Pa tydens Hazyview-huisroof doodgeskiet

Argieffoto

Die Mpumalanga-polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om hulle by te staan in hul ondersoek na ʼn voorval waar ʼn jong sakeman van Hazyview en sy gesin in hul huis aangeval en sy pa doodgeskiet is.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê die sakeman (23) is Woensdagaand aangeval nadat hy sy onderneming, ʼn internetkafee, in die dorp toegesluit het.

“Die slagoffer het pas met sy Toyota Tazz by sy huis opgedaag toe hy opmerk ʼn wit Toyota Etios hou agter hom stil,” het Hlathi gesê. “ʼn Onbekende man het op hom afgestorm, ʼn wapen op hom gerig en hom gedwing om stil te bly.”

Die slagoffer het na die huis probeer hardloop, maar ʼn paar meter van die deur af geval. “Skielik was daar vier verdagtes wat almal klapmusse aangehad het. Hulle was met pistole gewapen. Die verdagtes het die jong man aan sy T-hemp gesleep en hom gedwing om die voordeur oop te maak.”

Die slagoffer se ma, suster en vrou het in die sitkamer televisie gekyk. Die aanvallers het die slagoffers gedwing om op die vloer te lê en hulle van hul selfone beroof.

“Van daar af is die verdagtes na die hoofslaapkamer waar die sakeman se 54-jarige pa op die bed gelê en televisie kyk het. Een van die verdagtes het die pa doodgeskiet en sy 9 mm-pistool gevat wat onder sy kussing was.”

Die verdagtes het met waardevolle besittings en ʼn paar meubels in hul eie voertuig en die sakeman se Tazz van die toneel gevlug.

Die voertuig is later verlate in Shabalala Trust, langs ʼn kuierplek, opgespoor. Die Hazyview-polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Mense met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om ao. Isaac Mashego by 082 492 3189 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nelia Beyers ·

Dit is darem baie toevallig, dat daar weer vyf verdagte met klapmusse is, net soos die moord in Barberton op Vrydag die 7/04/2017 . Daar is baie ooreenkomste hoe die bende tewerk gaan?

aloys ·

in Barbeton was die moord op my landgenoot P van E. Meerdere Nederlandse koerante en die kykbuis het dit vandag reeds berig. Ook dat daar reeds 30 blankes hierdie jaar vermoor is op boerderye en plase. Dat die ernstige misdade nou heeltemal buite beheer raak in Suid-Afrika en die regering daar te min aandag aan bestee. Maar wat kan ons hier doen met die berig? Bewoners sal hulle self beter moet beskerm , daar is nie een ander oplossing nie.

anton ·

Hoe het hulle geweet die pa se pistool is onder sy kussing?
Inside info???
En hoekom hom net summier dood skiet? Was hy dalk geteiken oor iets?

Tomas ROLend ·

In Suid Afrika, is dit n baie algemene plek om een of ander wapen te he onder jou kussing, matras of bed. En die teiken klink vir my of jy bietjie baie stories kyk, dis SA, hier word mense gemoor vir n vetkoek en R5.

Denker ·

Loop verby jong man en skiet sy 54 jarige pa? Iets sê vir my dis omdat die ouer man nog militere opleiding in die SAW gehad het. Goeie opleiding gehad daardie tyd!

Trevel ROLies ·

So goed opgelei sy geweer is onder sy kussing? Denker nogal.

Grotman ·

Huisroof altyd Huisroof! Steel n kar maar los dit op n plek. Vat ietsie hier en daar om dit te laat lyk soos huisroof maar ek se vir julle, hierdie is baie meer as wat dit toon om te wees.

Bothma ·

Die land is 3de wereld……bring doodstraf terug ten minste. Ex Sa in NZ.

jchaan ·

Die informasie in die korant is nie akuraat nie.Ek was op die toneel en was by die voertuig waar hy terug gevind is deur die “tracking” maatskappy.Die fotos op my foon vir n begin kan bewys dat die seun se voertuig n silver polo was en nie n tazz soos beweer word nie.Die mense moet hul feite agter mekaar kry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.