Paarl-plaasaanval: Gesin aangehou, beroof

Argieffoto

ʼn Egpaar en hul dogter is Dinsdagaand deur vyf mans in hul huis op ʼn plaas in die Paarl oorval en beroof.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die vyf mans met klapmusse het omstreeks middernag ’n skuifdeur stukkend geslaan en só toegang tot die huis verkry.

“Die mans het die egpaar (in hul 60’s) en dogter vasgebind en daarna die huis geplunder,” sê Van Wyk.

“Hulle het met elektroniese voorwerpe, juwele en vuurwapens te voet gevlug.”

Niemand het enige beserings tydens die voorval opgedoen nie.

Volgens Van Wyk dui die ondersoek na die voorval aan dat iemand Sondagaand reeds by die perseel wou inbreek.

Volgens die Drakenstein-plaaswag is hulle ontbied nadat die egpaar daarin kon slaag om hul hande los te maak en hulle oor die noodradio te roep.

Die plaaswag se noodbeheerkamer-operateurs het die oproep ontvang en ʼn mediese span, asook lede van die Fidelity ADT-veiligheidsmaatskappy is na die plaas gestuur. Die Paarl-polisie is ook dadelik van die voorval verwittig en het na die plaas gejaag.

“In die huis was dit duidelik dat daar ʼn struweling plaasgevind het en die huis was omtrent omgegooi,” sê die plaaswag op hul Facebook-blad. “Gelukkig is niemand ernstig beseer nie.”

Lede van die plaaswag het die gebied gefynkam op soek na die verdagtes en leidrade.

“Ons dink aan die getraumatiseerde egpaar en hul dogter wat so ʼn gewelddadige ervaring moes beleef het.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die skuldiges kan lei, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Surfer ·

Wat bedoel jy en wat is jou punt? Die Paarl is in die Weskaap.

Friedrich ·

Duidelik was dit nie EFF ondersteuners nie, anders sou die mense dood gewees het. Dank die Vader hulle lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.