Pa van vermiste Noorweër wil sélf leidrade in SA kom opvolg

Marie en haar pa, Atle. (Foto: Facebook)

Die pa van ʼn Noorweegse student wat verlede jaar in Sedgefield in die Wes-Kaap vermis geraak het, glo vas daar is leidrade op haar foon wat lig kan werp op haar raaiselagtige verdwyning.

Marie Ostbo (21) het op 18 April verdwyn terwyl sy saam met ʼn buitelandse studentegroep op dié Wes-Kaapse dorpie vertoef het. Sy het volgens die polisie net ná 18:00 saam met die groep op die strand gaan stap. Sommige studente het Ostbo glo net voor 19:00 laas op die strand, sowat 100 m van waar die groep tuisgaan, opgemerk. Sy was geklee in ʼn paar blou jeans en ʼn wit T-hemp.

Die polisie het destyds haar selfoon, ʼn hoed en skoene op die strand gevind in die omgewing waar sy vermis geraak het. ʼn Uitgebreide soektog het egter geen teken van haar opgelewer nie.

Haar pa, Atle Ostbo, het aan Rapport gesê hy glo dat Sean Kelly, die man wat vroeër in Sedgefield in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy buurvrou, Noreen Hampson, die man is in een van die laaste video’s wat sy dogter geneem het.

Ostbo het volgens Rapport gesê die Noorweegse misdaadondersoekdiens Kripos het sedertdien die wagwoord van Marie se selfoon ontsyfer en video’s en foto’s daarop ontsluit. In een video verskyn ʼn paartjie, twee Switsers wat saam met haar op toer was, asook ʼn man met ʼn hond. Ostbo glo Kelly is dié man met die hond in die video.

Hy wil nou glo sélf na Suid-Afrika reis om leidrade op te volg. Ostbo wou vandeesweek nie verder kommentaar lewer oor die moontlike verwikkelinge nie en het aan Maroela Media gesê hy is bevrees dit kan die ondersoek na Marie se verdwyning belemmer.

Hy het wel op sy Facebook-bladsy geskryf dit lyk of die ondersoek nie “in Noorweë of Suid-Afrika ernstig opgeneem word nie”.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het gesê die ondersoek na Marie se verdwyning duur steeds voort.

“Haar selfoon is vir ontleding aan die Noorweegse polisie gestuur. Volgens die ondersoekspan is geen beeldmateriaal van ʼn man wat met ʼn hond stap, gevind of ingedien nie.

“Daar was tydens haar verdwyning gerugte oor ʼn verdagte man wat op dieselfde dag in die omgewing waar Marie laaste gesien is, met sy hond gestap het. Hierdie, asook ander leidrade én bespiegelings is opgevolg en het niks opgelewer nie.

“Geen bewys of bewysstuk is gevind wat op enige vuil spel dui nie,” het Pojie gesê.

Volgens hom kon die polisie ook geen verbintenis tussen Marie se verdwyning en die Hampson-moordbeskuldigde kry nie.

“Daar is deurlopende kontak met die Noorweegse ambassade en die Noorweegse polisie, wat op hulle beurt direk met Marie se familie praat,” het Pojie gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Meraai ·

wonder ook maar net of ons polisie/speurders baie moeite doen….oor die algemeen

Hendrik van George ·

Nah, SAPS speurders oorlaai met werk, min tot geen bronne. Voel jammer vir buitelanders wat op die gereg moet staatmaak in ons ANC paradys.

Liezl ·

…geen bewys of bewysstukke is gevind wat op enige vuil spel dui nie… Is dit nie genoeg dat sy nooit gevind is nie? Klink vir my na vuil spel

Lia ·

Ek stem saam….en dat haar foon ensv gevind is , maar sy is weg…..geen mens verdwyn net nie!!! Haar arme pa en geliefdes…..

Niklaas ·

So ‘n onverklaarbare verdwyning kan enige ouer knak. Arme pa (en ma) van hierdie meisie.
Dis net vreemd dat dat sy verdwyn sonder ‘n geluid. Mense was mos naby haar met die verdwyning. Dis nogal ‘n raaisel.

HPV ·

Bly weg uit die Midde-Ooste en Afrika met klem op Suid Afrika en bly lewe.

Hanna Hoekom ·

Ek kan glo dat daar nie erns met die saak in Suid-Afrika gemaak word nie. Ons gewone, wetsgehoorsame burgers is dalk al net te gewoond aan geen / treurige bystand tydens misdaad nie. Veral nie as jy die “verkeerde” kleur is nie! Hoop die ouer kry uiteindelik antwoorde.

Lana ·

Stem saam met haar pa. Lankal gewonder wat van haar saak geword het. Bly om te hoor hy kom self ondersoek doen. Mag hy veilig wees in hierdie land…

Anoniem ·

HPV stem 100% met jou saam n lewe in SA beteken asb. niks.

Eddy ·

Ek dink nou sommer aan daai 2 moordgevalle ( op 2 jong dames)in Knysna paar jaar gelede.

Kobie Welgemoed ·

Haar pa moet self kom en ‘n geldjie bring. Vinnig gaan iemand iets onthou. Niemand kan net verdwyn saam met ‘n groep mense nie.

Krewel ·

Beslis misdaad. Gaan my verstand te bowe dat Malcolm Poje volhou met die ‘geen vuilspel’ -storie. Wat sou sy mening wees as dit sy dogter was? Waar dink hy bly ons? In Switserland? Geen verskoning vir hierdie naiwiteit net omdat jou werklading hoog is of jy die makliker uitweg soek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.