Pa verloor moedige stryd ná rowerskote

Gerald van Jaarsveld is Saterdagoggend dood nadat rowers hom ses keer geskiet het. (Foto: Verskaf)

Gerald van Jaarsveld (32) wat die afgelope sowat twee weke moedig om sy lewe geveg het nadat rowers hom en sy gesin op 29 Julie in hul huis oorrompel het, het sy stryd verloor.

Van Jaarsveld is ses keer in die gesin se huis in Brakpan geskiet toe rowers hom en sy verloofde, Kathleen van Wyk, die paartjie se ses kinders (tussen drie en 16 jaar oud), asook twee pensioenarisse wat by die gesin woon, oorval het.

Die rowers het onder meer ʼn televisie, selfone en ʼn voertuig geroof.

Van Jaarsveld is vyf keer in die been en een keer in die maag geskiet. Hy moes sedertdien verskeie operasies ondergaan, onder meer om sy wonde te heg en skoon te maak.

Van Wyk is ʼn enkele keer in die maag gewond en is ʼn paar dae ná die voorval uit die hospitaal ontslaan. Hul kinders was ongedeerd.

Sonika Hugo, Van Jaarsveld se suster, sê hy is Saterdagoggend vroeg dood nadat die meeste van sy organe begin ingee het. Van Wyk was kort tevore by hom nadat dokters haar laat weet het dat sy toestand toenemend versleg. Die oproep dat hy gesterf het, het gekom kort nadat Van Wyk by die hospitaal weg is.

Gerald van Jaarsveld en sy verloofde, Kathleen van Wyk. (Foto: Verskaf)

“Ons harte is stukkend, maar ons weet hy het hard baklei … tot op die einde,” sê Hugo.

“Kathleen was darem by hom in die laaste ure voor hy gesterf het. Sy het vir my gesê volgens die dokters was daar ʼn 99%-kans dat hy nie gaan oorleef nie, maar sy het tog vasgehou aan die 1%.

“Ons het regtig gehoop hy is een van dáái wonderwerke, maar dit was nie so bestem nie. Sy dood was nie verniet nie; hy het sy kinders beskerm en was ʼn absolute held. Dit is tragies en verskriklik om jou lewe te verloor soos in sy geval, maar hy het sy familie beskerm. Dit het hom sy lewe gekos, maar sy kinders is oukei en Kathleen ook.

Van Jaarsveld moes die afgelope ruk talle operasies ondergaan nadat hy geskiet is. (Foto: Verskaf)

“Ons weet hy is op ʼn beter plek. Ek weet hy dans by Jesus se voete.”

Hugo sê die paartjie se ses kinders steier onder die nuus van Van Jaarsveld se dood. Net die jongste besef nog nie heeltemal wat met sy pa gebeur het nie.

Geen begrafnisreëlings is nog vir Van Jaarsveld getref nie.

Hy was ʼn elektrisiën wat sy eie onderneming bedryf het en was die gesin se hoofbroodwinner. Sy familie het vroeër ʼn skarefinansieringsveldtog op die Back-a-Buddy-platform begin om te verseker veral die kinders is behoorlik versorg en sy mediese uitgawes kan betaal word.

Hugo het mense bedank wat die familie in dié tyd gesteun het.

“Dit is ʼn lang pad wat voorlê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Blomme ·

Baie hartseer. Vrede vir die familie. Ek hoop hul het al die moordenaars gekry.

Persheks Adri ·

Inderdaad baie hartseer!!! Ek twyfel sterk of hulle al aangekeer is…

Persheks Adri ·

My innige simpatie aan die familie en vriende in die moeilike tyd mag God julle styf vashou!

Sê maar net ·

So sinneloos en hartverskeurend! Baie sterkte aan die familie. Mag God julle versterk en vertroos.

Harley Davidson ·

Baie hartseer, jammer hy moes in staatshospitaal opgeneem word, die staat het hom twee keer in die steek gelaat.

Pitbul ·

Stem heelhartig saam…. privaat hospitaal sou hy gelewe het…

Tanniepetoors ·

Baie hartseer nuus. Baie, baie sterkte vir hierdie dapper vrou, al die kindertjies, peetouers, ander familie en vriende.

Mariana ·

Innige meegevoel met sy familie. So onnodig. Die man was in die fleur van sy lewe. RIV

Irene ·

My innige meegevoel vir Gerald van Jaarsveld se verloofde, die kinders, al die ander familie en vriende.

Winnie ·

En waar is daai man met die hoed wat sê ons mag nie ons self verdedig nie. Die arme gesin wat nou sonder hulle broodwinner moet aangaan

wilma ·

Ek dink die Regering moet n maandelikse toelaag gee om daardie 6 kinders te onderhou … soos Winnie sê, niemand mag hulself verdedig nie …nou sit 6 kinders sonder n pa. Hoe moet n ma alleen vir hul sorg. ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.