Pa wat twee seuns glo vergiftig in hof  

Brits-landdroshof (Foto: Maroela Media)

ʼn Man wat sy seuns van onderskeidelik 11 en 12 jaar oud glo vergiftig het, het Dinsdag in die Brits-landdroshof op twee aanklagte van moord verskyn.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê Fistos Khumalo is gister in hegtenis geneem nadat sy twee seuns Vrydag dood op ʼn kleinhoewe in die omgewing van Assen aangetref is. Aanvanklik is net ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen nadat Khumalo gesê sy seuns is dood nadat hulle rotgif gedrink het.

“Dit het met verloop van die ondersoek aan die lig gekom dat die pa na bewering sy seuns vergiftig het. Die motief is nog onbekend en die ondersoek duur voort,” het Mokgwabone gesê.

Die polisiehoof in Noordwes, lt.genl. Sello Kwena, het die voorval veroordeel en sy medelye met die familie betuig. Hy het ook die polisie geloof vir hul werk om Khumalo met die moorde te verbind.

Die saak teen Khumalo is tot volgende maand uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

In ʼn afsonderlike voorval is ʼn 47-jarige man in die Vrystaat vir die besit van vermoedelik gesteelde diamante en ʼn voertuig, asook geldwassery, in hegtenis geneem.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het gesê ʼn polisietaakspan het inligting opgevolg wat hulle gelei het na ʼn huis naby Phuthaditjhaba waar iemand wat glo in besit van gesteelde voertuie en ʼn onwettige wapen is, woon.

“ʼn Silwer BMW met Noordwes-registrasienommer is op die perseel gevind. Nadat dit nagegaan is, het dit aan die lig gekom dat die voertuig nie as gesteel aangemeld is nie, maar wel vals nommerplate het. ʼn Hele aantal ander nommerplate is ook in die verdagte se besit gevind.

“Ammunisie, selfone, ID’s, stene wat lyk soos diamante en ʼn bedrag kontant is ook gevind. Die verdagte het glo die polisie met R10 000 probeer omkoop, maar hulle het geweier en hom in hegtenis geneem.”

Die polisie het die gemeenskap vir die wenk bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
marius

Rottegif in vloeibare vorm ?