Pa wil ander ouers waarsku ná seun (6) se ongeluk

Klein Danny Ackerman in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

ʼn Ouerpaar van Vanderbijlpark wag angstig vir mediese spesialiste se diagnose oor die presiese beserings wat hul sesjarige seuntjie opgedoen het nadat ʼn swaar betonwasbak Saterdagoggend op hom geval het.

Danny Ackerman word tans in die Sebokeng- provinsiale hospitaal behandel nadat hy ernstige beserings, veral aan sy gesig, opgedoen het. Presies wat die omvang van sy beserings is, is egter nog onduidelik, sê Danie Ackerman, Danny se pa.

“Hulle het oor die naweek x-strale van sy gesig geneem en ʼn CAT-skandering gedoen, maar ons wag nog vir spesialiste om presies te sê wat sy beserings is en hoe die pad vorentoe lyk,” sê Danie. Hy verduidelik dat hulle eers sal moet weet watter behandeling en moontlike rekonstruksie-chirurgie Danny sal moet ondergaan voordat hulle dit kan oorweeg om hom na ʼn private hospitaal te laat oorplaas, aangesien dié behandeling tot R2 miljoen kan beloop.

Die Ackerman-gesin woon nou eers vyf weke in die huis waar die voorval plaasgevind het. Danie vertel hy is dus nog besig met restourasie- en herstelwerk in en rondom die huis. Aan die buitekant van die huis is ʼn swaar betonwasbak wat die gesin gebruik het om komberse in te was wat nie in die wasmasjien kan pas nie.

“Ek was reeds vooraf bekommerd die wasbak is dalk nie stewig genoeg nie en was van plan om hom na die ander kant van die huis te skuif. Ek het vroeër probeer om die wasbak op te tel, maar dit is heeltemal te swaar vir een man om alleen op te tel. Ek het daarom gewag dat my tuinwerker kom, sodat hy my kan help om die wasbak te skuif,” sê hy.

Hy vertel hy was Saterdagoggend besig om die stoep buite die huis te vee, toe hy sien hoe Danny sy handjies op die rand van die wasbak neersit. “Ek het vir hom gesê om weg te kom daar, maar die volgende oomblik het ek net gesien hoe hy sy voetjies van die grond af lig en toe kom die wasbak vooroor.”

Danie sê hy het dadelik nader gehardloop en gegryp om die wasbak te keer, maar was net-net te laat. Die wasbak het bo-op Danny geval en die hoek van die betonstruktuur het sy gesig getref. Met bonatuurlike krag het Danie die wasbak van Danny af getel, hom gegryp en in die motor gelaai en na ʼn nabygeleë mediese sentrum toe gejaag.

Danny Ackerman na die ongeluk. (Foto: Verskaf)

“Daar was verskriklik baie bloed. Sy neus, sy mond, sy oë, alles het gebloei,” sê hy. By die sentrum het personeel dadelik gespring om die ergste bloeding stop te sit waarna Danny per ambulans na die Kopanong- provinsiale hospitaal in Vereeniging geneem is.

Daar is x-strale en die CAT-skandering gedoen en Danny is ure lank in die ongevalle-afdeling gemonitor. Danie sê die klein seuntjie was deurentyd by sy bewussyn en het byna elke halfuur bloed opgegooi.

Omstreeks 02:00 Sondagoggend het dokters besluit om Danny na Sebokeng oor te plaas waar hy in ʼn saal opgeneem is. Danie sê dokters het hom en sy vrou laat gistermiddag laat weet dat Danny egter na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal oorgeplaas sal moet word, aangesien Sebokeng nie ingerig is om hom te behandel nie.

Intussen is ʼn hulpfonds gestig om geld in te samel om Danny na ʼn private hospitaal te laat oorplaas. Dit sal egter eers gedoen kan word wanneer daar meer duidelikheid oor die omvang van sy beserings en die nodige behandeling is.

Intussen waak die Ackerman-egpaar langs hul seun se bed terwyl daar gewag word op terugvoer van spesialiste. “Danny is wakker en hy gesels so ʼn bietjie met ons, maar hy is baie moeg. Sy gesig lyk baie sleg vanoggend en al twee sy oë is toegeswel,” sê Danie.

Danny Ackerman in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Danie beklemtoon dat dié ervaring hom opnuut laat besef het hoe vinnig en onverwags so ʼn ongeluk kan gebeur. “Ek wil ander ouers waarsku en hulle bewus maak dat die kleinste alledaagse dingetjie ʼn ongeluk kan wees wat wag om te gebeur – iets wat jy nie in ʼn miljoen jaar sou dink sal gebeur nie,” sê hy.

Hy sê hy sou nooit kon voorsien dat Danny in staat sou wees om die swaar wasbak om te trek nie. Hy vertel hy het ná die voorval probeer om die wasbak weer op te tel om te skuif, maar kon dit glad nie beweeg nie – dit is net te swaar.

“Ouers moet bewus wees van elke klein dingetjie wat ʼn gevaar vir hul kind kan inhou. ʼn Hek wat van sy spoor af gaan, ʼn boomtak wat kan val, ʼn hekmotor wat nie behoorlik werk nie – al die goed moet ouers raaksien. Dit is my hoop dat dié aaklige gebeurtenis vir ander ouers as waarskuwing dien om seker te maak hulle is bewus van al die moontlike gevare op hul eie erwe.”

[Red] Hierdie berig is aangepas sedert dit oorspronklik gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Ronel ·

Baie baie sterkte. Ons bid dat hierdie seuntjie geen permanente ernstige beserings sal oorhou nie.

Deloris ·

Ai julle baie sterkte en wens hom n spoedige herstel tie.

Melanie ·

Jo-anne ek verstaan presies wat jy bedoel. Daar is mense wat regtig baie swaarkry. Dit is nie net medies wat duur is. Verblyf. Kos, skoolfonds, petrol….noem maar op. Ek wens ek kon hierdie gesin finansieel help.

Ria Maritz ·

Baie sterkte kleinman. My hart breek vir jou. Aan die ouers, sterkte vir julle ook.

Werner ·

Ai boeta, ek hoop jy voel gou beter. My hart kry seer on jou so te sien. Ek het self 2 rowwe kindertjies en weet hoe vinnig so ongeluk kan gebeur. Danie, moet nie jouself verkwalik nie, dit kon met enige iemand gebeur. Kom ons wees saam dankbaar Danny leef want dit kon soveel erger gewees het. Sterkte vir julle.

Charlie ·

Ek stem saam, ek betaal medies al moet ek ander luukshede los. Ry nie ‘n nuwe voertuig en kan nie bekostig om als te doen wat ander kan nie. Maar as daar fout kom wil ek weet my gesin word behandel deur die beste. Sonder enige wag vir hulp.

San ·

Kan nie glo dit neem so lank om diagnose te maak nie. Die klein seuntjie se behandelingsplan moes al Saterdag begin het. Arme lyfie. Sterkte

Mariaan ·

Ag shame..so mooi seuntjie so seer gekry..my hart sommer seer…alle sterkte aan julle en ons glo hy sal die nodige mediese hulp kan kry…

Miekie ·

Aan Danny en sy ouers baie sterkte . Hoop Danny word gou beter en sal met die tyd heeltemal herstel. Wat mediese fonds aanbetref. Jy betaal ten duurste. Ek het kamstig ‘n goeie mediese fonds. Beste wat ons Medies bied. Ek moes twee jaar terug ‘n nuwe kunsbeen kry. Ek bly in Randburg en het drie kwotasies hier naby gekry. Die mediese fonds stel toe iemand voor en aanvaar die kwotasie waarvoor ek nie eens was nie maar die mense is in Pretoria. Toe ek die plek bel om te hoor waar hulle my mates gekry het wattter grote voet was hulle verbaas dat ek dan nog nie daar was nie. Dit kom toe uit die een man by die mediese fonds se broer hanteer die bene afdeling waar ek nou kastig moet gaan. Dit kom toe uit dat die man van die mediese fonds almal met kunsledemate na sy broer stuur. Ek het ‘n bedrogsaak geopen. Natuurliks nooit weer iets gehoor nie

Dries du Toit ·

Dit is so ontslellend. Woorde van simpatie klink so leeg. Ons bid vir julle. Net ons liewe Vader kan vertroosting gee

Wilma ·

My oorlede moeder het gese versigtigheid is die moeder van alle wysheid. Sterkte vi seuntjie en geliefdes. Vertrou Jesus sal hom genees

Johanna ·

Ag die arme ou dingetjie. Ek bid vir julle. Hoop hy word gou oorgeplaas na n privaat hospitaal.

Gesiggie ·

Dit is so hartseer dat so iets moet gebeur en dit is partykeer iets buite n ouer se bereik… ek kan net dink hoe erg dit vir Pappa Danie moet wees en al die eina wat klein Danny nou moet deurgaan. Sterkte aan jul as ouers en aan Danny mag Liewe Jesus jou aanraak en gou beter maak jy is n vegter en weet dat een van die dae is als weer reg. Mag als goed afloop vir jul.

barend ·

Ek het groot geword met so n beton trof wasbak buite die huis ,dit staan op twee beton voetsukke wat die trof in staan .die wasbakke is baie swaar ,nou wil ek n klip in die bos gooi
ek was oor paas naweek by Badplaas ,die kinders het met hulle fietse in die badkamers rond gery ,hulle het op die wasbakke rond gehardloop en ge spring .Kinders moet leer waar om te speel en die gewaare raak te sien .

Willem Grobler ·

Mag die Goeie Vader sy hand oor dié seuntjie hou asseblief!

Marna ·

Alle sterkte aan almal, mens kan maar net bly wees dat Pappa daar was om hom te help en dat dit nie gebeur het terwyl hy alleen buite gespeel het nie. #SelfnMammaVanTweeWoelwaters

Ann ·

Baie sterkte seuna … ek sal graag my verhaal ook wil deel om mense bewus te maak van hoe vinnig ʼn ongeluk kan gebeur. Alhoewel my seuntjie se verhaal al amper 9 jaar gelede gebeur het, is dit tot vandag toe vir ons ʼn algehele eye-opener gewees. Mens besef dat agterna-verwyte nie sal help om dit ongedaan te maak nie, en ook nie “as ek maar…..” nie. Sulke dinge gebeur om jou te toets. Kom jy daardeur, al is dit met geestelike en emosionele letsels, slaag jy die toets met vlieënde vaandels.
Sterkte aan die pappa – en onthou dat ongelukke gebeur, dis nie jou skuld nie!!

Ranay Daniels k ·

Vreeslik jammer om te Lees, ek verklaar dat God hom gou gou Sal gesond maak, in Jesus magtige naam.
Baie sterkte.

J ·

Die Here se genade is groot hou vas aan Jesus die seuntjie sal ongedeerd deur druk in Jesus naam bid ek dit…Amen medies of the not die Here se hand is groter as dit hou vas

Mark ·

Here, ek bid dat u krag hierdie seuntjie volkome sal genees, tot ere van u Heilige Naam. Amen.

Feit ·

Feit is jy was nalatig, pa. Jy het geweet vd gevaar maar niks gedoen om dit te verhinder nie. Waarom het jy nie iets stewig rondom en onder die ding gesit terwyl jy gewag het tot jy dit kon skuif met n ander se hulp nie. Jy was nalatig

Ekke ·

Feit, dis lekker om klip te gooi ne! Ek hoop net nie die klip spring terug in jou rigting nie.

JohanL ·

Ek daag elke liewe persoon wat hier gereageer het en skryf dat mens ‘n mediese fonds moet kry ongeag jou situasie, om ‘n donasie te maak vir Danny se herstel. Ek het reeds gisteraand my bydrae gemaak en kan maar net hoop en bid dat dit wel ‘n verskil sal maak.

IE ·

Baie sterkte aan die gesin. Boeta hoop jy word sommer gou gesond. Ons moenie vingers wys nie. Die lewe is so duur dat deesdae los ons Medies om kos op die tafel te kan sit. Kom ons probeer liewer help dit het klaar gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.