Pa, stiefma vas vir seun (17) se huurmoord

hof-hamer

Argieffoto.

Vier verdagtes het vandeesweek in die Thaba Nchu-landdroshof in die Vrystaat verskyn in verband met die moord op ʼn 17-jarige seun.

Teboho Chris Molatole (45), die seun se pa, en Monkie Kelebogile Molatole (48), die seun se stiefma, is twee van die verdagtes wat in verband met die moord op Kearabetswe Leteana in hegtenis geneem is.

Volgens sers. Martin Xuma, woordvoerder van die polisie, word daar beweer die twee het saam met Mampho Ranthimu (52) vir Kgwediyamorena Sefuthi (31) van Lesotho gehuur om hul seun te vermoor.

Volgens Xuma het die voorval op 5 April 2017 plaasgevind.

“Kearabetswe het omstreeks 19:10 ná sokkeroefening by die huis in Gladstone Trust in Thaba Nchu aangekom en in sy kamer gelê en ontspan toe ʼn onbekende man die kamer ingekom, hom een maal in die bors geskiet en daarna van die toneel gevlug het,” het Xuma gesê.

ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak en die pa, stiefma en 52-jarige man is op 4 Januarie vanjaar in hegtenis geneem in verband met die moord op die seun.

Sefuthi is ʼn dag later in hegtenis geneem.

“Die pistool wat glo tydens die pleeg van die misdaad gebruik is, is in die vermeende huurmoordenaar se besit gevind. Dit is sedertdien vir ballistiese toetse gestuur.”

Die motief vir die moord is in dié stadium nog onbekend en sal deel uitmaak van die polisieondersoek.

Die saak is uitgestel en sal weer op 18 Januarie voorkom wanneer die verdagtes na verwagting formeel om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JA hoor ·

Maar die saak kry glad nie soveel aandag soos die Trekker saak en Doodskis saak nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.