Pa weier steeds om te sê waar Liam is

Cheinelle saam met Liam.

Die pa van die driejarige Liam Nortjé weier steeds om te sê waar dié blondekopseuntjie hom bevind.

Nantes Nortjé (47), Liam se pa, het vroeër die week weer in die Harrismith-landdroshof in Vrystaat verskyn en is borgtog geweier. Hy is verlede maand in Ladysmith in hegtenis geneem, maar daar is steeds geen teken van Liam nie en hy weier steeds om te sê waar die kind is.

Cheinelle Nortjé (42), Liam se ma, het intussen vandeesweek haar vervreemde man die eerste keer in maande gesien en by hom gepleit om te sê waar Liam hom bevind. “Hy weier net om te sê. Hy het gesê ek het hierdie [situasie] oor myself gebring en dat ek hom van sy kinders vervreem en hom weggestoot het. Ek is emosioneel gedaan.”

Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het gesê die dossier is na die direktoraat vir openbare vervolging (DOV) gestuur vir ʼn besluit oor wat volgende moet gebeur. Nantes word van ontvoering aangekla, maar daar word ook oorweeg om hom nou van moord aan te kla al is Liam nog nie gevind nie – in ʼn poging om te kyk of hy dan sal sê waar Liam is.

Mophiring het gesê hulle word intussen van bakboord na stuurboord gestuur met leidrade en wenke oor waar Liam hom moontlik bevind. Daar word intussen ook gekyk na die moontlikheid om Nantes van minagting van die hof aan te kla.

Die driejarige Liam

Liam word sedert November vermis nadat Nantes saam met sy seuntjie verdwyn het. Nantes het ná sy inhegtenisneming glo gesê hy het die kind vir mense gegee wat nie kan kinders kry nie. Daar word intussen steeds onverpoosd na Liam gesoek.

Nantes het in ʼn plakkershut in Ladysmith gewoon toe hy aangekeer is en het glo loswerkies soos sweiswerk gedoen.

Nantes het glo met Liam verdwyn nadat Cheinelle vir hom gesê het sy wil hul huwelik beëindig. “Hy het allerhande beskuldigings gemaak. Hy het gevra vir ʼn tweede kans en ek het gesê ek kan dit nie waarborg nie, en toe verdwyn hy met Liam,” het sy gesê.

Volgens Nortjé het sy die laaste keer van Liam gehoor toe Nantes oor die telefoon vir haar gesê het sy gaan haar kind nooit weer sien nie en sy gehoor het hoe Liam in die agtergrond skreeu. Liam se sussies is 18 en 15 jaar oud.

Enigiemand met inligting oor waar Liam moontlik kan wees, kan kol. Lekhoali Thito by 082 414 9736 bel of Tania of Wendy van die Suid-Afrikaanse ondersteuningsinisiatief (Sasi) by 084 830 1031 of 064 648 1577.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Geskok ·

Hierdie is vreeslik. Hoe kan n mens so gemeen wees om n kind van sy moeder te vat omdat hy nie sy sin kon kry nie. Ek huil saam met die vrou en ek bid dat Liam vinnig oogespoor sal word. Sterkte

W. Bolton ·

Harrismith is in die Vrystaat en nie in KwaZulu Natal nie.

Oeps Nee! ·

Daar is seker een in KZN ons weet net van die 2de een nie. Meskien kan Jaco Strydom ons help.
Die ou bly nou lekker in die tronk en hoef nie te sukkel met kos en blyplek nie.

Meraai ·

Dit is vreeslik!!!!!! As hy die kind gegee het vir aanneming sou die ouers allank al uit gekom het! Ek kry die gevoel dat die kind nie meer lewe nie.

Ilze ·

Ek dink ook so want as iemand hom gehad het sou hulle mos gesien het hy word gesoek. Dit bly maar hartseer

Sandy ·

Ek kan my nie eens indink wat die Liam se ma deur gaan nie. Ek is ‘n ma, en die blote gedagte aan my kind wat weg is sal my mal maak. Die feit dat hy vir haar gese het dat sy die “situasie” op haarself gebring het klink baie verdag. Ek hoop hul kry die klein Liam in goeie gesondheid. Voorspoed aan sy mamma.

VanAfrika ·

As niemand die kind het nie en die kind sou nog by die pa gebly het en pa word nou borg geweier, WIE VOER HIERDIE KIND???, dis nou as hy nie klaar die kind vermoor het nie. “SCARY”

Kobus ·

As n pa so optree sien ek geen rede hoekom hy nie al die kind vermoor het nie.

KryHom ·

Dit is ongehoord ! In die verlede sou hy lankal ‘n vrywillige bekentenis en uitwysing gemaak het aan ‘n Moord en Roof speurder.

Lourens ·

Harrismith is in die Vrystaat. (ek het daar grootgeword). Ladysmith is in Kwazulu Natal (ek is daar gebore).
Wat ‘n hartseer storie. Sterkte aan die familie. Ek kan my nie die angs van almal indink nie. Dink so baie aan julle.

Mariné Lourens ·

Dagsê Lourens

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Oujongvrou ·

Kla hom aan van moord. Hy weet daai kind is dood en dis hoekom hy niks wil se nie.

Marinda ·

Hoekom gebruik party ouers kinders as pione as dinge skeef loop?

Ek dink jy moet maar eerder beken waar die kleinding is Mnr en hoe vertrou mens vreemdes met jou kinders in vandag se tyd? Indien hierdie seun nog leef is hy erg getraumatieseerd? Hoe doen jy dit aan jou eie kind? Hoe slaap jy in die nag? Waardeer gaan hierdie kind nie?

Ek hoop hulle vind die seuntjie veilig. Sterkte.

Stomgeslaan ·

Daar is tog metodes om inligting uit mense uit te kry? G’n wonder sy vrou het hom gelos nie. Die man is van sy verstand af.

Gesiggie ·

Genade kan niemand n plan maak om die Pa te maak praat?? daar moet n manier wees.. hierdie Ma gaan deur hel, al wat sy wil weet is of haar seuntjie veilig is, Mev steL iemand aan om jou te help gaan soek waar jy dink hy sal wees hierdie Pa vergeld kwaad met kwaad en dit gaan hom niks help, al wat hy doen is om die kind se lewe deurmekaar te gooi… Liam soek sy Mamma, hoe moet mens nie weet hoe hy huil elke dag… asb iemand doen iets”’ om die kind te kry…. DIE PA MOET PRAAT….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.