ʼn Man is Dinsdagaand buite ʼn winkelsentrum in Krugersdorp aan die Wesrand deur vier gewapende rowers doodgeskiet.
Konst. Gloria Maswanganye, woordvoerder van die polisie, het gesê die 54-jarige man het by die Feather Square-winkelsentrum stilgehou toe daar ʼn motor agter sy motor stilgehou het. Twee verdagtes het uitgespring en in ʼn struweling met die man betrokke geraak. Die ander twee verdagtes het by hul motor gewag.
“Een van die verdagtes het verskeie skote afgevuur wat die man in sy bolyf getref het. Die verdagtes het daarna in ʼn silwer BMW gevlug,” het sy gesê. Volgens Maswanganye is die man van ʼn sak en ʼn vuurwapen beroof. ʼn Onbevestigde bedrag kontant is in die kattebak van die man se motor gevind.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is omstreeks 19:45 na die toneel ontbied. Die man het verskeie skietwonde opgedoen en daar was niks wat vir hom gedoen kon word nie. Hy is op die toneel dood verklaar.
Volgens BCI Protection Services, wat ook op die toneel was, was die man ʼn bekende in die omgewing. Hy was getroud en het kinders. Maswanganye wou egter nie Woensdag die man se naam bekend maak nie.
ʼn Saak van gewapende roof en moord word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met meer inligting word versoek om die polisie by 011 952 4600 of 079 496 6288 te skakel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Ons kan nie meer. Almal is al so getraumatiseer. Wanneer gaan iemand besef hier is fout in Suid Afrika
Hierdie euwel het gekom om te bly, dit het die neiging om te “snowball”. Hoe langer die wet aan hulle kant is hoe groter die probleem
Kan die mense wat ons so uit moor se vingers of hande nie af gekap word?
Gee my asb Trump se mail address en ek sal persoonlik vi hom n mail stuur.
So die rowers het hulle misgis. Het gedink dat die kontant in die sak is waarmee hulle nou weg is. Ongelooflik hartseer. Mag die Here sy familie troos.