Pa vermoor glo kinders uit ‘woede’ vir vrou

Phasha se aansoek om borgtog is die afgelope week weer van die hand gewys. (Foto: SA Polisie)

ʼn Pa van Limpopo wat glo sy vier kinders vermoor het, het dit glo uit woede vir hulle ma gedoen.

Senyatsi Lucas Phasha (50) word daarvan beskuldig dat hy in Februarie vanjaar Katlego (9), Joyce (7) en Tshepo (5) met ʼn byl doodgekap en Adel (3) met ʼn groot klip doodgeslaan het.

Phasha het verlede week weer in die Praktiseer-landdroshof verskyn waar sy aansoek om borgtog van die hand gewys is, het Mashudu Malabi-Dzangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, gesê.

Die saak is na die hooggeregshof in Polokwane oorgeplaas waar dit volgende maand aangehoor sal word.

Phasha, van Ga-Pasha naby Burgersfort, het na bewering die vier kinders vermoor nadat hy hulle ma daarvan beskuldig het dat sy hom verneuk. Hy het voor die moorde ʼn rits inskrywings op sosiale media gemaak waarin hy sy vrou ook beskuldig dat sy hom weens haar [beweerde] ontrouheid met MIV besmet het. Hy het gedreig dat sy die kinders nooit weer sal sien nie.

Die toneel waar drie van die kinders se liggame gevind is. (Foto: SA Polisie)

“Ek is woedend vir haar, haar vriende en haar minnaars,” het Phasha geskryf.

Hy het ook ʼn foto van sy vrou geplaas met die inskrywing: “MIV-positief, swanger, slaap saam met ander mans”.

Phasha het in Februarie vanjaar glo die voertuig wat die kinders van die skool af vervoer het, voorgekeer. Die bestuurder van die voertuig ken hom en het toegelaat dat hy die kinders saam met hom neem, het die polisie destyds gesê.

Phasha het die volgende dag glo aan ʼn buurman gesê dat die kinders vermoor is en het aangedui waar hulle liggame gevind sou word. Drie van die kinders se liggame is kort daarna in ʼn veld by mekaar gevind terwyl klein Adel se lykie sowat 3 km daarvandaan gevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sêmanet ·

Hoekom nog geld mors op duur hofsake? Smyt hom lewenslank (tot hy self omkap) in die tronk.

Mariana ·

Plaas hy net die kinders vat en loop, vermoor hy hulle……en dit om die ma te straf. Nee wragtig hoe lewe hy met homself. Sluit toe, gooi weg die sleutel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.