Pa wat baba doodslaan was ‘liefdevol’ sê familie

Eugene Plaatjies in die hof. Foto: ANA

Eugene Plaatjies in die hof. Foto: ANA

ʼn Maatskaplike werker het in die Wes-Kaapse hooggeregshof aanbeveel ʼn pa wat sy baba doodgeslaan het, moet tot lang tronkstraf gevonnis word.

Eugene Plaatjies (25) is in April skuldig bevind aan moord, kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy dogter, Anthonique, was drie maande oud toe sy in Junie 2014 in die Rooikruis Kinderhospitaal dood is, ʼn dag nadat sy opgeneem is.

Gedurende die verhoor het ʼn forensiese patoloog, wat die nadoodse ondersoek gedoen het, getuig Anthonique het verskeie kneusplekke en frakture opgedoen, saam met ernstige kopbeserings en snywonde aan haar kop, terwyl haar lewer ook geskeur het, haar ribbes gebreek en haar long gekneus is. Die babadogtertjie het nuwe en ou beserings gehad en sy is “chronies mishandel”.

Louise Alkaster (30), Anthonique se ma, het aan die begin van die verhoor skuld erken op ʼn aanklag van kinderverwaarlosing en is ʼn opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê. Alkaster het gedurende die verhoor gesê sy is ook deur Plaatjies mishandel.

Charlene Demas, ʼn maatskaplike werker van die departement van maatskaplike ontwikkeling, het Woensdag as deel van die voorvonnisverrigtinge getuig. Sy het aan die hof gesê sy het onderhoude met Plaatjies, Alkaster en van hul familielede gevoer.

Sy het gesê Alkaster het Plaatjies as ʼn liefdevolle en stil persoon beskryf, maar erken hy het haar begin mishandel nog voordat sy swanger geraak het met Anthonique. “[Alkaster] was verlief op die beskuldigde en daarom het sy nooit ʼn klag teen hom ingedien of ʼn beskermingsbevel teen hom gekry nie,” het Demas gesê. “Sy was ook bang hy sou net vir ʼn kort tyd aangehou en dan weer vrygelaat word en die konflik tussen hulle sou dan net erger wees.”

Volgens Demas het Alkaster se pa Plaatjies as aggressief, besitlik en jaloers beskryf en hy het nie Plaatjies se verhouding met sy dogter goedgekeur nie. Hy het gesê hoewel Plaatjies nooit sy dogter in sy teenwoordigheid aangerand het nie, was daar tekens dat sy aangerand word, soos merke aan haar gesig.

Alkaster se pa het ook aan Demas vertel Plaatjies het hom in sy gesig gespoeg toe hy hom gekonfronteer het omdat hy Anthonique hard op haar bors geslaan het toe sy gehuil het.

Plaatjies se familie het egter beweer hy is ʼn teruggetrokke persoon wat altyd bereid is om ander te help. “Die beskuldigde se familie het gesê hulle kan steeds nie glo wat gebeur het en dat die baba dood is nie,” het Demas gesê.

Sy het bygevoeg hoewel Plaatjies respekvol was tydens haar onderhoude met hom, het hy nie verantwoordelikheid geneem vir wat hy gedoen het nie en toon hy steeds geen berou nie. “ʼn Pa is veronderstel om sy kind te beskerm. Elke ouer het ʼn verantwoordelikheid om toe te sien dat hul kind nie verwaarloos of mishandel word nie. Elke persoon het ook ʼn reg op lewe en die beskuldigde het dit van sy eie kind weggeneem.”

Lees alle vorige berigte oor Eugene Plaatjies op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Peet J ·

Nee genade hy moet tweekeer lang tronkstraf opgelê word vir die langdurige wrede mishandeling wat die 3 maande oue kind moes deumaak en wat haar dood veroorsaak het. Liefdevol en stil persoon, Hy is ‘n krimineel en moordenaar van die eerste waters.

johan ·

Ek kan nie glo n pa doen dit aan sy eie kind nie…Ek sit met trane in my oe….hoe moes daai klein lyfie gevoel het….Wat het sy gedink gebeur met ha as ha Pappa ha elke keer so seer gemaak het……bring daai man vir my asb hy sal nooit ooit weer iemand kan seer maak as ek kla is met hom nie.

Gesiggie ·

Liefdevol… ASB”” Hoe kan jy liefdevol wees en dan so iets aan jou 3 maande baba’tjie doen… jy is siek man… geen mens kan voorgee dat hy so kamstig respekvol is… jy gee voor wat jy nie is…en dan toon jy geen berou…. hoe kry jy dit reg? het jy nie n hart? of besef jy nog nie lekker wat jy gedoen het nie? ek hoop jy word vir lank agter trallies gehou… en eendag dalk eendag as jy wakker word, en besef”’ ek het my kind se dood veroorsaak”’ maybe dan kan n mens jou as n mens sien met respek…en aan die Ma ? al is jy deur Plaatjies mishandel, het dit jou geen reg gegee om dit aan jou onskuldigge Baba te doen. Jul verdien nie om n Ma en Pa genoem te word…

Anoniem ·

Liefdevol…ag asseblief…Sy foto se alles. Hy staanb daar in die hof lag oor wat hy gedoen het…Gewetenlose moordenaar!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Anoniem ·

Die ma (as jy haar n ma kan noem) het net soveel skuld hieraan..Sy het dit toegelaat. Sluit haar toe..gooi die sleutels weg…vergeet van haar!!!!!!!!!!!!!Vir hom is net die doodstraf genoeg!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Louise ·

D.R.I.E maande oud? Sal hy óóit besef watter siek daad hy gepleeg het? Hóé seer moes daai lyfie nie gewees het nie. Daai ma moet ook toe gesluit word!

Kan die doodstraf asb. tog nie terugkom nie?

Ons betaal dat die verskoning van ‘n “pa” elke dag eet, dak oor kop het en selfs kan swot in tronk?!

Nee man ·

By jou familie in krisis staan is belangrik, maar in die geval staan julle familie hom verkeerd by, dit is hoekom daar ‘n 3 maande oue lyk was (wat verskeie kere aangeval is), hoekom het julle nooit by die babatjie gestaan nie, julle is ‘n klomp papperds wat nou by ‘n moordenaar staan en goed praat, wag tot hy jul ook stuk vir stuk vermoor! Jou stuk gemors, jy is so trots dat jy die hofrol en nuus gehaal het met jou eie kindjie se bloed op jou hande!!!! Ek hoop hierdie Mamma het geleer dat ‘n man NOOIT belangriker as jou kind kan wees nie!!!! Mag hy lank sit en nooit daai weerlose baba gesiggie vergeet nie!! So ook die familie, mag haar gesiggie jul altyd bybly asook jul verraad teenoor haar!

neelsie ·

Wat n “”liefdevolle”” moordenaar!!
Het hy gemoor vir of met liefde??
Sy “inmates” sal met hom afreken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.