Pa voor seun doodgeskiet: Polisie maak deurbraak

Die vuurwapen waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

Die Limpopo-polisie het ʼn deurbraak gemaak in die ondersoek na die moord op ʼn 46-jarige eienaar van ʼn veiligheidsmaatskappy in Polokwane (Pietersburg). Dié man is in Februarie ten aanskoue van sy 11-jarige seun koelbloedig doodgeskiet.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê beamptes van die provinsiale opsporingspan en speurders van die Polokwane-polisie het Dinsdag die sakeman se 42-jarige vrou in verband met sy moord in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig die sakeman, wie se naam tans weerhou word om die vrou se identiteit te beskerm totdat sy in die hof verskyn het, is op 20 Februarie teen 07:10 in Florapark voor sy seun en sy huishulp doodgeskiet.

“Die oorledene se seun was by die hek en op pad skool toe, toe drie onbekende mans hom gekonfronteer en terug in die huis ingedwing het,” het Mojapelo gesê.

“Hulle het die seun en ook die huishulp in die oorledene se slaapkamer ingedwing, waarna hulle die man verskeie kere geskiet het sonder om ʼn woord te sê.”

ʼn Span speurders het sedert die voorval onverpoosd gewerk om die skynbare sluipmoord te ondersoek.

“Op 27 Maart is ʼn klopjag by ʼn eiendom in Lephalale (Ellisras) uitgevoer waartydens ʼn verdagte, in sy 40’s, in hegtenis geneem is. Die man is ook ʼn sakeman en was na bewering betrokke by die moord op die oorledene,” het Mojapelo gesê.

Volgens Mojapelo moes nuus oor dié verdagte se inhegtenisneming teruggehou word totdat die slagoffer se vrou in hegtenis geneem is, aangesien die vrou glo in ʼn romantiese verhouding “met een van die samesweerders” is.

Die sakeman wat in hegtenis geneem is, Simon Ramela, het reeds op 29 Maart in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklag van moord en moet weer vandag [Woensdag] in die hof verskyn. Die polisie het tydens die inhegtenisnemings beslag gelê op ʼn pistool, ammunisie en twee voertuie.

Die polisie het ʼn beroep op ene Victor Mashakeng gedoen om by sy naaste polisiestasie aan te meld aangesien hy moontlik die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Enigiemand wat weet waar Mashakeng hom mag bevind, word versoek om kol. Linkie Mathebula by 064 756 8218, kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wow indrukwekkend ·

Wow die Polisie is indrukwekkend, ondanks al die negatiewe ervarings van kriminele wat die mag betree en die werk wat hul beleef soms, die risiko’s. Ongelooflik goeie werk, hierdie vrou & lover mag nie wegkom met iets so wreed nie, haar eie kind se Pa voor hom laat vermoor, dan het jy nie ‘n hart nie. Skei is so maklik deesdae, maar nee ons wil mos alles oes. Nou het jy niks en ‘n weeskind, hy het nie ‘n Pa nie en Ma is in die tronk, mooi man.

anti selfsugtig ·

Stem saam indrukwekkend. Die vrou wil nie die man he nie maar sien hom eerder dood as geskei van haar. Ken baie mense wat in ‘n ongelukkige huwelik of verhoudings bly en fin en kinders as verskoning gebruik en wat ookal. Wat bereik mens?

Piet ·

Ek weet nie of ek sou se dat hulle “indrukwekkend” is wanneer hulle een persoon gevang het wat nog nie op ‘n skuldigbevinding uit geloop het nie. Die hoe persentasie kriminele wat wegkom is dikwels a.g.v die swak skakel tussen die ondersoekbeampte en die staat se advokaat. Sy saak is net so sterk soos die feite tot sy beskikking. Dis baie sleg as jy familie is van n persoon wat in die SAP is (moontlik is jy in die situasie), want ek is seker mens kry wel lede wat hulle werk probeer doen onder dikwels moeilike omstandighede. As mens realisties is dan sal jy egter kan sien in wat se gemors die SAP eintlik is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.