Pa van swanger vrou se kind vas vir moord

Nog ʼn man is Donderdag in hegtenis geneem vir die moord op die swanger Tshegofatso Pule in Junie verlede jaar. Die verdagte is na wat verneem word Pule se voormalige kêrel en die pa van haar ongebore kind.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder van Gauteng, het aan die media gesê die 32-jarige man is Donderdagaand in ʼn huis in Florida aan die Wes-Rand in hegtenis geneem.

Pule (28), wat agt maande swanger was, se liggaam is met steekwonde en opgehang aan ʼn boom in Roodepoort aan die Wes-Rand aangetref. Sy is twee weke vroeër die laaste keer gesien toe sy in ʼn taxi geklim het wat haar destydse kêrel vir haar gereël het. ʼn Week later is die 31-jarige Musikayise Malephane in hegtenis geneem in verband met haar moord.

Volgens News24 het Malephane Vrydag skuld beken op Pule se moord en die hooggeregshof in Johannesburg besonderhede oor gebeure op die dag van haar dood verskaf. Hy is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hiervolgens het hy onderneem om teen haar voormalige kêrel, wat hy as die baasbrein agter die moord geïdentifiseer het, te getuig.

Volgens getuienis wat die hof Vrydag aangehoor het, is die moord deur Pule se voormalige kêrel beplan in ʼn poging om haar swangerskap vir sy vrou weg te steek. Dit moes na selfmoord lyk. Malephane het getuig dat hy saam met dié man op skool was en dat hy hom R70 000 aangebied het om haar te vermoor.

Malephane het Pule op 4 Junie by haar kêrel se huis opgelaai onder die voorwendsel dat hy ʼn Uber-bestuurder is. Hy het “op ʼn donker plek” stilgehou en Pule geskiet. Hy wou dit egter steeds na ʼn selfmoord laat lyk en het na Durban Deep gery, waar hy haar aan ʼn boom opgehang het.

Die drukgroep Not in my Name het die in hegtenisneming van Pule se voormalige kêrel verwelkom en gesê hulle is ook verbly deur Malephane se samewerking met die gereg om te verseker dat die “baasbrein” agter Pule se moord dienooreenkomstig gestraf word.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maggies ·

Die vrou was swanger en hy was bang sy vrou vind uit?
Dit is baie makliker om ‘n voorbehoed middel te gebruik. Waarom in die eerste plek jou vrou verneuk?
Hy verdien meer as lewenslank al was hy net die baasbrein.

Anel ·

Nogal jammer dat die polisie nie so flink optree waar blankes vermoor word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.