Pa, twee kinders dood ná hulle bone eet

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Twee mense is in hegtenis geneem nadat ʼn pa en twee van sy kinders dood is en nog ʼn kind in die hospitaal opgeneem is nadat hulle bone geëet het.

Die ma en tannie van die twee kinders wat dood is, is in hegtenis geneem in verband met die voorval wat buite Bethlehem in die Vrystaat plaasgevind het.

Die pa en drie kinders het Woensdagoggend die bone geëet waarna die kinders skool toe is. Hulle het kort daarna van maagpyn begin kla en is na ʼn nabygeleë kliniek geneem. Twee van die kinders, 10 en 14 jaar oud, is kort ná hul aankoms by die kliniek dood verklaar. Hul 11-jarige sibbe is in ʼn hospitaal opgeneem.

Die pa van die kinders is ook na ʼn hospitaal geneem en is met sy aankoms dood verklaar.

Volgens dr. Tate Makgoe, LUR vir onderwys in die Vrystaat, was die kinders leerders aan die Utopia-plaasskool buite Bethlehem. Hy het bevestig die kinders se ma en tannie is in verband met die voorval in hegtenis geneem en dat hulle vandag in die Bethlehem-landdroshof sal verskyn.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek die omstandighede rakende hierdie aaklige voorval,” het Makgoe gesê. “Die departement van maatskaplike ontwikkeling in die provinsie sal berading aan die familie van die oorledenes, asook die onderwysers en leerders van die Utopia-plaasskool verskaf.”

Makgoe het ʼn beroep om hulp gedoen sodat die pa en kinders ʼn ordentlike begrafnis ontvang.

“Ons is baie hartseer oor dié ontydige sterftes en wil ons meegevoel oordra aan die familie wat hul kinders op dié tragiese wyse verloor het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Perdeby ·

Gelukkig is dit nie weer die bone se skuld soos die 2 min noodles nie, en daardie ouers het weg gekom met moord, want die kinders is veras en geen bewyse nie.

Marthsu ·

Die artikel laat dit klink asof die bone hulle doodgemaak het? Miskien eerder vergiftigde bone?

Miskruier ·

Dalk onwettig verkry. Baie sade word in gif geweek voor hul geplant word.

Chantel ·

Sies man, ek weet wragtig nie hoe mens so iets kan doen nie

Janc ·

Ag nooit…. Wat op aarde gaan aan. Hierdie is nou die hoeveelste geval hierdie jaar. As hulle skuldig bevind word, beter die vonnis ‘n duidelike boodskap uitstuur vir die wat so ‘n wrede daad oorweeg.

Madelein ·

Eintlik kan niks mens meer verbaas of verstom in die land en wêreld van ons nie. Dit is asof die mensdom by die dag al meer sieker word. Mense HET eenvoudig net nie meer n gewete nie. Mag God ons genadig wees!!!

Elize ·

Mense raak desperaat. Daar is nie geld vir kos nie want meeste is werkloos.

Swerwer ·

Genade maar Satan vat oor in hierdie wettelose land van ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.