Paarl-vrou vermoor: Beskuldigde wil borgtog vra

Jaco Oosthuizen. Foto: Facebook

Jaco Oosthuizen. Foto: Facebook

Jaco Oosthuizen (32) het weer Vrydag in die Paarlse landdroshof verskyn in verband met die moord op sy vriendin, Nicola Pienaar (28), wie se liggaam in Januarie in ʼn vlak graf gevind is.

Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak is tot 31 Maart uitgestel om die staat kans te gee om ʼn volledige klagstaat voor te berei. Oosthuizen staan op aanklagte van moord, bedrog en motordiefstal tereg.

Du Plessis het gesê dit is nog nie duidelik of daar nog aanklagte teen Oosthuizen aanhangig gemaak sal word nie, aangesien daar nog op die uitslae van forensiese toetse gewag word. Oosthuizen het wel aangedui dat hy om borgtog sal aansoek doen.

Dit het tydens Oosthuizen se vorige hofverskyning aan die lig gekom dat Pienaar swanger was toe sy vermoor is.

Pienaar is op 5 Januarie laas gesien toe sy haar ma se huis in ʼn Peugeot-motor verlaat het. Sy is op 8 Januarie as vermis aangemeld. Oosthuizen is op 21 Januarie buite ʼn KFC in Port Elizabeth in hegtenis geneem waar hy die Peugeot geparkeer het. Dié motor behoort aan Pienaar se ma.

Oosthuizen is aanvanklik op ʼn aanklag van motordiefstal in hegtenis geneem en het aan die polisie gesê hy en Pienaar was op 7 Januarie na Port Elizabeth onderweg toe hulle ʼn uitval gehad het. Hy het beweer hy het Pienaar in Oudtshoorn afgelaai waar sy ʼn bus sou neem terug huis toe.

Oosthuizen het glo later aan die polisie uitgewys waar Pienaar se liggaam agter sy huis onder rommel begrawe is.

Lees alle vorige berigte oor Nicola Pienaar op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

WitBlits ·

Geen parool kom iemand toe wat met voorbedagte rade moor en dan honderde kilometers vêr ry met ‘n gesteelde kar nie!
Die kersie op die koek is dat hy die polisie wys waar sy begrawe is en nou dink hy, hy kwalifiseer vir borgtog!

Cherokee ·

Soos die WitBlits uitwys, hoe op aarde kan ‘n moordenaar uitwys waar sy slagoffer begrawe is en dan heel vol van homself, aansoek doen om borgtog? Is borg nie net gekwalifiseerd vir moontlike ‘onskuldiges’ nie? Hoe kan ‘n moordenaar die lyk uitwys en dan om borgtog vra? Is dit ‘n standard in opgevoede lande ook so? Kàn dit werklik gebeur in ‘n gemoderniseerde land? Of is Suid Afrika wèrklik steeds sò deel van Afrika? (terloops Maroela Media, my aanval is gemik op ‘n ooglopende wit ou, so julle sal waarskynlik as gevolg daavan my opinie lugtyd gee.

Justice ·

Hy wil om borgtog aansoek doen? Hy kan bly wees hy kry nog kos in die tronk want hy verdien dit nie. Gooi maar die sleutel weg.

Yster74 ·

Keuses dames keuses.
Neem beheer oor jou lewe en maak regte keuses.
Nou soek die man borgtog.
Het die man geen skaamte of dink hy dat hy in n fliek speel.

Frik ·

Wys jou hoe sy kop werk. Hy wys waar hy haar begrawe het en dan wil hy vry buite die tronk rondloop. Ongelukkig weet hy dat as hy n goeie prokureur kry die kanse goed is dat hy onskuldig bevind kan word op grond van n tegniese punt of sy regte geskend was en sy uitwysing van waar hy haar begrawe het nie as bewys mag dien. Jammerlik wat mense vir geld sal doen en so is misdadiger weer op straat om nog n lewe te neem. Veragtelik!

Adam Boshoff ·

As hy borg kry wat is dan fout dat die doodskis ouens nie kry nie Voeg n klagte van regsverydeling ook by omdat hy gelieg het sy het in Oudtshoorn afgeklim Geen borg vir hom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.