Pa verwurg glo dogter, hang homself op

Foto: Pixabay

ʼn 40-jarige man het glo op Goeie Vrydag sy tweejarige dogter verwurg, voordat hy homself opgehang het. Die man het glo ook probeer om sy sewejarige dogter te vermoor.

Lede van die gemeenskap in die Moleketla- informele nedersetting het glo die polisie ontbied nadat die pa gedreig het om sy dogters te vermoor.

“Op pad na die toneel is die polisie voorgekeer deur lede van die gemeenskap, wat die sewejarige bebloede dogter by hulle gehad het,” het brig. Motlafela Majola, polisiewoordvoerder van Limpopo, gesê.

“Die kind het die polisie na die plek geneem waar die voorval plaasgevind het. “Hier het die polisie die tweejarige dood aangetref. Die man se liggaam het aan ʼn boom gehang.”

ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat albei kinders by hul pa (die oorlede verdagte) gewoon het. Hul ma was in Gauteng ten tye van die moord.

Lt.genl. Thembi Hadebe, polisiewoordvoerder, het die voorval betreur en lede van die gemeenskap aangemoedig om eerder hulp te soek as om hulle tot geweld te wend indien hulle maatskaplike probleme ondervind.

Die polisie ondersoek onderskeidelik ʼn saak van moord en poging tot moord. ʼn Geregtelike doodsondersoek is ook begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.