Pa vertel hoe dogter glo in ‘pedofiel’ se kloue beland

Argieffoto

Argieffoto

Die pa van een van die vermeende slagoffers van ’n middeljarige man van Sasolburg wat in Oktober in hegtenis geneem is nadat hy glo sy twee dogters en 17 ander meisies seksueel gemolesteer het, het gesê sy dogter is erg getraumatiseer ná die molestering.

Die man is op 16 Oktober verlede jaar in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk van Interpol af ontvang het. Die man het glo aanlyn ʼn netwerk vir pedofiele besoek en foto’s opgelaai van waar hy sy twee dogters en ander meisies seksueel teister.

Die pa, wie se naam nie genoem mag word nie om sy dogter se identiteit te beskerm, het aan Maroela Media gesê sy dogter is glo drie jaar lank deur die man seksueel gemolesteer en verkrag. Sy was agt jaar oud toe die molestering glo in 2011 begin het. “Die eerste wat ons daarvan gehoor het, is toe die polisie aan ons deur geklop het. Voor dit het ons van niks geweet nie,” het hy gesê.

Hy het gesê sy dogter kry sedertdien erge woedeuitbarstings en sukkel om haar emosies te beheer. “Sy is erg getraumatiseer deur wat gebeur het en sukkel om dit te verwerk en te verstaan. Dit is elke dag ʼn stryd om steeds dissipline toe te pas en terselfdertyd haar emosies op die regte manier te hanteer.”

Volgens die pa was sy dogter maatjies met die beskuldigde se dogter en het gereeld by hul huis oornag. “Ons het soms daar gebraai en saam gekuier. Dan sou my dogtertjie vra of sy by haar maatjie mag oorslaap en dan gaan haal ons haar eers die volgende dag,” het hy gesê. “Hy [die beskuldigde] was baie slim met wat hy gedoen het. Hy het haar gereed gemaak [vir die seksuele molestering] en haar vertel as sy ooit vir enigiemand iets daarvan sê, sal sy nie weer by haar maatjie mag kuier nie.”

Die pa het ook aan Maroela Media gesê dat hy en sy vrou ná die beweerde molestering aan die lig gekom het baie navorsing oor seksuele teistering, molestering en pedofilie gedoen het en nou besef dat daar wel waarskuwingstekens was. “As ons daardie artikels net vyf jaar vroeër gelees het, sou ons dalk die tekens kon raaksien. Ons was nie genoeg ingelig nie en het nie geweet waarvoor om te kyk nie. Ons het nooit gedink so iets sal met ons kind gebeur nie.”

Hy het gesê hy en sy vrou het nie self die pornografiese materiaal wat glo op die man se rekenaars gevind is, gesien nie, maar die polisie het aan hom gesê dit lyk glo asof sy dogter op die meeste van die foto’s en beeldmateriaal slaap. “Ek weet nie of hy haar iets ingegee het of wat gebeur het nie, maar sy is van die meeste gevalle nie bewus nie of kan dit nie onthou nie. Daar is egter wel goed wat sy kan onthou,” het hy gesê.

Lt.kol. Heila Niemand, woordvoerder van die provinsiale ondersoekeenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdaad, het gesê die man sal Maandag weer in die Sasolburg-landdroshof verskyn.

“Die saak neem lank omdat daar baie slagoffers is en die pornografiese materiaal wêreldwyd versprei is,” het sy gesê. “Daar is ongelooflik baie elektroniese bewysstukke en dit vat tyd om alles te ontleed en te versamel. Die ondersoekspan moet presies bepaal met wie hy almal gekorrespondeer het en elke leidraad moet opgevolg word. Dit is ʼn uiters komplekse saak wat nie sommer vinnig deurgedruk kan word nie. Daar is reeds ongelooflik baie aanklagte teen hom,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strydom-:Stryslim eerder

Wens die siek gedrog kan na n meksikaanse tronk toe gaan, daar sal hy kry wat by verdien. Nog kos dit ons nou tenduurste om hom in ons tronke aan te hou! Free food, free housing, free security…hoekom sal hulls omgee of hulls gevang word?

Eliza-beth

Watookal sy straf gaan wees gaan die kinders NOOIT ooit heeltemal herstel na hierdie trauma nie. Arme, arme meisies – dit breek my hart. Mens probeer om jou dag positief te begin dan sien mens ‘n berig soos hierdie en ander en mens voel totaal magteloos – hoe help mens so kind? Ek wil ook net weet waar was hierdie ding se vrou – hoe het sy dan NOOIT agtergekom so iets is aan die gang nie? Een ding is verseker, my kind is al in haar dertigs en ek het NOOIT toestemming gegee dat sy of haar broer ooit… Lees meer »

Sandy

Ek is vreeslik jammer wat met jul dogtertjie gebeur het, sy het baie liefde en sielkundige hulp nodig op hierdie stadium, ek wens jul alle sterkte toe in die toekoms, en ek dink dit was baie braaf van jou om hierdie berug met ons te deel, en daar uit leer ons ook ‘n les dat ons maar liewer ons kindertjies veilig in ons eie huise moet hou en ons oe maar altyd moet oop hou al is hul in ons eie huise.

SNEL

Sjoe, hoe moet n ouer se hart nie geskeur wees as hy hoor wat sy arme kind op agt jarige ouderdom al aan blootgestel was nie. Mens pas jou kinders so mooi op en dan vernietig iemand anderste hulle hele lewe. Ek wens die pa het van die tekens om na uit te kyk genoem, sodat mens weet, maar ek stem saam met Elizabeth, my kroos slaap ook net onder my dak, geen oorslaap by iemand nie. Geen tronkstraf sal help om die skade wat daar is weg te vat nie, maar sulke gemors moet van die aarde afgevee word.

Sny af wat pla!!!

Dit is so hartseer dat so iets alewig met kleintjie gebeur die dogter se lewe is heeltemal verwoes. N mens moet hom eintlik martel piece of rubbish!!!! Sterkte vir die dogter en haar ouers gaan lank vat om die sielkundige sy van die kind te verbeter.