Paaie lewensare wat samelewing verbind

Slaggate op die pad tussen Memel en Vrede. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se paaie is die lewensare van die samelewing. Dit speel nie net ʼn kritieke rol in die ontwikkeling van landelike gemeenskappe nie, maar is ook deurslaggewend om ekonomiese vryheid aan miljoene van die land se armstes te bring.

Benewens die lewensverlies wat die land se swak padinfrastruktuur op die platteland veroorsaak, is die kommersiële verliese enorm, sê Agri SA. Die organisasie het Dinsdag omvattende navorsing oor die verslegtende padnetwerk bekend gemaak.

Maroela Media het vroeër berig ʼn geraamde R12 miljard aan landbouprodukte is die afgelope boekjaar per pad vervoer. Die bedryf dra R128 miljard tot die BBP by en die sektor is een van die enigstes wat die afgelope ruk kon werk skep.

Lebogang Sethusha, verbonde aan Agri SA se arbeidsentrum van uitnemendheid, sê egter daar moet na meer as rand en sent gekyk word. “Ons kan vergeet van werkskepping as ons nie noemenswaardig in landelike infrastruktuur belê nie. Funksionerende paaie is die kern van ons ekonomie; ons kan nie bekostig dat dit ons agilleshiel is nie.”

Sethusha sê behoorlike paaie is ʼn bate vir ʼn gemeenskap waarmee ʼn inkomste geïn en werk geskep word. Dit lei tot verhoogde produktiwiteit en speel ʼn kritieke rol in die lewering van basiese dienste. Toegang tot gesondheidsdienste en onderrig is basiese regte en boere speel reeds ʼn noemenswaardige rol om dit moontlik te maak.

“Paaie verbind produsente aan markte, werkers aan werksgeleenthede en siekes aan hospitale en is baie belangrik vir enige ontwikkeling- en werkskeppingsplan.”

Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, sê slegte paaie verhinder die lewering van goedere en dienste, het ʼn regstreekse uitwerking op die ekonomie, verhoog die koste om sake te doen, pootjie die lewering van voedselitems, verhinder werkskeppingsgeleenthede én veilige reise.

La Marque sê ʼn proaktiewe gemeenskapsgebaseerde benadering tot infrastruktuur is nodig en spesifieke belangrike ekonomiese nodes moet geprioritiseer word.

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die koste aan herstelwerk beloop na raming miljarde, maar hy meen ook daar moet verder as die randwaarde gekyk word. “Het ons regtig al daardie geld nodig om herstelwerk te doen, of benodig ons net ʼn meer doeltreffende manier?

“Ek het ook ʼn idee heelwat van die geld word vir tenderpreneurs opsy gehou. Nuwe paaie is ná net ʼn paar maande in ʼn afgryslike toestand en dit is wat ons moet pak. Geld word nie slim bestee nie en eindig in iemand se sak,” sê hy.

Jaco Minnaar, president van Agri SA, sê die oplossing lê nie in die kort termyn nie, maar in deurlopende instandhouding, behoorlike infrastruktuur en opleiding.

Hy benadruk ook dat die uitwerking eindelik veel meer as net ekonomies is. “Die maatskaplike uitwerking is enorm. Indien jy paaie wegvat, ontneem jy mense van hul inkomste. Toestande is sleg en versleg verder. Ons moet dit stuit,” sê Minnaar.

“Ons het ʼn maatskaplike gesprek rakende die rol van paaie nodig.”

*Grafiekinligting verskaf deur Agri SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Dit het tyd geraak dat ons ons swaar verdiende inkomstes in ‘n ander rekening as die Regering s’n inbetaal. Dit het ook tyd geraak dat ons die magsbehepte, onbevoegde klomp korruptes vaarwel toeroep. Dit het tyd geraak dat ons almal, ongeag ras, hande vat en die land bestuur. Daar is nie meer plek vir politiek in ons samelewing nie. Ons kan dit doen, ek is seker daarvan. Indien ons net wil. Daar is plek vir almal wat wil saamwerk. Ons kan in liefde en vrede saamleef indien dit nie vir die politiek was nie. Ek is bereid om saam met enige mens te werk indien hy/sy daardie posisie verdien het. Die bakhandjies moet ook moue oprol of hul tassies pak en teruggaan daar waar hulle vandaan kom. Dit sluit veral die Regering in. Ek is seker daarvan ons sal julle tasse vir jul koop, dit vir jul pak, jul kaartjies koop na enige plek van jul keuse, jul lughawe toe neem, jul tasse vir jul dra, jul op die vliegtuig laat sit, jul gordels vir jul vas sweis, en vir jul waai wanneer die vliegtuig opstyg.

annie ·

Watter ander infrastruktuur onder ANC-kader se leiding getuig van beter onderhoud? Van jaar tot jaar veg die ANC onder mekaar oor wie die beursie gaan dra en die prez kruip vir sy pos. Hoe gaan dinge beter word wanneer Zimbabiërs hierheen stroom maar ons regering hul bloudruk naboots. Nie eens die Limpopo in vloed gaan die vloedgolf van agteruitgang stuit nie. Afrika boer net in trurat.

Ou Baardbek ·

Hierdie probleem kom ‘n vêr pad, sedert en direk daarna van “oorname”. Huidige operateurs van padwerk masjiene van die Paaie Administrasie, (waar dit nog bestaan!!), beskik skynbaar eenvoudig nie oor die vermoë om te besef dat daar ‘n goeie rede is/was vir aflei pype onderdeur paaie nie. Die pype word eenvoudig stukkend geskraap, dis nou AS daar enigsins geskraap word, en word nie herstel of vervang nie. Die “Administrasie” word hiermee uitgedaag om die teendeel te bewys; dan voorsien ons die detail en foto’s in die hof!!

Miskruier ·

Sien dit, pype wat meter diep begrawe is, lê nou soos n spoedhobbel oor die grondpad. Die ou wat skraap, voel vêre vir die pyp.

domheks ·

Kom on daag die CancER uit om daadwerklik iets positiefs te doen ivm die pad netwerk! Ou Rama kan net goeie woordjies praat, maar dit bly by praat. KOM DOEN NOU IETS DAADWERKLIK!

Genis ·

Dit het so lekker in Pretoria gereen, ons potholes is 80% vol…

JohanR ·

Miskien kan daar groente in die slaggate gekweek en verkoop word?

Toy ·

Dis ‘n absolute skande dat die land so verniel is deur mense wat selfbehep is, die geld het beslis nie gegaan waar dit moes om die paaie in stand te hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.