Pa vas ná hy glo met tweeling verdwyn

(Argieffoto: pixabay)

ʼn 37-jarige man verskyn na verwagting Vrydag in die Rustenburg-landdroshof op aanklag van ontvoering nadat hy glo vroeër met sy twee kinders verdwyn het.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die verdagte, die kinders se biologiese pa, en hulle ma het tydens die voorval op verskillende plekke in Rustenburg gewoon.

“Die pa, in ooreenstemming met ʼn oënskynlike reëling, het die kinders in die oggend by ʼn dagsorgsentrum afgelaai, terwyl die ma hulle in die middag opgelaai het. Op die middag van 26 November het personeel die ma ingelig dat die pa nooit die tweeling afgelaai het nie,” het Mokgwabone gesê.

“Nie pogings om die pa te bel of om hom by sy sakeonderneming op te spoor het vrugte afgewerp nie en die saak is by die polisie vir ondersoek aangemeld.”

Lede van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindersbeskerming en seksuele misdrywe in Rustenburg het die man Woensdag in samewerking met lede van die Gautengse misdaadintelligensie-eenheid en die taktiese reaksie-eenheid in Evaton opgespoor en in hegtenis geneem.

Hulle het ook die kinders gevind.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiehoof in Noordwes, het lede van die publiek bedank vir hul samewerking wat gelei het tot die inhegtenisneming van die man en om te help verseker dat die tweeling met hul ma herenig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Riaan ·

Kan ‘n pa sy eie kinders ontvoer? Hy het mos volle reg tot hulle? Hy is mos hulle pa?!?!

Raakvatter ·

‘n Biologiese pa kan nie sy eie kind ontvoer nie. As daar ‘n Hofbevel is wat spesifieke reëlings oor die kinders is, kan die klag hoogstens minagting van ‘n Hofbevel wees. Saak sal uit die Hof gegooi word.

ES ·

Ongelukkig is jou stelling onwaar. ‘n Biologiese pa (wat van die ma geskei is), wat nie deur ‘n hofbevel goedgekeur is vir tydelike toesig oor sy kinders nie, kan aangekla word vir ontvoering. ‘n Biologiese pa van kinders het ook nie outomaties ouerregte nie, tensy hy met die ma getroud is en ‘n aktiewe rol in sy kinders se lewe speel. As die ma ‘n lewensmaat het wat nie die biologiese pa is nie, maar vir die kinders sorg soos sy eie, word hy voor die hof as die pa gesien.

Selfs tydelike toesigregte is beperk.

Die woord “biologies” het baie min gewig voor die hof, veral waar die ouers geskei is of nie meer saambly nie.

Familiereg en Personereg verduidelik die regte van ouers baie deeglik.

Fritz ·

Hy het net verantwoordelikhede, maar bitter min regte. Seuns, dink mooi voor julle trou. Dis so half en half n uitgediende instelling.

Saartjie ·

Dis nie uit die berig duidelik of die ma en pa voorheen getroud was nie. Ek dink jou versoek/raad moet eerder wees: ‘Seuns, dink mooi voordat julle onbeskermde seks met ‘n vrou het. En as julle in ‘n langtermynverhouding is, maak asseblief seker dat sy wel voorbehoedmiddels gebruik. En moenie wil kinders hê net omdat die gemeenskap dit van jou verwag nie.’

Oujongvrou ·

Het n pa dan nie die reg om sy eie kinders te he nie. Want hy word dan toegelaat om hulle te gaan oplaai. Of word die babas nou as n tou ingespan tussen die ouers. Maak nie sin nie.

ES ·

Oujongvrou, hy het spesifieke regte, maar sy regte is beperk voor die hof, veral as hy en die ma nie meer saam bly of in ‘n verhouding is nie – afgesien daarvan of hulle getroud was.

Tanniepetoors ·

Die man behoort alle toegang tot sy kinders te verloor. Jy doen nie so-iets aan klein kindertjies en hul mamma nie. Ja, dit is ontvoering. Hy het hul sonder die ma se toestemming uit hul plek van veiligheid gehou en uit haar toesig verwyder. Die feit dat hy die biologiese pa is.maak dit in my opinie net nog erger. Emosionele vroumishandeling van die ergste graad.

Daleen ·

H as jy sy optrede goedkeur dan is JY wat fout is met die wereld….. Sy optrede was VERKEERD. PUNT.

Daleen ·

Ja hy is die pa maar as ‘n pa behoort hy te weet hoe die ma sou voel indien hy nie by die reelings wat gemaak was hou nie. Dan antwoord hy nie sy foon nie en vat kinders na ander dorp sonder om iemand te laat weet. Nee net’ n monster sal so iets aan ‘n ander ouer doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.