Pa wil beweerde moordenaar in die oë kyk

Andrea Venter (Foto: Investigative Psychology Unit, Facebook)

Meer as ʼn dekade ná die gru-moord op Andrea Venter (25), sal haar gewese kêrel en vermeende moordenaar, Gerhard Jansen van Vuuren, se verhoor Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg afskop.

Andrea is in 2011 glo deur Jansen van Vuuren buite haar woonkompleks in Johannesburg doodgesteek.

“Ek is bly dat geregtigheid nou eindelik gaan geskied. Die uitstel van die verhoor het ons lewens ontwrig,” het Andrea se pa, Dries Venter, aan Maroela Media gesê.

Jansen van Vuuren het in Mei 2013, vier dae voordat die verhoor aanvanklik sou begin het, met vervalste reisdokumente uit die land na Brasilië gevlug. Interpol het hom in Junie 2020 opgespoor en hy is na Suid-Afrika uitgelewer.

Jansen van Vuuren se verhoor is verlede jaar al twee keer uitgestel.

‘n Destydse foto van Gerhard Jansen van Vuuren.

Venter het vroeër aan Maroela Media vertel hy ervaar frustrasie met die sloer van die saak, maar hy sal geduldig wag tot die dag wanneer Jansen van Vuuren se vonnis opgelê word.

Venter sê hy verwag die hofsaak gaan emosioneel wees. Hy het vroeër ook vertel hoe hy ʼn brief aan Jansen van Vuuren geskryf het. Hy beoog om dit môre aan hom te oorhandig.

“Ek sal graag hom in die oë wil kyk as ek dit vir hom gee, maar as ek nie kan nie, sal ek dit aan die advokaat oorhandig om dit vir hom te gee.”

Beeldmateriaal van die kringtelevisiestelsel in die veiligheidskompleks in Lonehill, Johannesburg, waar Andrea gewoon het, wys hoe sy vanuit die kompleks na die hek probeer vlug en dan van agter af deur ’n persoon met ’n mes aangeval word. Jansen van Vuuren is as die man in die video geïdentifiseer.

Volgens Venter het Jansen van Vuuren Andrea omtrent 12 keer met ʼn mes in die rug gesteek. Sy het nog vir so 150 meter vorentoe probeer hardloop. Toe steek hy haar weer twee keer in die skouer en kuit. Laastens het hy haar hoofslagaar in haar nek gesny en toe die mes in sy eie nek gesteek in ’n poging om selfmoord te pleeg.

Andrea is op die toneel dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank

Die Groot Regter wag vir jou, boetman!. Dis nou die een ontmoeting waar jy nie van kan vlug nie.

Pablo

10 jaar vir die saak om te vorder. Genade wat n patetiese regstelsel. Raak ontslae van ou Ramaphosa en stel Zondo as President aan. Die man het n brein en is uitstekend in wat hy doen. Hy het beslis my stem.

Desiré

Gerhard Jansen van Vuuren se daad is op kamera vasgevang, daar was ook ooggetuies. Die saak sloer want hy het spoorloos verdwyn en ń lekker rustige lewe gelei in Brazilia, waar hy saam met ń vrou gewoon het. Hy is positief geïdentifiseer en uitgelewer aan SA. Hoopelik sal reg en geregtigheid nou geskied en sal hy boet vir sy dade.

Casper

Jou naam is nie in die boek van die Groot Meester aangeteken nie so jy gaan te vergeefs pleit vir genade.Gaan lees Mat.6:33 as jy nie weet waarvan ek praat nie.

Marianne

Tragies vir beide families. Betaal sal jy!