Pa sterf tragies in tref-en-trap

Barend Viljoen. Foto: Verskaf

Barend Viljoen. Foto: Verskaf

ʼn Gesin van Benoni aan die Oosrand is in rou nadat die pa van ʼn tienerseun Sondagaand in ʼn tref-en-trap-ongeluk dood is.

Barend Viljoen (47) was op sy 125cc bromponie op pad huis toe ná werk toe ʼn motor om ʼn draai in Elmweg, Bredell, hom reg van voor getref het. Valerie, Barend se vrou, het aan Maroela Media gesê dat ʼn vrou wat in die straat bly, die slag gehoor en uitgehardloop het.

Die motor het glo weggejaag voordat iemand die registrasienommer kon afneem. “Die vrou het gesê Barend het in die pad gelê en het gladnie gepraat of beweeg nie. Hy het net ʼn paar keer asem gehaal voordat sy oë glaserig geword het,” het sy gesê. Hy is op die toneel dood verklaar.

Valerie het gesê sy het omstreeks 14:00 die middag vir die laaste keer met Barend gepraat. “Hy het vir ʼn veiligheidsmaatskappy in Isando gewerk en sou die aand net ná 18:00 weer by die huis wees. Toe het hy nooit huis toe gekom nie,” het sy gesê. “Ek dink nie dit het my al regtig getref nie. Ek het amper nog gladnie gehuil nie. Ek dink as ek hom eers sien, sal ek regtig besef wat gebeur het.”

Volgens Valerie word ʼn nadoodse ondersoek nog gedoen en sal die familie begrafnisreëlings tref sodra die ondersoek afgehandel is. Die egpaar het ‘n 14-jarige seun, Brandon.

Intussen het die bestuurder van die motor homself Dinsdag in die teenwoordigheid van sy prokureur by die Crystal Park-polisiestasie gaan oorgee. Maroela Media verneem ʼn saak van strafbare manslag is geopen, maar die bestuurder is nog nie in hegtenis geneem nie.

Die woordvoerder van die polisiestasie kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ghost ·

BoereBikeBaby mens wonder nogal. Ek ry ook elke dag motorfiets werk en huis toe, en is al hoeveel keer uit die pad gedruk. Hulle voel net n vere.

CHRISTA ·

Ongeag watter voertuig jy op ons paaie gebruik, jy is NOOIT veilig nie. Selfs wanneer jy probleme by die metropolisie aanmeld ignoreer hulle jou soos ‘n stopstraat!!! Ek het 4 weke gelede ‘n problem by 2 groepe polisiebeamptes probear aanmeld maar NIEMAND wou na my luister nie en 4 dae daarna is my motor AFGESKRYF!! PRYS DIE HERE ek het ongedeerd daarvan afgekom!! Die metropolisie is net geinteresseerd in boetes – dis net ‘n groot geldmaakbesigheid vir hulle!!!

leo ·

Ai… oom braam het altyd net goed probeer doen vir hom en sy familie. Bid vir sy familie en vriende. Begrafnis is saterdag 11uur. Die hardseer feit is dat die man wat hom gestamp het skot vry van alles gaan weg kom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.