Pa vas ná Jhb-ma sterf in ‘kaping’

Die verdagte word in hegtenis geneem. Foto: Verskaf

Die verdagte word in hegtenis geneem. Foto: Verskaf

In ʼn skokwending is Odette Barkhuizen, die vrou van Johannesburg wat in Junie tydens ʼn oënskynlike kaping in ʼn oprit doodgeskiet is, se man Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die moord.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn man in hegtenis geneem is vir die moord op Barkhuizen (43). Hy wou egter nie die identiteit van die verdagte bevestig voordat hy in die hof verskyn het nie.

Maroela Media het vroeër berig Barkhuizen is die middag van 11 Junie omstreeks 13:30 in die oprit van haar kantoor in Oakdene, Glenvista, doodgeskiet voordat die “kapers” met haar voertuig gevlug het. Haar motor is later verlate in ʼn straat naby die misdaadtoneel gevind.

Paul O’Sullivan, ʼn forensiese konsultant en eienaar van Paul O’Sullivan & Associates wat gratis hulp aangebied het om die saak te ondersoek, het aan Maroela Media gesê hy het Dinsdag vir langer as twee uur ʼn onderhoud met Barkhuizen se man gevoer nadat hy in hegtenis geneem is. “Hy kon die helfte van die vrae nie beantwoord nie en dié wat hy wel geantwoord het, het hy nie eerlik geantwoord nie,” het O’Sullivan gesê.

Hy het gesê daar is verskeie bewyse dat die man wel by sy vrou se moord betrokke was en ʼn motief vir die moord gehad het. “Dit was duidelik ʼn doelbewuste sluipmoord. Die eerste skoot het haar in die bors getref en die tweede in die kop. Sy het ook glo kort voor die moord vir hom gesê sy wil ʼn egskeiding hê,” het hy gesê.

“Ses weke voor haar dood het hy glo R7,5 miljoen se versekering op haar lewe uitgeneem deur haar handtekening te vervals. Toe die versekeringsmaatskappy kort daarna bel om met haar te praat, het hy gesê daar was ʼn dood in die familie en sy is Kaap toe om by haar tannie se begrafnis te wees. Dit was blatante leuens. Sy was nooit Kaap toe nie en daar was geen dood in die familie nie,” het hy gesê.

Odette Barkhuizen. Foto: Facebook

Odette Barkhuizen. Foto: Facebook

“Hy het ook vir die versekeringsmaatskappy ʼn e-pos gestuur om te bevestig dat die lewensversekering wel sal uitbetaal in die geval van dood tydens ʼn kaping of ’n rooftog.” Volgens O’Sullivan beweer die man hy was nie naby die misdaadtoneel ten tyde van Barkhuizen se moord nie, maar selfoonrekords bewys glo dat hy wel op die toneel was.

O’Sullivan het ook gesê dat die egpaar se motorruitherstelonderneming in Odette se naam geregistreer is en dat haar man die onderneming glo vir homself wou gehad het. Die man het ook glo nooit ʼn private speurder gehuur om Odette se dood te ondersoek soos hy beweer het nie. “Alles wat hy gesê het, was ʼn absolute leuen,” het O’Sullivan gesê.

In Barkhuizen se testament is alles wat sy besit glo aan haar man bemaak, maar haar handtekening op die testament is ook vervals, het hy gesê.

Hy het gesê sy maatskappy sal die polisie steeds bystaan deur die verhoor en sover as moontlik help tydens die hofverrigtinge.

Die Barkhuizen-egpaar het twee tienerseuns. Die verdagte sal Donderdag in die hof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Landie ·

Wat de hel gaan aan met die mensdom??? As jy nie meer van jou man of vrou hou nie, skei, en gaan aan met jou lewe!! Maar nou vat jy kinders se ma van hulle af weg!!! Hoe wreed en siek is jy!!!!

Jakoba ·

Landie dit is alles gierigheid. Dit het net oor geld by hom gegaan en in sy siek brein het hy gereken sy was meer werd dood as lewendig vir hom en in sy arrogansie het hy gereken hy sal wegkom daarmee en geen haan sal daarna kraai nie. Dat hy nou wraggies sy twee kinders se moeder van hulle so wreed weggeruk het wys jou net hoe min hy vir hulle welstand omgee. Toe die nuus breek oor haar moord was daar ‘n hele paar mense wat onmiddelik vermoed het dat hy betrokke was en hulle was reg.

MM ·

Ek stem 100% saam met jou! Dis reeds hoekom hy haar dood gemaak het, want sy wou skei……… die regte ding gedoen het, maar toe besliut hy anders.

Marcia ·

Dit het net te maklik geword in Suid Afrika vir mans om hulle vroue te laat vermoor! MAN is nie die woord nie.. want ‘n man wat sy vrou liefhet is nie geldgierig nydig jaloers of besitlik nie! Hierdie tendens van mans wat hulle vroue laat vermoor moet met wortel en tak uitgeroei word.. Reeva Steenkamp.. Alhoewel sy nie met OP getroud was nie.. Chanelle Henning Jayde Panayioto..

Gideon ·

Wees tog versigtig om te veralgemeen!! Vrouens in SA vermoor al baie lank mans, ek is tog nie lus om nou die lys van vrouens te gee nie, maar ons kan begin by Daisy de Melker en tientalle meer. Wat ek wel kan sê is dat dit ‘n jammerte is dat enige vrou of man so laag kan daal om sy eens geliefde te vermoor, en dan nog hulle kinders so in hartseer te dompel!!

Lynette ·

Ai tog, persentasie gewys is daar BAIE meer mans skuldig as vroue. Dan begin jy by Daisy waarvan almal bewus is maar wil tog nie verder uitbrei nie. Jou lysie gaan maar kort wees.

PIXIE ·

Gideon, kry jou syfers reg! Meer mans vermoor hulle geliefdes omdat hulle getroude lewe nie meer volgens hulle perfek is nie. Eerstens soek hulle simpatie by die SKELMPIE en dan word daar die vreeslikste goed beplan met vroulief “wat hom nie meer verstaan nie”.

PIXIE ·

Marcia ek stem saam met jou. Sodra die ‘liefdeslewe’ nie meer na wense is nie word daar PLAN gemaak om van HAAR ontslae te raak en dan soek HY ander weivelde. Marcia my vriendin, waarom dink jy is ek 30 jaar alleen? Ek vertrou MANS absoluut niks nie, dit is h…… en rumoer en lieg en suip. My honde is baie beter geselskap. Ek is eensaam maar liefs so as wat ek op die voorblad van een of ander koerant verskyn onder die opskrif: 67 jarige pensioenaris vermoor deur jaloerse minnaar !

Se Maar Net ·

Wat is dit met die verdomde mans wat hul vrouens vermoor vir geld?
Magtig hoeveel vrouens moet nog so sterf?
Ek wens uit my hart uit hulle sluit jou toe en gooi die sleutel weg, jy is ‘n lae gemene dier.
Want geen mens kan so optree en dan wil voorgee jy treur nie.
Jy het nie net jou vrou sel lewe verwoes nie, maar ook jou kinderns, jy is in my oe ‘n lae gemene wetter!!! Nie die woord MAN werd nie.

Neil ·

Wonder hoe kan jy R7.5 miljoen polis uitneem sonder bloedtoetse? Erens was dalk iemand van die versekerings bedryf ook betrokke by die saak. Sal ‘n bietjie dieper hierop moet ingaan Maroela?

André ·

Ekskuus, ken nie Afrikaanse term nie maar Accidental Death dekking benodig nie bloedtoetse nie want jy word nie verseker vir ‘n kwaal of siekte nie.

Pieter ·

Dit staan bekend as “Ongeluksdekking” en aangesien jou bloedtoetse of gesondheidstoestand niks met ‘n ‘ongeluk’ of ‘kaping’ of moord te doen het nie is dit nie verpligtend nie….

Theresa ·

Ek stem Landie. Die mensdom het hulle varkies heeltemal verloor. Dink hulle regtig hulle sal wegkom met sulke goed. Die arme kinders………………………………

Hennie de Beer ·

Baie geluk aan die forensiese konsultant Paul O’Sullivan wat die ondersoek gedoen het wat tot `n arrestasie kon lei. Nie alleen is dit puik speurwerk nie maar het hy ook sy dienste gratis beskikbaar gestel het wat hoog geag word. My innige simpatie aan die pragtige oorledene en haar 2 seuns.

Debs ·

ek hoop hy vrot in die tronk. Ek kry die arme kinders so jammer.

Poppie ·

Nog een en nog een en nog een. Besef die geldgierige mans nie dat hulle nie meer met moord kan wegkom nie. Ek weet my man sal my nie kan doodmaak om te erf nie, want op die tydstip is ek vir hom meer werd lewendig as dood……. Van die begin het ek gedink daar is ‘n slang in die gras en sommer die rot geruik ook wat bang was vir die slang….

Marelize ·

Dis werklik ‘n nare verhaal. My grootste simpatie lê by die kinders.

Maar tov gierigheid is die mensdom skuldig en nie net mans nie.

Elke huwelik bestaan uit twee lede wat beide verantwoordelik is vir die sukses van die huwelik. Geeneen kan hom- / haarself 100% verontskuldig nie. Dit is onnadenkend om alle mans (of alle vroue) oor dieselfde kam te skeer.

Pieter ·

Baie dankie Marelize… Bly daar is intelligente vrouens met ‘common sense’ wat ook kommentaar lewer….
Geldgierigheid is die wortel van ALLE kwaad!!!

Poppie ·

Marelize, ek stem nie saam nie. Selfs al gee een nie die hele 100% nie, is dit nie nodig om hom of haar dood te veroorsaak nie. Skei en gaan aan met jou lewe. 99.9% war die een die ander een (laat) vermoor, is deur geldgierigheid.

Freda ·

Duistere dinge van die diepe binnekringe! Geld is die oorsaak! The root of the evil!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.