Pa van sewe doodgeskiet toe hy seun probeer red

Anton Janse van Rensburg. Foto: Verskaf

Anton Janse van Rensburg. Foto: Verskaf

Anton Janse van Rensburg, ʼn sakeman en pa van sewe kinders, is Woensdag in Drie Riviere in Vereeniging, naby die huis waar sy gesin skaars twee weke gelede ingetrek het, deur gewapende rowers oorval en geskiet.

Maroela Media het in Maart oor die Janse van Rensburg-gesin berig toe Anton (52) en sy vrou, Carin, ʼn jare lange Dawid vs. Goliat-hofsaak teen die Gautengse departement van onderwys  gewen het nadat hul dogtertjie, Chanté, op agtjarige ouderdom op 22 Julie 2008 in raaiselagtige omstandighede by haar laerskool geval het. Die besering het haar lewe handomkeer verander. Lees meer hier.

ʼn Gebroke Carin het Vrydag aan Maroela Media gesê sy en Anton, wat ʼn groot kleuterskool in Drie Riviere bedryf, was Woensdag by die skool toe hulle ʼn oproep van een van hul seuns, Enrico (8), se onderwysers kry om te sê hy is siek en hulle moet hom kom haal.

“Anton het Enrico by die skool gaan haal en by die huis in die sorg van ons twee huiswerkers gelaat. Hy was skaars terug by die kantoor toe een van die huiswerkers benoud bel en sê daar is mense in die erf by ons nuwe huis,” het Carin gesê.

Carin verduidelik dat hulle al lank in Drie Riviere woon en aanvanklik die kleuterskool op ʼn gedeelte van die erf bedryf het, maar na hul nuwe huis verhuis het om die ou huis in die kleuterskool te omskep.

“Omdat ons nog net twee weke daar woon, het ons nog nie ʼn alarmstelsel geaktiveer nie. Ek en my man en ʼn kollega van my het omstreeks 11:17 in twee afsonderlike voertuie na die huis gejaag. My man was voor my daar. Toe ek daar aankom, het ek ʼn wit voertuig in ons oprit gesien. Die kattebak het oopgestaan en ons kluis was daarin.”

Sy het gesê in daardie stadium het vier mans uit die huis gehardloop en vier skote op Anton gevuur, terwyl hy in sy bakkie was. “Hy het vir my gewys ek moet ry sodat ons kan wegkom. Ons woon in ʼn doodloopstraat en daar is nie plek om om te draai nie, so ek het heeltyd agteruit gery en Anton het my nog gevolg terwyl die mans agter hom aangehardloop het.”

Die mans het Anton se bakkie by ʼn stopstraat ingehaal waar hulle drie skote op hom gevuur het. Een koeël het hom in die bolyf getref. “Ek het net gesien my man se kop sak, toe jaag ek weg om my kollega te beskerm.”

Sy het om ʼn blok gery, die polisie en ʼn ambulans probeer ontbied en is terug na die plek waar haar man geskiet is. Die verdagtes en hul motor was toe reeds weg.

“Hy het nog gelewe toe ek by hom kom. Daar het bloed by sy rug uitgestroom. Hy het vir my gesê hy weet sy tyd is verby. Hy het vir my gesê hoe lief hy my het en dat ek mooi na sy kinders moet kyk,” het sy huilend gesê.

Carin het gesê sy, haar kollegas asook van die ouers wat sy deur WhatsApp om hulp gevra het, het almal tevergeefs probeer om ʼn ambulans of die polisie na die toneel te ontbied. “Een hospitaal het gesê hulle het nie ambulanse nie, en by ander nommers wat ons geskakel het, moes ons net heeltyd aanhou. Ek was histeries en het toe self na die Midvaal-hospitaal, sowat 8 km van daar af, gery terwyl my kollega by Anton gewag het.”

Sy het gesê toe sy by die hospitaal stop, het sy ʼn ambulans gesien en om hulp gesmeek, waarna die ambulans sowel as ʼn polisiemotor haar na haar man vergesel het.

“ʼn Tweede ambulans was kort daarna by die toneel en die paramedikus het hom behandel en ʼn helikopter ontbied.”

Anton is met die helikopter na die Unie-hospitaal in Alberton geneem en het omstreeks 17:00 aan sy beserings beswyk. “Die koeël wat hom getref het, is deur albei longe en het ook sy rugstring gebreek. Sy hart het uiteindelik gaan staan, want hy het te veel bloed verloor. As ons net vinniger hulp kon kry, kon hy dalk nog by ons gewees het.”

Carin het gesê haar huiswerkers en Enrico is erg getraumatiseerd. “Die mans het die huis se deur oopgeskop en die huiswerkers in die slaapkamer aangehou, terwyl Enrico vir hulle moes uitwys waar die kluis en ander waardevolle items is. Toe hulle klaar is, het hulle al drie op ons bed laat lê en gesê hulle moet ʼn kussing oor hul koppe sit, want hulle gaan vir ewig slaap … en dit is toe dat ons daar aangekom en hulle onderbreek het.”

Volgens wat Carin kan vasstel, is die groep weg met hul kluis met vuurwapens en juwele, skootrekenaars, tabletrekenaars en ʼn DVD-speler. Hul televisiestelle het buite die huis gelê.

“Anton was my alles, my oggend en aand! Hy was die beste eggenoot en pappa in die wêreld, ʼn ongelooflike inspirasie vir ons almal. My man, die lewe is so onregverdig. Ons het jou so nodig. My liewe dierbare man, ek en die kinders gaan jou ongelooflik baie mis, waai asseblief uit die hemel vir ons en wys ons asseblief dat jy oukei is. Ons kosbaarste besitting is van ons weggeneem,” het Carin emosioneel gesê.

Anton laat Carin, sy seun Marco (28), dogter Chanté (15), dogter Rulyn (12), seun Enrico, seun Tegan (7) en tweelingseuns, Jayvan en Blake (2), agter.

Sy begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Alfie ·

Ek DINK dit was “pay back time” Kyk hoe moes Greame Joffe vlug uit DIE land nadat hy begin het om bedrog oop te vlek

franscois ·

Dis hartseer om die van goed te lees, dis eerlike opregte mense wat altyd tweede kom,sterkte aan die julle, ek wens hierdie lafards die ergste toe!

petro ·

Dit is uiters hartseer en tragies die moorde kan regtig nie so aanhou, baie sterkte aan sy vrou en kinders

Eliza-beth ·

Ag liewe hemel… ek het nie woorde nie! My innige simpatie met hierdie arme, arme mense. Ek dink almal wat hier lees sal jul in hul gebede en gedagtes opdra. Baie, baie sterkte vir jul almal.

Ronel ·

Nee! Nee! Nee!!!!!! Hoeveel nog en dit vir n paar aardse goed. Mag die vrede en beskerming van God jul hierdeur dra. Sterkte en mag geregtigheid geskied.

Limpopo ·

Agg Liewe Vader dis vreeslik hartseer. Ek voel skoon die seer hier in my bors. Bid uit my hart vir vertroosting vir hulle .Die arme kindertjies is ook meeste nog so jonk.

corine ·

Dit is regtig tragies van ons ambulanse dienste, hospitale… hoekom altyd n rede he vir n geval…. Oom Anton was n ware man wat altyd by sy vrou en sy kinders gestaan het. hy het nooit iemand seer gemaak nie hoekom hy… ek wens tannie Carin en die kinders alle sterkte toe ….

Johann Fouche ·

Slegs Sy genade sal ons uit hierdie gemors kan bevry.

Ursula ·

Ja dit is nou die tyd wat die Afrikaner moet kyk na die God van die Bybel alleen vir uitkoms. Menslike hulp gaan nie help nie.

FM ·

En as ek nou sê die moordenaars is nie witmense nie, dan plaas maroela nie my kommentaar nie. Nou sal ek weer sê die moordenaars is s…..s. Net soos my kommentaar van die 3 e en 4 e jaar geval by Over De Voor in Potch. Ek sê weer: maak oop jul oë. Hoekom skram julle weg van die werklikheid? Dit help nie om nice te wees nie. Ons word uitgemoor. Word wakker. Kom maroela, is ek nou rassisties?

Johannes Meintjes ·

Dit is vir my onduidelik waarvoor ons wag. Ons mense is nie gewapen nie, en tree gedurig reaktief of tot eie skade op. Ons weet mos nou die regering en die samelewing is korrup en vyandig gesind. Ons het geen keuse as om massiewe verbetrede burgerlike beskerminsgstrukture en verbeterde selfverdedingingsoptrede te bevorder, terwyl ons eie “leiers” in organisasies en instansies die milieu skep waarin ons mense hulself kan verdedig en kan funksioneer. Tans kan die vingers net na mekaar en ons eie versuim gewys word.

Peet ·

Hardloop agter ‘n onskuldige mens aan om hom te dood Barbare Barbare Barbare !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.