Paaie in die Thabazimbi en Lephalale (Ellisras)-omgewing in Limpopo word gemonitor nadat ʼn vloedwaarskuwing vir die omgewing uitgereik is.
Konst. Moshira Modise, ʼn polisiewoordvoerder van Thabazimbi, het Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê die omgewing se verkeersdepartement en rampbestuur vergader tans om die moontlikheid te bespreek om sekere paaie te sluit, aangesien hulle verwag dat vloedwater vanaf die Hartbeespoortdam moontlik die omgewing teen 20:00 kan bereik. Ellisras se watervlakke is reeds hoog na swaar reënval in die gebied. Klik hier om foto’s van die dorp in vloed te sien.
“In die stadium is daar nog nie paaie wat gesluit is nie, maar die paaie word gemonitor,” het Modise gesê. Sy het gesê die plaaslike radiostasie Jacaranda FM sal lesers op hoogte hou van verwikkelinge. Inwoners kan ook die TCCC – Thabazimbi Crisis Control Centre se Facebook-blad dophou.
Boere en inwoners van die omgewing word aangeraai om hul noodradio’s byderhand te hou.