan sy vrou, dogtertjie en familie. Dink aan julle.

SUE ·

Ai my ou maat – die wereld is werklik n lee plek nou sonder jou! In my lewe nog nooit iemand gehad wat my so kon laat skaterlag enige tyd van die dag nie…. en wie se hande nooit verkeerd sou staan vir enige iets nie…. jy was n LEGEND! Sterkte Denise , Fanie, en die hele gesin. My gebede is met julle.

Soekie ·

Het vir JP geken as skoolseun…altyd vriendelik, altyd behulpsaam en ‘n lekker rugbyspeler. Niks was ooit te veel vir hom nie. Al ons simpatie vir sy vroutjie en hul ou dogtertjie, onthou altyd net die mooi, en hy waak oor julle. Voorspoed ook aan sy ma Ria en boeta Fanie. Ons bid vir julle elke dag. Sag rus JP.

Chris du preez ·

Dis n groot skok. Ons het daar oorgeslaap toe ons kaap toe was en ook toe ons terug gekom het. Hy was regtig n baie aangename seun. Ons innige simpatie aan sy familie.

Michelle ·

Hy het ‘n held gesterf, God pluk die mooiste blomme vir Sy tuin. My innige meegevoel aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.