Pa van twee sterf terwyl hy doen waarvoor hy lief was

Willem Venter. Foto: Verskaf.

Willem Venter. Foto: Verskaf.

Willem Venter (37), ʼn boorman en plaasbestuurder wat Saterdag op ʼn plaas in Meyerton in Gauteng doodgeskok is, was ʼn hardwerkende gesinsman wat ʼn groot leemte in die gemeenskap gaan los.

Só beskryf Buks Venter (54), familielid en eienaar van die booronderneming en plaas vir wie Willem die afgelope 21 jaar gewerk het, sy neef “wat saam met hom groot geword het”.

“Willem woon op ons plaas saam met sy vrou, Adele, en twee seuns, onderskeidelik 4 en 11 jaar oud, op ʼn gedeelte wat in sy naam geregistreer is,” het Buks aan Maroela Media gesê. “Hy was baie lief vir sy werk en ʼn ontsettende lojale en harde werker. Hy was baie goed in wat hy gedoen het en het nooit gekla nie, al moes hy soms sewe dae ʼn week werk.”

Oor Saterdag se tragedie sê Buks hulle was omstreeks 15:00 besig om boorwerk op die plaas te doen. “Ons was besig om gereedskap oor te laai van een boor na ʼn ander toe Willem ʼn boortoring opgetel het. Die son het in sy oë geskyn en hom verblind en dit was toe dat die boortoring met ʼn oorhoofse kragkabel in aanraking gekom het,” het Buks gesê.

Die impak van die skok het Willem sowat twee meter ver geslinger. Buks het dadelik sy suster, wat naby woon en ʼn verpleegster is, geskakel en begin om noodhulp toe te pas totdat sy by hom oorgeneem het. Paramedici van Netcare 911 was kort daarna op die toneel.

“Hulle het ʼn adrenalien-inspuiting toegedien en alles probeer om sy hartklop aan die gang te kry, maar dit was tevergeefs.” Willem is op die toneel dood verklaar.

Buks het gesê Willem was bekend en geliefde onder inwoners van die gemeenskap en altyd vriendelik en hulpvaardig. “Die ondersteuning van die gemeenskap is wonderlik en getuig van die goeie mens wat hy was. Hy het vir sy gesin geleef en hulle was onskeidbaar.”

Buks het gesê Willem sal Vrydag op die plaas te ruste gelê word. Die diens sal ook daar waargeneem word. “Ons het gereël vir ʼn perdelykswa om sy kis te trek net om dit so bietjie ekstra spesiaal te maak,” het hy bygevoeg.

Willem se diens begin om 11:00 op die plaas Chrissiefontein 365, Impalastraat 16 in Meyerton, uitbereiding 6.

Willem laat sy ma, Tikkie Venter, sy vrou en twee seuns, sy skoonma, Ralie Lutzkie, en sy broer, Neels Venter, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tina du Toit ·

Ag hoe hartseer. Ek het nie woorde nie. My hart breek vir sy geliefdes. Baie sterkte aan die familie.

Johann ·

Ek kan ook maar net sterkte sê aan al sy geliefdes. Julle sal bewus wees van Sy Hand van vertroosting.

Andreas ·

Rus sag my ou maat.jy los n leemte in my hart.Jy was n goeie pel en n yster.

Tollies ·

Sterkte aan die wat sy vrou en kinders + naas bestaandes moet ondersteun woorde help nie ,
Hoop vir almal vrede toe

Elsa Strydom ·

Ai Wilem jy was n mens uniek en enig in jou soort. Ons gan jou geweldig mis en sal altyd daar wees vir die seuntjies en Adel soos jy geweet het ons altyd was. Rus sag Willem…

Theresa ·

Innige simpatie aan die gesin, familie en vriende van ‘n besondere man.

Berny ·

Tragies – al ken ek julle nie Adele, kan ons jou en julle twee seuntjies en al die familie net by Jesus se voete neersit. Net HY bring vertroosting.

Gesiggie ·

Dit ruk aan n mens se hart… en om te kan kyk na die foto” so asof sy laaste groet.. n hardwerkende man wat n passie gehad het vir wat hy doen. As Familie en vriende sal jul hom teer in jul harte hou, en altyd onthou.. Sy tyd op aarde is nou verby.. God het n Boorman kom haal…. omdat Hy gesien het… sy hande staan vir niks verkeerd… Mag jul as Familie en vriende berusting vind.. Jammer vir jul verlies.

Clinton ·

Ai Willem, kan nie glo dat so iets met jou kon gebeur nie. Gaan die tye wat ons saam gekuier het vir ewig koester. rus in vrede ou maat. Jy was seker een van die mees hardwerkende mense wat ek ooit geken het. to ons mekaar weer eendag sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.