Paar desperaat ná hond tydens kitsvloede verdwyn

Foto: Facebook.

Toboe. Foto: Facebook.

ʼn Johannesburgse paartjie het hulle tot sosiale media gewend om hulle vermiste bulterriër op te spoor. Die hond het tydens die kitsvloede in Johannesburg in Edenvale verlore geraak.

Toboe (uitgespreek “tow-boy”) het verlede Woensdag vermis geraak nadat swaar reën oor Gauteng uitgesak en dele van Johannesburg deur kitsvloede getref is.

Michael Bowen, Toboe se eienaar, het aan Maroela Media vertel dat hy en sy verloofde, Chantal Levings, eers onlangs na Edenvale verhuis het. “My verloofde is swanger en ons het ingetrek en meubels gekoop om reg te maak vir die koms van die kleinding.”

Volgens Bowen het dit omstreeks 18:00 hard begin reën. “My skof duur tot 19:00 en my verhuurder het my teen 18:30 gebel en gesê dat ek nou huis toe moet kom en dat daar groot fout is”.

Bowen het gedink Toboe sou oukei wees omdat hy in ʼn toegemaakte stoeparea was. “Ek het gedink hy sou dalk net bietjie nat word maar toe my verhuurder bel was Toboe se veiligheid al waaraan ek kon dink”.

Skade deur die kitsvloede aangerig aan hulle woning. Foto: Facebook.

Skade deur die kitsvloede aangerig aan hulle woning. Foto: Facebook.

Volgens Bowen het water erg opgedam op die eiendom waar hulle en ander huurders woon. Dele van die eiendom se grensmuur het ineengestort en die plaveisel het opgelig. Bowen het dadelik na Toboe begin soek maar hy was skoonveld.

“Ons het al ons nuwe meubels en al ons besittings verloor en ons het nie versekering gehad nie,” het Bowen gesê.

Intussen is die Facebook-blad “Find Toboe (lost in Edenvale floods)” begin om Toboe te probeer opspoor. Volgens Bowen is Toboe glo al ʼn paar keer gewaar in onder meer Kemptonpark en Maandag in Benoni. “Ons het net ʼn R1 000 oorgehad maar die wonderlike gemeenskap het gehelp dat ons ʼn beloning van R7 000 kon uitloof vir Toboe.”

Bowen het gesê hulle glo dat Toboe nog lewe, maar genoem dat daar nou dalk ʼn moontlikheid is dat iemand hom aanhou met ʼn verskuilde agenda.

“Hy is al ses jaar oud, ek het hom vandat hy ʼn baba was. Hy was my eerste bulterriër. Ek probeer nou maar vir Chantal rustig hou tydens die swangerskap maar sy is net so hartseer. Hoewel ons alles verloor het, soek ons net ons hond terug. Ek het hom belowe ek sal nie rus voordat ons hom gekry het nie. Ons wil ons familie terughê”.

*Intussen het ʼn egpaar van Springs ʼn R20 000-beloning uitgeloof vir hul drie jaar oue Staffordshire-terriër, Neena, wat op 29 Julie in Geduld vermis geraak het.

Foto: Facebook.

Foto: Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Denise ·

Dit is baie hartseer hoop julle kry hom trug !!!! Dit is net so hartseer dat julle soveel skade gehad het met die vloed hoop al die mense wat nie versekering het nie kry elkeen n helpende Engel !!!! Sterkte Michael en Chantal !!!!

Alan ·

Sterkte julle, my Bullie was vir twee jaar weg en ek het hom weer gekry. Ek hoop julle is ook so gelukkig.

Victor ·

Wonderlik, ek het self ‘n bullterrier gehad – daar is nie ‘n beter hond nie!

Grant ·

Dit is vir absoluut hartverskeurend. Baie sterkte en hoop regtig vir ‘n wonderwerk.

charlene ·

Aai dis so baie hartseer – en ek is so bly die mense kom help dat julle die beloning meer kan maak, ek hoop net julle vind hom voor die verkeerde mense hom kry. Dis liefdevolle honde wat in die verkeerde mense se hande beland wat hulle `n slegte naam gee. En ek hoop Nenna word ook gevind. Ek sal ook enige iets doen vir my 3 honde en katjie (Diere is deel van ons) en die liefde wat julle vir julle diere het spreek baie oor watse mense julle is.

Madie ·

Wow, baie dankie Maroela dat jul uiteindelik ook Neena se berig geplaas het nadat ek jul reeds op die 16de Aug 16 gesmeek het om Neena se mense te help!! Ek hoop van harte dat beide hierdie hondekinders gevind sal word. Albei is absolute hartverskeurende verhale!

CQ ·

Baie jammer om dit te sê,maar as jou hond of kat so lank weg is soos hierdie van Julie al… is daar nie meer hoop nie. 1week 2 weke dalk, maar maande???neewat.jammer maar maak vrede daarmee. Jou hondjie is weg.

Annalise ·

Ek sien daar is n verlore staffie gevind wat net soos neena lyk op my facebook. Die hond word gehou by Wollies Animal Project. Het ongelukkig nie n tel nr nie. Maar dalk net miskien..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.