Pa sterf ná ongeluk op R101

Charmain en Bertus Robbertse het tot aan die einde by Lampies gesit en sy hande vasgehou (Foto: Verskaf)

“Rus sag my kind, jy het so dapper baklei. Ons gaan jou elke dag mis.”

Só sê Charmain Robbertse nadat haar seun, Lambertus (35), sy laaste asem Vrydagoggend in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria uitgeblaas het. Dié pa van Pretoria het die afgelope vyf dae hard baklei om te oorleef nadat hy en sy gesin die afgelope naweek in ’n ernstige motorongeluk betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig Lambertus (Lampies) se liggaam is byna vergruis toe ʼn ander voertuig hul gesin se motor op die R101 (ou Warmbad-pad) getref het. Die polisie ondersoek die ongeluk aangesien die bestuurder van die ander voertuig glo dronk was.

Hoewel Lambertus aanvanklik goeie vordering begin maak het, het sy toestand sedert Woensdag vinnig begin agteruit gegaan. Hy het stuiptrekkings gekry en heeltemal afhanklik van die ventilator geraak, aangesien hy nie meer self kon asemhaal nie. Die suurstoftoevoer na sy brein was ook beperk.

Charmain sê hy was teen Donderdag totaal van masjiene afhanklik en sy hart was die enigste orgaan wat nog selfstandig gefunksioneer het.

Lambertus is ook die pa van Mikayla Robbertse (14) wat op 19 Desember 2011 in haar bed in Lephalale, Limpopo, deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is (Foto: Verskaf)

“Die dokters het ons laat weet om voor te berei op die ergste. Lampies was moeg baklei. Ons wou dit nie aanvaar nie en het steeds onophoudelik gebid,” vertel Charmain.

Charmain en haar man, Bertus, is Vrydag omstreeks 01:00 na die hospitaal ontbied met die boodskap dat Lambertus “nie goed doen nie”. Sy en Bertus het gejaag om Lambertus se swanger vrou, Riekie, en sy dogters, Luzandra en Mikayla, op te laai sodat hulle hom ook kan groet.

“Ons het tot omtrent 03:00 by Lampies gesit. Hy was nog redelik stabiel, maar sy hartklop het stadig begin afneem totdat dit heeltemal gestop het. Teen 04:00 is die dokters ingeroep en het hulle een laaste poging aangewend om sy hart aan die gang te kry. Dit was ʼn angswekkende gesig en ek en Bertus kon net magteloos staan en toekyk.

“Hy is ʼn paar minute later in vrede oorlede, terwyl ek en Bertus sy hande vasgehou het. Ons het daarna rustig afskeid van hom geneem, maar ons harte het by ons kind in daardie kamer agtergebly.

“Hoe moet ons aangaan met ons lewens terwyl ons harte uit ons bors geruk is? En dit oor een man wat nie aan die gevolge van sy dade gedink het nie en ’n familie se mat onder hul voete uitgeruk het.”

Lambertus word oorleef deur sy vrou, Riekie (33), wat sewe maande swanger is, en hul dogter Luzandra, wat 18 maande oud is. Riekie en Luzandra was ook in die ongeluk betrokke. Riekie en die egpaar se ongebore baba het ongedeerd daarvan afgekom en Luzandra het minder ernstige beserings opgedoen.

Lambertus is ook die pa van Mikayla Robbertse (14) wat op 19 Desember 2011 in haar bed in Lephalale, Limpopo, deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is. Maroela Media het vroeër berig haar middelvinger aan haar linkerhand moes geamputeer word weens die gif wat haar spierweefsel gevreet het. Sy was toe maar vyf jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

sterkte aan al lampies se familie
soos net nog ‘n geval wat meestal gebeur, die polisie, speurder wat die saak moet ondersoek gaan droogmaak en dan is al die bewyse van ‘dronk” nie daar nie en die “ander” man word nie eers oor die vingers getik nie, want sy kleur kan nie in die nag gesien word nie

Misky

Dit is vreeslik hartseer. Sterkte aan die familie en in besonder sy ouers. Hoop daai skuldige word vinnig aangekla en boet vir sy dade, al kan dit nooit weer vir Lampies terugbring nie. Sterkte aan almal

Mel

Rus sag by Jesus, baie sterkte aan sy naasbestaandes!

Cindy

SO JAMMER :(

Swerwer

Dit is so hartseer. Sterkte aan sy vrou en die familie.
Ek bid en glo dat die skuldige aan die pen gaan ry wat besope in jul
motor vasgery het.