Pa sterf skielik op Kersdag

Danie Nel. Foto: Verskaf

Danie Nel. Foto: Verskaf

ʼn Pa van drie van Gordonsbaai in die Wes-Kaap is op Kersdag skielik oorlede enkele dae nadat hy begin siek voel het.

Danie Nel (39) is in die Tygerberg-hospitaal dood nadat hy met breinvliesontsteking gediagnoseer is. Nel was getroud en die pa van drie jong kinders.

Gina Nel, Danie se skoonsuster, het aan Maroela Media gesê Danie se ma, Annette, wat in Pretoria woon, het op 23 Desember vir die laaste keer met Danie gepraat. “Danie was die hele week siekerig, maar net ʼn bietjie lyfseer en so. Hy het gedink hy het dalk verkoue by sy seuntjie aangesteek wat vroeër die week siek was,” het Gina gesê.

“Vrydag het hy vir my skoonma gesê sy kop is baie seer, maar hy het pynmedikasie wat hy sal drink. Toe my ma omtrent 22:00 die aand hom weer SMS, het hy laat weet hy gaan nou slaap, want sy kop is steeds baie seer en die medikasie wil nie die hoofpyn breek nie. Dit is die laaste keer dat ons iets van hom gehoor het.”

Volgens Gina wou Annette die volgende dag weer vir Danie bel om te hoor hoe hy voel, maar sy foon was afgeskakel. Sy vrou kon ook nie telefonies bereik word nie. “Ons het gewonder wat aangaan en aanhou probeer om hulle in die hande te kry, maar tevergeefs,” het sy gesê.

Sondagmiddag het Danie se skoonpa vir Annette gebel om haar in te lig dat Danie in die hospitaal opgeneem en met breinvliesontsteking gediagnoseer is. “Ons is nie seker wanneer hy opgeneem is nie, maar ons neem aan seker Saterdagoggend. Danie se skoonpa het gesê hy word na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas,” het Gina gesê.

Omstreeks 17:00 het ʼn familielid telefonies met Danie se dokter by Tygerberg gepraat, wat hulle ingelig het dat hy ongeveer ʼn uur vantevore oorlede is. “Dit het so vinnig gebeur en ons verstaan nie regtig hoe nie. Volgens die nadoodse ondersoek was die oorsaak van sy dood ‘cerebral herniation’ en ons neem aan dit is deur die breinvliesontsteking veroorsaak.”

Danie Nel. Foto: Facebook

Danie Nel. Foto: Facebook

Hoewel Danie se vrou besluit het om nie ʼn amptelike gedenkdiens vir hom te hou nie ter wille van hul kinders se emosionele welstand, het die res van die familie besluit om wel vir hom ʼn gedenkdiens in Pretoria te hou. “Hy het nog baie van sy ou skoolvriende hier en mense wat naby aan hom was, so ons wil graag iets doen om sy lewe te gedenk,” het Gina gesê.

Danie het voorheen by die JD-groep gewerk voordat hy en sy gesin ʼn paar jaar lank in China gaan woon het. Sedert hul terugkeer na Suid-Afrika sowat ʼn jaar gelede het die egpaar ʼn sakeonderneming in Gordonsbaai gekoop en bedryf.

“Danie was nog altyd ongelooflik toegewyd aan sy werk. Hy is ʼn regte werkesel en het altyd alles vir sy werk gegee. Hy was ʼn ernstige mens met tye, maar het ook ʼn goeie sin vir humor gehad. Hy kon aksente baie goed namaak en sou een van ons altyd bel en met ons gekskeer. Hy kon lekker laf wees en dit is hoe ons hom sal onthou,” het Gina gesê.

“Hy was ʼn wonderlike pa wat ongelooflik lief was vir sy kinders en enigiets onder die son vir hulle sou doen. Ons harte is stukkend, maar ons weet hy is nou in sy ewige tuiste.”

Danie Nel se gedenkdiens sal Saterdag om 11:00 vanuit die Ewige Lig Kerk in Montanapark gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.