Pa vas ná hy glo ‘dogter se verkragter’ vermoor

Argieffoto

ʼn Pa wat na bewering gehelp het om ʼn man te vermoor wat hy geglo het sy dogter verkrag het, is in hegtenis geneem net om uit te vind dat die “verkragting” nooit plaasgevind het nie.

Kapt. André Beetge, woordvoerder van die polisie, sê die 36-jarige man is Dinsdag in Motherwell in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Die man sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van moord op die 52-jarige Mava Fundakubi.

Beetge verduidelik Fundakubi is Saterdag omstreeks 22:50 ernstig aangerand deur ʼn groep lede van die gemeenskap in Shukushukuma nadat ʼn gerug versprei is dat hy ʼn sewejarige meisie verkrag het.

Terwyl die meisie en haar ma by die Motherwell-gesondheidsentrum was, is Fundakubi in die straat deur ʼn groot groep woedende inwoners aangerand. Hy het op die toneel gesterf.

“Die polisie se ondersoek het egter vasgestel dat daar nooit ʼn verkragting plaasgevind het nie. ʼn Soektog na Fundakabi se moordenaars het begin,” sê Beetge.

Die meisie se pa het homself gister aan die polisie oorgegee. “Hy het beweer dat hy Fundakabi by sy huis gaan haal het en hom in die straat begin aanrand het, waarna ander mense by die aanranding aangesluit het,” sê Beetge.

“Hy is in hegtenis geneem en van moord aangekla, terwyl die polisie tans op soek is na sy medepligtiges.”

Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell-groepering, het gesê dié voorval is weer eens ʼn bewys van hoe verkeerd boendoe-geregtigheid is.

“’n Onskuldige man is doodgemaak deur ʼn gemeenskap op grond van ʼn gerug en daar is nie eers gewag om seker te maak of die gerug waar is nie,” het hy gesê.

“Die mense wat hierby betrokke was, is moordenaars en die polisie sal hulle soos moordenaars hanteer. Ek doen ʼn beroep op die gemeenskap om na vore te kom en hierdie moordenaars te identifiseer sodat hulle voor die hof gebring kan word en aan die pen ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Skuus ·

Sekere karakters dink nie voor hul doen nie. As iets iewers gebeur doen hul mee sonder om te vra wat en hoekom?

Sandra ·

Laat geregtigheid ook asb, geskiet vir die onderwyseres wat geskors is voordat die hele verhaal bloot gelê is.

Anoniem ·

Sandra, ek stem saam en bid saam met ons dat God die Juffrou sal vryspreek ???

Cherokee ·

Miskien is ons almal soort van maklik opsweepbaar. Spur-boikot, kommentators wat in forums kyk watterkant toe die wind waai en dan saam praat of saam skel. Kyk net watter politieke party kry die meeste steun en praat saam en stem selfs so, selfs sonder om feite te raadpleeg; meeste mense moet net so sê. Dit is hoe die ’92 referendum gewen is, dit is hoe dieselfde mense kort daarna total liberaal na die DA gedraai het. Opsweepbaar.

Stripes ·

Die inligting wat gegee word is baie skrams. Hoekom sou die man gedink het dat sy dogter verkrag is en deur wie? Sy of iemand moes dan tog vals inligting vir die pa gegee het? Ek sê nie wat die pa gedoen het is reg nie, nog minder die ander wat help slaan het nie maar as dit my kind was sou ek dieselfde gedoen het.

Snoefie ·

Maar Pierre de Neckers van Belfast MP se moordenaars, bekend aan die sapd, loop nog los! Die ambulans personeel wie maar traag hulp verleen het, is ook nog verbonde aan die hosp

Michelle ·

Ongelukkig is die ‘n baie ernstige probleem in Motherwell en moet hulle die mense aankeer. Jy moet eers jou feite agter mekaar kry voor jy iemand beskuldig. Jy kan nie net soos die mense gaan een se lewe vat wat onskuldig is nie. My innige simpatie vir die oorlede man se familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.