Pa van Springs-gruwelhuis ‘is psigopaat en sadis’

Die pa in die beskuldigdebank kort voordat die vonnis gelewer is (3 Oktober 2018). Foto: Maroela Media

Die man van Springs aan die Oos-Rand wat sy vyf kinders en vrou jare lank in die sogenaamde gruwelhuis gevange gehou, mishandel, aangerand en selfs sy oudste dogter verkrag het, is ʼn sadis en ʼn psigopaat.

Só het regter Eben Jordaan Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria na aanleiding van ʼn sielkundige verslag gesê toe hy die man en sy eksvrou gevonnis het.

Die man en vrou is intussen geskei sedert hy in Mei 2014 in hegtenis geneem is. Die vrou se verloofde en die man se vriendin was albei vandag in die hof om hul geliefdes te ondersteun. Die beskuldigdes se name kan nie bekendgemaak word nie omdat die identiteit van hul kinders beskerm moet word.

Jordaan het tydens sy vonnisoplegging deur van die getuienis gegaan wat gedurende die verhoor aan die hof voorgehou is. Hy het onder meer uit ʼn verklaring van die ouerpaar se oudste dogter voorgelees wat voorheen by die hof ingedien is.

Dié dogter is nou 20 jaar oud en in gr. 12 in ʼn skool vir kinders met spesiale behoeftes aangesien sy jare lank nie toegelaat is om skool toe te gaan nie. Sy was 16 jaar oud toe die kinders uit hul haglike omstandighede gered is.

Die dogter het in haar verklaring gesê nie haar pa of ma verdien om die ouers van haar of haar broers en susters te wees nie. Sy vertel dat haar ma nooit haar verpligtinge as ouer nagekom het nie en dat sy as die oudste kind na haar jonger boeties en sussies moes omsien en vir hulle ʼn ma-figuur moes wees. “My ma het my niks geleer nie. Alles wat ek weet, het ek van die TV af geleer,” het die dogter gesê.

Sy vertel dat haar ouers haar aan verskeie “seksuele goed” blootgestel het en dat sy geweet het van alles wat hulle as man en vrou doen. Haar pa het haar ook verkrag toe sy 16 jaar oud was. Die dogter sê in haar verklaring sy sal mettertyd haar pa vergewe, maar sy sal nooit kan vergeet wat hulle deurgemaak het nie.

Die pa en ma in die hof. Foto: Mariné Lourens/Maroela Media

‘Hy moet nooit uit die tronk kom nie’

Jordaan het ook gedeeltes uit die verklaring van die ouerpaar se 15-jarige seun voorgelees. Dié kind was 11 jaar oud toe hy daarin kon slaag om in Mei 2014 uit die huis te ontsnap waarna die skokkende gebeure in die gruwelhuis aan die lig gekom het.

Die pa is Woensdag onder meer tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord op dié seun. Die hof het tydens die verhoor gehoor hoe hy die seun aan pilare in die huis opgehang, hom natgespuit en ʼn waaier op hom gedraai het. Hy het ook pepersproei in sy oë gespuit, hom met ʼn blaasvlam gebrand, met ʼn kierie aangerand en met ʼn gaspistool na hom geskiet.

Die seun sê herhaaldelik in sy verklaring dat hy sy pa haat en dat hy nie meer sy biologiese ouers se kind wil wees nie. “Ek noem hulle nie meer ma en pa nie, want ek wil nie meer hulle kind wees nie. Ek haat alles van hom [sy biologiese pa], hy was nooit lief vir ons nie. Ek wens ek kan ʼn ander van kry, want ek wil niks van hom wees nie. As ek kon, sou ek hom self doodgemaak het,” sê die seun.

Hy sê dat iemand eenkeer vir hom gesê het dat hy net soos sy pa lyk en dat dit hom baie kwaad gemaak het. “Ek word kwaad en dan sal ek goed slaan. Ek weet dit is verkeerd, maar hulle maak my net so kwaad.”

Hy sê een van die goed wat hom die meeste van sy kinderjare pla is dat hy nooit geleer is om te lees of skryf nie. Hy sê dat iemand vir hom gesê het hy sal moet kan lees om eendag motor te bestuur en nou weet hy nie of hy ooit ʼn bestuurslisensie sal kan kry nie.

“Partykeer wonder ek hoekom ek nog lewe as ek dink aan wat hy aan my gedoen het. Ek wens daar is mense in die tronk wat hom net so seermaak as wat hy ons gemaak het. Ek hoop hulle slaan hom elke dag in die tronk. Hy moet nooit daar uitkom nie.”

Die ma nadat sy gevonnis is. Foto: Mariné Lourens/Maroela Media

‘Pa het inherente sadistiese aard’

Jordaan het ook aspekte uit ʼn verslag voorgehou wat deur ʼn sielkundige opgestel is wat die pa geëvalueer het. Hy het daarop gewys dat die pa steeds ontken dat hy sy twee oudste kinders so erg aangerand het soos hulle beweer en dat hy ontken dat hy die drie jonger kinders enigsins aangerand het. “Hy beskuldig die kinders dat hulle leuens opmaak in hul getuienis, maar het self nie die moed gehad om voor hierdie hof getuienis te lewer nie,” het Jordaan gesê.

Hy het ook gewys op die pa se bewering dat sy oudste dogter “promisku” was en hom probeer verlei het en dat dit is hoekom hy haar “gestraf” het. “Ek het nog nooit in my lewe sulke onsin gehoor nie,” het Jordaan gesê.

Volgens die sielkundeverslag het die pa se aksies die grense van mishandeling heeltemal oorskry en het hy in werklikheid sy kinders gemartel. Die sielkundige beskryf die pa as ʼn psigopaat met ʼn inherente sadistiese aard en sê weens dié diagnose is dit baie onwaarskynlik dat hy gerehabiliteer sal kan word.

Jordaan het gesê hy het in sy vonnisoplegging in ag geneem dat die ma net so erg deur die man aangerand is – sy is onder meer met die vuis geslaan, met ʼn sambok bygedam en soms nagte lank aan ʼn reëling vasgeboei. Sy was in ʼn spesiale skool, is ongeletterd en was net 20 jaar oud toe sy swanger geword het met hul eerste kind.

Die regter het gesê hy aanvaar ʼn sielkundige se waarneming dat die vrou aan mishandelde-vrou-sindroom ly en meen sy is nie ʼn geskikte kandidaat vir gevangenisstraf nie.

Die ma is vyf jaar tronkstraf opgelê wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie in hierdie tyd aan ʼn misdaad skuldig bevind word nie en dat sy sielkundige behandeling ondergaan vir so lank as wat die sielkundige meen nodig is. Indien sy nie haar samewerking aan die betrokke sielkundige gee tydens haar terapie nie, sal die sielkundige verslag aan die hof moet doen wat dan stappe sal doen.

Die pa is gevonnis tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir verkragting, tien jaar vir poging tot moord, drie jaar tronkstraf vir poging tot regsverydeling, een jaar tronkstraf vir die verhindering van polisiebeamptes om hul pligte uit te voer, 35 jaar tronkstraf op die vyf aanklagte van kindermishandeling, 25 jaar tronkstraf op die vyf aanklagte van kinderverwaarlosing, vyf jaar tronkstraf vir dwelmhandel en drie jaar tronkstraf vir dwelmbesit.

Jordaan het gelas dat van die vonnisse gelyklopend uitgedien sal word en die pa is dus effektief 35 jaar tronkstraf opgelê. Jordaan het ook gelas dat die sielkundige se verslag wat ingedien is rakende die evaluasie van die pa in ag geneem moet word wanneer die pa eendag vir parool aansoek doen.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anoniem ·

Welgedaan!! Moes sommer 120jaar gekry het . Sterkte asn die kinders . Tyd sal beterskap bring

Ongelooflik! ·

Hierdie ma is net so skuldig! Kan nie glo sy kom net so lig daarvan af nie. SLEG!

GM ·

Ek lees nie eers meer hoeveel jaar vonnis vir wat opgelê word nie, ek gaan soek dadelik na die woordjie ‘gelyklopend’. Sulke mense verdien nie om versorg te word in ‘n tronk nie.
Om te dink dat so baie mense ‘issues’ met hul ouers het oor ‘nitty-gritty’ goed, en dan is daar kinders wat deur sulke hel gaan soos beskryf in die berig hierbo.

phillip ·

Sit jou in die ma se skoene ek kry haar jammer sal julle wil praat as jy voor jou HEILIGE SIEL weet jy gaan aangerand word diudelik het dit nog nie met julle gebuer nie of te bang om daar oor tepraat strekte Mamma hoop u word genees dit is hel want jou gedagte speel oor en oor en dit is aaklig genoeg

LH ·

Nee Phillip, geen redelike persoon, sou hulle OOIT is so ‘n situasie inkry nie, en verder is ek vir GEEN mens so bang, dat ek sal stilbly wanneer my kinders verniel word nie!
Geen simpatie van my kant af nie, sy is NET so skuldig. . . sy, het ‘n beter kans gehad as haar 11 jarige seuntjie, om hulp te kry. Sy het nie . . .

Karien ·

Waar hierdie kinders ook nou is, hoop hulle word toegegooi onder liefde en dat hulle darem gehelp word, soos die seun om te kan lees en dat iemand hom sal help om te bestuur as die tyd aanbreek en dat hy teen daai tyd al sal kan lees om die vrae te beantwoord. Hoop net hulle kry liefde en hulp en dat hulle besef hulle is kosbaar en verdien om te lewe en die lewe te geniet. My hart gaan uit na hierdie arme kinders.

Noeks ·

Waarom nie hulle gesigte wys nie, hulle is mos nou skuldig?

Molly ·

Noeks dit is om die kinders te beskerm en ongelukkig of gelukkig die wet waar misdade teen kinders gepleeg is

Michelle ·

Albei daai ouers moes sommer doodstraf gekry het. Albei is ewe skuldig en het al hul kinders se lewens verwoes.
Ek kan my nie indink dat alle sielkundige behandelings ter wereld hul sal kan help nie.
Dis absoluut skandelik.
Kinders is vir ons gegee om ten alle koste te beskerm.
Hul is geskenk van die HERE.

Karlien ·

35 jaar is ‘n goeie vonnis
Hoewel mens die vrou se aandeel bevraagteken klink dit asof die regter sy huiswerk en alle feite uitstekend deurgewerk het en die korrekte vonnis opgelê het.

Sarel ·

Daar bestaan ‘n baie geringe kans dat die kinders ooit heeltemaal van die sielkundige skade sal herstel. Die vrou ( Ma ???) Stap vry uit. Ma is sy nie. Albei alweer in verhoudings???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.