Pa weet nog nie van seun se dood ná brand

JJ van Wyk (Foto: Verskaf)

JJ van Wyk, die 54-jarige man wat Sondag saam met sy seun in ’n veldbrand naby Hammanskraal, noord van Pretoria, vasgekeer was, weet steeds nié van sy seun se dood nie.

Van Wyk is in ’n geïnduseerde koma geplaas nadat hy brandwonde aan sy hande, arms, gesig en nek opgedoen het in ’n desperate poging om sy seun van die vlamme te red. Sy seun, Henry, het Maandagaand in ʼn Gautengse hospitaal aan sy beserings beswyk.

Johan Loots, mediakoördineerder van die Lusthof-gemeenskapspolisiëringsforum, het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê Van Wyk word steeds in die Netcare Milpark-hopsitaal in Johannesburg behandel. As alles goed gaan, sal hy na verwagting oor die naweek stadig uit die koma gebring word.

Henry van Wyk (Foto: Verskaf)

Volgens Loots waak Van Wyk se vrou by sy hospitaalbed en het sy besluit om nog nie die tragiese nuus oor hul seun aan hom te breek voordat hy by sy volle positiewe is nie. “Ons almal dra maar partykeer twee hoede. Sy moet nou twee hoede dra as sy by hom is.”

Loots sê Van Wyk het reeds plastiese chirurgie aan sy arms ondergaan. Dokters het vel oorgeplant en is positief dat hy goed sal herstel. “Dinge lyk goed en hulle is tevrede,” sê hy. Van Wyk het genadiglik minder ernstige brandwonde opgedoen as wat aanvanklik verwag is.

Loots vertel dat die Van Wyk-familie sterk probeer wees in hierdie tyd, maar duidelik swaar kry ná Henry se dood. Veral Henry se jonger broer sukkel om Henry se dood te verwerk. “Sy boetie was alles vir hom.”

Die hele Lusthof-gemeenskap naby Hammanskraal is geruk deur wat met dié pa en seun gebeur het, vertel Loots. “Henry se dood is ’n groot verlies vir ons. Ons is ’n gehegte gemeenskap en ons staan saam.”

Hy verduidelik dat hy en drie ander gemeenskapslede wat ook op die toneel was toe JJ en Henry deur die vlamme oorval is, vandeesweek saam in ’n vergadering was en begin praat het oor die onlangse verlies van jong lewens weens brande. “Dis jongmanne van hul gemeenskap,” sê ’n emosionele Loots. Hy verwys na vorige gevalle, onder andere ’n matriekseun van Reitz in die Vrystaat wat ook tydens ’n veldbrand deur vlamme oorval en later dood is.

Volgens Loots sal die Lusthof-gemeenskap Vrydagaand ’n eremars ter ere van Henry by die Van Wyk-familie se kleinhoewe hou. ’n Spreker sal die gemeenskap op dié aand toespreek. Jongmense van die omgewing het ook besluit om T-hemde vir die geleentheid te laat druk. Alle geld wat hierdeur ingesamel word, sal na die gesin gaan.

Maroela Media het vroeër berig dat JJ en Henry ’n veldbrand help blus het en nadat die brand grootliks onder beheer was, nog op die toneel gebly het om ʼn ogie oor die laaste vlamme te hou. Die wind het gedraai en die twee mans is teen ʼn veiligheidsheining vasgekeer. Henry is deur die vlamme oorval. JJ het sy seun uit die vlamme gegryp en dit verwoed met sy hande probeer doodslaan. Albei is ná die voorval met ernstige brandwonde na hospitale gehaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KG ·

Dis bitter hartseer, my hart gaan uit na die Van Wyk familie en vriende. Baie sterkte in hierdie moeilike tyd.

jakes ·

Hartverskeurend en tragies. Ons bede is met die familie en vriende.

Blompot ·

Die is so bitter hartseer en so onselfsugtig en DAPPER. Ohhh mag die Engele van die Hemele hierdie mense omring, hier is soveel soveel seer… Ek huil elke keer as ek hieroor lees.

waarheid ·

Die pa gaan so so hartseer wees.
Ai ek kry die pa en ma vreeslik jammer.
Dink aan julle en sterkte vorentoe.

Sandra ·

Na ‘n week uit geïnduseerde koma beteken dat pa baie gou gaan herstel en sy vrou sal kan bystaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.