Pa veg verbete toe rowers op N12 toeslaan

So lyk die Billson-gesin se motor nadat rowers hulle op die N12 met pangas toegetakel het. (Foto: Verskaf)

“Dit was die mees hulpelose gevoel. Ek kan dit nie eens beskryf nie…”

Henry Billson, ʼn 48-jarige pa van Alberton, het met elke greintjie durf in hom baklei toe sy gesin se motor Vrydag op die N12-hoofweg naby die Snakeweg-afrit aan die Oos-Rand onklaar geraak en drie mans, gewapen met pangas en kapmesse, die gestrande gesin langs die pad oorrompel het.

Billson en sy vrou, Elria, hul 18-jarige dogter, Bianca, en haar twee niggies van onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, was Vrydagaand van ʼn winkelsentrum in Kempton Park waar hulle gaan ysskaats het, op pad terug Boksburg toe, toe die gesin se motor omstreeks 19:30 onklaar geraak het.

Billson het in die noodbaan stilgehou, die voertuig se noodligte aangeskakel en uitgeklim om te probeer vasstel of hy self die motor weer aan die gang sou kon kry. Elria het intussen haar swaer gebel om die voertuig te kom sleep, toe Billson die drie aanvallers sien naderkom het.

Hy het inderhaas ʼn messie uit ʼn sak in sy kattebak gegryp en die familie het hulself noodgedwonge in die voertuig toegesluit. Die drie aanvallers het met hul pangas die voertuig se ruite begin uitslaan. Elria is etlike kere getref en haar arms is sleg gekneus waar een van die mans haar herhaaldelik geslaan het.

“Hulle het geld en fone gesoek. My vrou praat vlot Zoeloe en Sotho en sy het probeer verduidelik dat ons nie kontant het nie en dat hulle die fone kan vat. Sy het hulle herhaaldelik gevra om te kalmeer, maar hulle het niks verstaan nie. Hulle het Portugees gepraat,” sê Billson.

Elria Billson wys die kneusplekke wat sy opgedoen het nadat sy met ‘n stomp panga aangeval is. (Foto: Verskaf)

Een van die aanvallers het intussen ʼn agtervenster by die jong meisies uitgeslaan en een van sy makkers het Billson se deur toegedruk terwyl ʼn ander aanvaller waardevolle items by Elria probeer buit het. Toe dié man in die voertuig inleun, het Billson sy kans gesien en die man met sy mes bygekom.

“Die een wat my deur toegedruk het, het dit gesien en padgegee. Ek het begin terugbaklei.”

Billson het uit die voertuig gespring en die man wat aanvanklik sy deur toegedruk het, ook met die mes bygekom. Hy het hulle daarna – steeds net met sy mes gewapen – oor die hoofweg gejaag.

Drie mans wat ná hul skof op pad huis toe was, het gesien hoe Billson die mans met die pangas en kapmesse oor die hoofweg agternasit en het stilgehou om te help.

“Daardie drie mans het vir my ʼn nuwe geloof in mense gegee. Hulle was op pad huis toe van die werk af en het my gekalmeer en gesê hulle sal saam met ons daar wag en my help om my familie te verdedig. Ek gaan hulle maatskappy bel om dankie te sê en hulle te laat weet watter wonderlike mense vir hulle werk.

“Dit gaan vir my oor meer as net ʼn ‘dankie’. Ek glo ons is gehelp met die krag van bo.”

Bloedspatsels op die deur vertel die verhaal van die familie se noue ontkoming. (Foto: Verskaf)

Billson vertel hulle het vergeefs probeer om die polisie se 10111-noodnommer te skakel en hul pogings om drie verbygaande polisievoertuie se aandag te trek sodat dié sal stilhou, was ook vergeefs.

“ʼn Mens moet paraat wees. Ons raak so gemaklik met ons lewe. Dis feestyd en vakansie en in daardie oomblikke vergeet jy om paraat te wees. Jy is reeds bekommerd oor jou kar wat gebreek is, jy verwag nie dat mense jou nog gaan aanval ook nie.

“As jy so ʼn noodgeval het, moenie in die noodlaan aftrek nie. Bly met jou voertuig in die verkeer; hulle kan jou nie daar aanval nie. Die oomblik wat jy aftrek en jou noodligte aansit, dink mense jy is orraait.

“Mense wil nie meer stop om ander te help nie. Daardie dae is verby. Jy is op jou eie; einde van die storie.”

Billson sê hy het eindelik besef hy sal sélf sy familie moet beskerm. “Jy kan nie terughou nie, jy moet alles gee. Jy kan nie onderhandel nie. Jy dink as jy al jou goed vir hulle gee, gaan hulle ophou, maar hulle hou nie op nie.

“Daar kom ʼn streep wat jy moet trek waar jy self moet baklei,” sê hy.

Hy is nietemin uiters dankbaar vir die drie barmhartige samaritane wat stilgehou het om die familie te help en sê mense moet besef dat hulle ʼn gebeurlikheidsplan moet hê vir wanneer dinge skeefloop.

“Wees paraat. Dink voor jy uitgaan. Wat maak jy as jou kar breek? Wat doen jy met jou kinders? Dit is die werklikheid; ons is nie veilig nie.

“Maar dit help nie jy probeer ʼn held wees nie; jy moet kophou.”

Die familie se beskadigde voertuig waar dit Vrydagaand op die N12-hoofweg onklaar geraak het. (Foto: Verskaf)

Hy glo desperate misdadigers het ʼn geleentheid uitgebuit om toe te slaan. “Hulle het gesien ons kar is stukkend en ek sit met ʼn kar vol vroue.

“Hulle is bereid om iemand se lewe, myne of my familie sʼn, vir iets soos ʼn selfoon te vat.”

Billson sê sy swaer het eindelik die voertuig weggesleep en hy het ʼn klag by die polisie aanhangig gemaak. Maroela Media het ʼn navraag oor die voorval aan die polisie gestuur en wag op terugvoer.

Benewens die enjinprobleme het die voertuig ook groot skade weens die pangahoue opgedoen.

Elria het erge kneuswonde aan haar arm opgedoen, maar die res van die familie is fisiek ongedeerd. Die boewe het eindelik met Billson se suiker-en-bloeddrukmasjien, Elria se selfoon en enkele ander persoonlike besittings gevlug.

“Die gebeure wat in die kinders se koppe agterbly, kan jy egter nie uitwis nie. Dit was lelik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Waarom ·

Dus hoekom ek altyd my vuurwapen by my dra. Sal myself verdedig teen die gemors al vat dit ook my lewe.

ES ·

Ek self, en ek moedig enigeen wat bereid is om te luister om ook ‘n vuurwapen aan te skaf. Die wag vir ‘n lisensie is ‘n klein prys om te betaal om jou en jou gesin se lewens te beskerm.

Blikkies ·

Korrek, Jy skuld jouself en jou familie daardie tweede kans.

Jakkie ·

Bly julle is nou veilig, sterkte met herstel. Verblydend om lees mense was bereid om te help

Delia ·

Ek is so bly julle is veilig. Bewapen jouself, laat asb n panieknoppie in jou voertuig installeer. Dit gee verseker gemoedsrus.

Nettie ·

Sjoe. Welgedaan aan die Pappa. Jou vrou, dogter en familie kan opreg trots wees. Ook op die Mamma wat so braaf was. En dankie aan ons Hemelse Vader wat julle almal bewaar het. Mens hoop maar die polisie doen nou hulle werk en spoor die skuldiges op.

JohanR ·

Ramaparra speel gholf terwyl die son skyn, want daar is geen lugte om in die aand te speel nie! Moet lekker wees om met ‘n haelgeweer in jou hand uit jou kar uit te klim, te sien hoe die oe groot word, hulle skreeu vir hulle Mamma en hardloop die myl in 2 minute en 40 sekondes!

Tokkel ·

En ……die polisie bakkies gooi ‘n blinde oog, want dit is nie hul job nie! Ja Cele, want dit is ook nie jou mense nie….

Vonny ·

Die mense is deur Hel.
Dankieeee Abba Vader vir U Hand.
Wie worry nou oor ondiensbaar…onklaar???
Loof slegs God. Amen

Frank John ·

Die feit dat die polisie nie wil stop en help nie wys jou in watse patetiese toestand ons gereg is. Dit is die enigste tipe werk skepping wat ons land suksesvol kan skep. Daai klink vir my soos Shangaans van Mosambiek, hulle praat Portegees

Wielspore ·

As hulle Portugees praat is hulle waarskynlik van Mosambiek.

Delia ·

Woord:
onklaar
Prikkie, google maar die betekenis van onklaar
Maroela Media se verklaring

Betekenis:
1 Buite werking: Toerusting en toestelle wat onklaar raak. ≈ Hy het… mev. B. met haar onklaar motor gehelp (Burg., 25 Sept. 1981, 3). Sy Vanwall se remme (het) onklaar geraak en hy het deur ‘n houtversperring gebars (A. Marais: Blitse, 1966, 107).

Prikkie ·

Dankie Delia – het daardie al tevore gesien.

Gaan egter terug na die oorspronklike Nederlandse betekenis en dit beteken “nog nie gereed nie”.

Die res is later by die oorspronklike bedoeling/betekenis “aangehaak”.

Klink dit ook nie meer sinvol om te sê ondiensbaar, dus die voertuig kan nie ‘n diens aan jou lewer nie, as onklaar?

SomeOne ·

sterkte aan bilson en die betrokke, skuim lafaards se dade skree ten hemele
is daar ‘n verskil tussen ‘n kapmes en ‘n panga ?

Mariana ·

Ongelooflik dat gewone mense stop om te help, maar die polisie gee nie snars om nie. Pateties. Bly julle is ongedeerd en die geestelike sal ook genees in tyd. Dankie aan die mans wat hulle gehelp het.

Papsak ·

Ek stem dra julle vuut wapens by julle ten alle tye kyk nou na daai gesin ons verdedig ons self

Lillian ·

En SAPS sal seker weer een of ander patetiese verskoning uitdink….

Hasie ·

Verstaan ek reg ? 3 polisievoertuie verby gery en geen sondersteuning gegee nie ? Sien hoekom mense reg in eie hande neem …nê.Pateties om die minste te sê.Waar is ou Hoed nou? Oh ja daar is nie kameras om dit af te neem nie

Danie ·

Ja nee ek is bly die storie het n gelukkige einde. Wel gedaan aan die pa. Hoop hy het hulle goed met die mes bygekom. Dis belangrik dat die gesin gaan vir trauma behandeling. Ou para-ogies is weer vol beloftes oor hoe die ANC die land gaan red maar hy het niks oor sy useless polisie kommisaris gese nie.

Hy moet hulle sommer aanvat oor die situasie

Nico ·

Dit sal Bheki Cele niks pla nie hulle word mos deur die blou lig brigade beskerm op die paaie, die belastingbetaler betaal mos daarvoor. Dit het tyd geword dat die minister sonder sy lyfwagte sal rond beweeg, hy is te bang om dit te doen.

Aggie ·

Onklaar is ‘n bekende woord en word dikwels gebruik.
Engels:
fouled malfunctioning, breaks, failure,
Ek wens so mense wil ophou onderwyser speel, veral as hulle nie taalkenners is nie.

Mundus ·

Slagoffers van misdaad, asook bystaanders moet ‘n gewoonte daarvan maak om terug te baklei. Dit hang uit die aard van die saak af van die situasie, maar om jou samewerking te gee waarborg nie jou veiligheid nie. Bewapen jouself en tref alle veiligheidsmaatreëls prakties moontlik. Dit is lankal tyd dat die ‘goeies’ weer die oorhand neem.

Roek ·

Mense wat stop word ook onmiddelik verbind, ek wou nou die dag ‘n dame help en het sy my letterlik gevloek en weg gejaag alhoewel ek die heletyd geskree het sy moet net gan sit waar sy is sodat ons kon help , ander dink weer jy het ander idees, nee wat once bitten twice shy !!

Veronika ·

Pestelensies! Maw dit was mosambiekers! Kom invade ons land met crime! Lafaards ook nog, hardloop weg as hul hul eie medisyne terug kry, alhoewel dit die doel is as mens terug veg, maar nogtans. Daar sal weereens niks van kom nie…….die 10111 kan maar net sowel deaktiveer word, dit word nooit ooit geantwoord nie!!

Di ·

Sterkte aan die gesin, so dankbaar julle is almal gespaar. As hulle portugees praat is hulle hoogs waarskynlik Mosambiekers, seker ook onwettig in die land!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.