Pa van vermoorde kinders het ‘klaar vergewe’

Die Dickason-gesin (Foto: Facebook)

Dr. Graham Dickason sê hy het reeds sy vrou vergewe nadat sy die egpaar se drie jong dogters ’n week gelede na bewering om die lewe gebring het.

“Bid asseblief vir my liewe Lauren, want ek glo ook dat sy ’n slagoffer hiervan is.

“Ek het haar klaar vergewe en ek versoek julle om in jul eie tyd dieselfde te doen … dit is die sleutel tot genesing ná hierdie verlies wat ons almal ervaar het.”

Só lui ’n brief deur Dickason, ʼn voormalige inwoner van Pretoria, wat Donderdagaand gedurende ’n nagwaak in Nieu-Seeland voorgelees is. Honderde mense het buite die gesin se huis in Timaru byeengekom waar die gesinstragedie hom ’n week vantevore afgespeel het.

“Dit is ’n verlies wat ek die res van my lewe saam met my sal dra.

“My woorde is min,” skryf Dickason in sy brief wat deur die Timaru-hospitaal se kapelaan, eerwaarde Alan Cummins, voorgelees is.

Dickason het nie die nagwaak bygewoon nie.

Luidens die brief is sy en Lauren se lewe verlede Donderdag “omgekeer” toe hul “drie kosbare engele van hulle af weggeruk is”.

Maroela Media het vroeër berig Dickason het die betrokke aand ná werk op die liggame van sy drie dogters, Maya en Karla (2), en hul ouer sussie, Liane (6), by hul huis in Timaru afgekom. Lauren, ook ʼn dokter, het intussen in die streekshof in Timaru verskyn in verband met die kinders se moord.

Dickason het in sy brief die gemeenskap van Timaru, die mense van Nieu-Seelanders en sy mede‑Suid-Afrikaners bedank vir hul ondersteuning die afgelope week.

“’My geloof in die mensdom is herstel, ek bedank julle almal.

“Ek kan in hierdie tyd van verskriklike tragedie en teëspoed net vir gebede vir myself, my familie en my vriende vra.”

Hy het onder meer gevra dat die gospel-liedjie “Raise a Halleluja” tydens die nagwaak gespeel word terwyl ’n brief deur Lauren se ouers ook voorgelees is.

“Ons wens ons kon julle nog een keer sien,” skryf Malcolm and Wendy Fawkes.

“Ons sal julle stemme nie meer hoor nie. Niemand sal ooit weet hoe lief ons julle het nie. Julle was die lig in ons lewens en elke minuut saam met julle was pure vreugde.

“Ons harte is gebreek en die trane loop. Ouma Wendy en Oupa Malcolm.”

Die nagwaak is deur die stigter van ’n plaaslike organisasie genaamd Hampers of Hope, Jacqueline Harris, gereël, wat die familie se insette rakende die nagwaak aangevra het.

Die Dickason-gesin het sowat ’n week voor die moorde saam met hulle kroos in Timaru aangekom nadat hulle eers in kwarantyn was met hul aankoms in Nieu-Seeland van Suid-Afrika af.

’n Familielid van Dickason het intussen in Nieu-Seeland aangekom om hom by te staan. Die betrokke familielid moet egter eers verpligte kwarantyn van 14 dae voltooi voordat dié by Dickason sal kan aansluit.

Bronne: Stuff, NZ Herald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Di ·

Sterkte aan die pa en familie van hierdie kindertjies. Mag ons Hemelse Vader julle die krag gee om deur hierdie moeilike tyd te kom. Glo dit is glad nie maklik vir die familie om hierdie tragedie te verwerk nie. RIV kleine engeltjies!

Mariaan ·

Dis groothartig vd Pa…nie seker of ek dit sou kon doen nie…as man en dokter was jy tog bewus van jou vrou se geestestoestand? Nou is jul kinders wreed vermoor…en ja..my hart bloei vir die HELE familie…en mens oordeel nie…dis net so ONGELOOFLIKE skokkende tragedie…die arme kids..wat moes hul deurmaak..DIT alleen sou dit vir my byna onmoonlik gemaak het om net so te “vergewe” …ons kinders is n geskenk van God en ons moet hul beskerm…

Elmarie ·

In vorige berigte is genoem dat sy vir depressie behandel is. Hulle het saam besluit dat sy die behandeling gaan staak omdat hulle bang was dit affekteer hulle immigrasie aansoek. Ongelukkig het hulle gesamenlike besluit hartseer gevolge gehad.

RB ·

Mariaan, dis soos n ware huwelik werk! Sy verlies is ook sy vrou s’n.

As sy skielik anti-depressante moes staak sal sy waarskynlik nie toerekeningsvatbaar wees nie. Sy het dan dus nie beheer oor haar aksies nie.

Duidelik het hy sy vrou onvoorwaardelik lief, soos dit hoort. Hy kan/wil nie haar ook verloor nie.
Saam het hulle lank gewag vir hierdie 3, saam sal hulle lank die verlies moet verwerk. Die pyn sal altyd bly.
Hulle het mekaar nou nodig.
Hy is in jou oë groothartig, jy’s nie seker jy sou vergewe? Nee, hy is n man en pa wat pyn ken èn die genesing wat vergifnis bring. Hy is ook n man wat ware liefde ken.
Hy ken ook die Here God wat hom deur hierdie nagmerrie sàl dra, hulle sààm sal dra.

Graham, ons bid vir jou en Lauren asook jul familie.

Pieter ·

Dis reg RB. Hulle kan altyd weer kinders kry. As hy haar vergewe, wie is ons of die reg om te veroordeel. Hoop sy kom skotvry uit die ding en hulle kan hulle lewe vreudegvol voortsit.

piet ·

So die kinders was nou maar “collateral damage” vir haar issues? Daar’s ‘n verskil tussen vergewe en boet vir misdade. Ek hoop sy sit LANK.

Anoniem ·

PRESIES ook hoe ek voel Piet. Nádat ń persoon behoorlik gestraf is EN daar is opregte berou, kan daar eers vergifnis plaasvind. Ek hoop sy kom eers uit wanneer sy 80 is sodat die geskiedenis NIE herhaal kan word nie.

piet ·

Salome, ek vind dit verbysterend dat sommiges hierdie afgryslike daad eintlik kondoneer deur te dink die mense kan nou maar net voortgaan asof niks gebeur het nie. Hier is 3 onskuldige kindertjies dood mense, hulle lewens is wreed van hulle weggeruk.

Anoniem ·

Absoluut Piet. Ek huil vandag nog saam met my kinders as hulle seerkry. Ek kan geen rede vind om sulke wrede optredes, VERAL van ń MA, te aanvaar of verby te kyk nie. Dit is GRUWELIK!

Malan ·

Sulke ondersteuning is ongelooflik. Dit deur mense wat nue eens die pa ken nie en vir wie dit ‘n vreemdeling in die land is. Wonderlik NZ.

Kobus ·

Dr jy moet n baie sterk persoon wees om so gou te vergewe ons bid vir jou hier van Suid Afrika

Elmarie ·

Ek hoor wat jy se. Maar hulle het tog saam besluit dat sy behandeling staak om seker te maak die immigrasie proses word nie benadeel nie. Ek dink niemand besef regtig waardeer die gesin is die afgelope tyd nie. Ek kry beide die ma en pa ongelooflik jammer.

Elinette ·

Depressie. moontlik nageboortelik. Hulle het alles opgegee, verkoop, van ontslae geraak, NZ toe verhuis = nuwe huis, nuwe buurt, nuwe dorp/stad, vreemde mense, vreemde gewoontes, vreemde kos … alles is vreemd; geliefdes is ver … Drie klein kinders wat Mamma se aandag en alles vereis … plus depressie = resep vir ‘n tragedie soos hierdie.

Snowball ·

Ander nuusbronne beweer sy het haar chroniese medikasie gestaak om aanvaar te word in NZ wat blykbaar streng gesondheidsvereistes het vir immigrante. Tyd sal seker leer, alles sal uiteindelik aan die lig kom soos die saak vorder. Dis onbeskryflik hartseer wat met hierdie familie gebeur het.

Kobus ·

Ek het niks om te vergewe nie dokter want ek het nog nooit geoordeel nie. Dit is nie my plek nie. Sterkte daar,dit is egter prysenswaardig dat die mense daar ‘n nagwaak gereel het. Hier sal so ‘n tragedie deel van die statistiek word en sal almal maar net aangaan. Baie tragies

Perdeby ·

Dit klink of sy ‘n depressie lyer is en vir ‘n baie lang tyd haar medikasie nie gebruik het nie. As jy gewoont is in SA is daar huishulpe wat letterlik alles vir jou doen, en in NZ is jy op jou eie, en ek dink dit het haar gevang.

Toy ·

NZ julle het awesome mense. Baie baie sterkte aan die pa en familie,

Hildegard ·

Wees bly dat jy nog nooit op so ‘n donker en hopelose plek was, dat jy so iets gedoen het nie. Sonder ‘n ondersteuningsnetwerk met 3 klein kindertjies in ‘n wildvreemde land, kan ek jou se dat enige ma tot die ergste beproef word. ‘n Oomblik van waansinnigheid wat dalk oor ‘n lang ruk opgebou het, en nou is haar kinders weg. Mag die Here haar en haar man troos.

TO ·

My trane loop saammet julle, mag Jesus se liefde julle dra in hierdie bittere seer. Ek bid vir julle

Yvonne ·

Ek kan die tragedie nie begryp nie…..niks hiervan maak vir my sin nie……sterkte aan naby familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.