Pa sterf toe hy seun probeer red

Storm_see_rotse_golwe_boekevat_ChristoBrits.jpg

Argieffoto: Christo Brits

ʼn Man het op Welwillendheidsdag in die see aan die Wes-Kaapse kus naby Gordonsbaai verdrink toe hy probeer het om sy seun te red wat in die water in die moeilikheid beland het.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het in ʼn verklaring gesê sy Gordonsbaai-bemanning is Dinsdag omstreeks 15:30 na die toneel by Crystal Pools tussen Gordonsbaai en Kogelbaai ontbied.

Omstanders het glo gesien hoe ʼn pa en seun in die water in die moeilikheid beland en hulle het hulp by die provinsiale nooddienste, die provinsiale verkeerspolisie en Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste ontbied. By die NSRI se aankoms op die toneel is ʼn seereddingsboot ook in die water in gestuur om die man en seun te hulp te snel.

Volgens die NSRI het die 34-jarige man van Athlone en sy tienjarige seun op die rotse visgevang toe die seun deur golwe van die rotse af geslaan is. Die pa het ingespring om sy seun te help, maar het self in die moeilikheid beland.

Bemanning op die reddingsboot kon die seun uit die water haal en het tussen die golwe na die pa begin soek. Ná ongeveer sewe minute het hulle die man in die water gesien en hom ook op die reddingsboot gekry. Paramedici van die NSRI het mond-tot-mond-asemhaling op die man toegepas terwyl die boot na die NSRI se basis in Gordonsbaai gejaag het.

Die boot is daar deur paramedici ingewag wat verder tevergeefs probeer het om die man by te bring. Hy is egter kort daarna dood verklaar.

Die seun is in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem om vir skok en sekondêre nie-noodlottige verdrinkingsimptome behandel te word. Beraders is gereël om die man se naasbestaandes by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

22 Jaar gelede het dieselfde gebeur toe ‘n vader sy seun wou red in die Vaalrivier. Die liefde van ‘n ouer vir ‘n kind ken geen perke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.