Pa verloor sy gesondheidstryd

Paul Visagé in die hospitaal.

“Dit is baie hartseer, maar ons is rustig in die wete dat hy nie meer pyn en lyding het nie.”

Die 74-jarige Paul Visagé, die man wat die afgelope maande in ondraaglike pyn was nadat sy been verlede jaar weens ʼn bakteriële infeksie geamputeer is, is Donderdag tuis oorlede. Maroela Media het verlede maand oor Visagé se toestand berig toe sy “gesonde” been ook gangreen opgedoen het en dokters niks vir hom kon doen nie weens sy swak immuunstelsel.

Selma Visagé, Visagé se dogter, het Vrydag aan Maroela Media gesê sy het besluit om haar ouers Maandag in Rustenburg, waar hy in die hospitaal was, te gaan haal sodat hy eerder tyd by die huis kon deurbring.

Visagé het tydens sy gesondheidstryd ook bedsere opgedoen wat hom sleg getref het. “Die dokters het bloot gesê hulle gaan nie sy ander been ook kan amputeer nie aangestel sy gestel so af was. Hy sou nie ʼn operasie oorleef nie. Dit was te laat.”

Volgens Selma het die familie hulle dus voorberei dat hulle pa moontlik gaan sterf. Hulle het egter nie verwag dat dit binne ʼn kwessie van ʼn week sou gebeur nie, veral omdat die wond van sy geamputeerde been na ʼn lang gesukkel eindelik begin genees het.

Selma Visagé se ouers in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

ʼn Groot behoud is dat Selma se broer ook Maandag van Amerika af gekom het en die laaste paar dae saam my pa kon deurbring voor sy dood. “Ons vermoed hy het net gewag om my boetie te sien voordat hy gaan.”

Die laaste paar dae was vol verrassings toe Selma vir ʼn elektriese leunstoel op sosiale media gevra het om aan haar pa te skenk nadat hy Dinsdagaand moedeloos en in baie pyn was. “Ek en my dogter het beurte gemaak om agter hom te sit en hom regop te hou. Só ʼn stoel sou baie verligting bring.”

Dié versoek het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en Eric Barnard Meubels het laat weet dat hulle ʼn stoel vir Visagé sou skenk. Marius Barnard van dié firma sou gisteroggend ʼn splinternuwe stoel gaan aflewer, in die tyd toe Visagé dood is.

Dié stoel sal egter nou na Selma se ma gaan wat ook met haar gesondheid sukkel. Sy was 43 jaar lank met Visagé getroud.

Mense bied nou aan om te help met Visagé se agterstallige mediese uitgawes aangesien hy nie aan ʼn mediese fonds behoort het nie en sy mediese sorg van die laaste paar jaar uit sy familie se sak moes kom.

“Die gemeenskap se ondersteuning help so baie. Wat hulle vir ons gedoen het oor die laaste twee dae, is ongelooflik. Ek het nie woorde nie,” het Selma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Dankie aan Marius Barnard (van Eric Barnard meubels) vir die omgee vir mnr Visagie.

Julle is staatmaker mense.

Dis hoekom ek graag by julle koop.

Marinda ·

Sterkte aan die familie. Regtig baie jammer om te hoor van die oom se heengaan.
Dankie aan Eric Barnard Meubels.

Issabelle ·

Ai …. dit is so hartseer & tragies …. baie sterkte aan al die familie wat deur hierdie moeilike tyd gaan.

RATEL ·

Baie Dankie Barnard Meubels! Mag God jul en jul besigheid seen. Sterkte aan die familie

Alida ·

Dit is baie hartseer maar hy is verlos van pyn en lyding. RIP.

Sam ·

In tye van verval, chaos en soveel hartseer in hierdie land, is dit ‘n riem onder die hart om te lees hoe daar nog dié is wat vir ander omgee en lyding help verlig.

Misousa ·

Ek is so jammer om van die oom se afsterwe te hoor. Vandat ek die eerste keer die pyn op sy gesig gesien het, kon ek nie help om hom en sy familie gereeld in my gedagtes te hê.
Dit breek my hart, want ek dink daar kon meer vir die dierbare mense gedoen gewees het.
Dankie vir die mense wat probeer help, en steeds doen.
Ek voel skaam dat Onderstepoort meer vir diere doen…(gratis, alhoewel die bedrae derduisende beloop…), as wat ons medici en hospitale beteid is om vir ons arm mense te doen.
My skoonsus is ses maande terug met kanker ge diagnoseer….
Nou nog met geen behandeling begin.
Geen medies?…. word aan die genadr oorgelaat.
So jammer vir hierdie dierbare familie.
God se seën en sterkte..????????

Ina Du Bruyn ·

So jammer om te hoor. My suster het ook kanker en dis glad nie lekker vir ons om haar so te sien. Ek hoop jul kry hulp. Sterkte

Ina Du Bruyn ·

Snaaks hoe mense as media betrokke is skielik help. Ek het by Eric Barnard hulp gevra vir my suster vir n matras. Sy het ook kanker en haar lyf is vol knoppe van die kanker. Hulle het gese jammer hulle kanni aan die versoek voldoen.
Dankie dail a bed wat haar gehelp het met die topper. Daar is nog mense wat wat werklik omgee sonder enige media blootstelling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.