Paartjie dood in badkamer gevind

Foto: Reaction Unit South Africa

ʼn Paartjie, albei in hul 60’s, is dood aangetref in die badkamer van hul huis in Cottonlands, KwaZulu-Natal.

Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa, het gesê dié gemeenskapspolisiëringsforum is Maandag omstreeks 12:50 ontbied toe ʼn familielid deur ʼn venster by die huis ingekyk en bloed op die slaapkamervloer opgemerk het. “Beamptes is na die toneel ontbied en bevind al die deure is gesluit. Die slot by ʼn veiligheidshek is egter oopgeforseer.”

Beamptes het deur ʼn oop venster toegang tot die huis bekom en ʼn plas bloed, wat met ʼn handdoek bedek is, by die ingang van die slaapkamer aangetref. ʼn Bloedspoor het RUSA-beamptes na die badkamer gelei, wat ook gesluit was.

“Nadat hulle die deur oopgebreek het, het hulle op die liggame van Dhir Roy Singh (68) en sy 60-jarige vriendin, Kay, afgekom. Kay, ʼn voormalige inwoner van Redcliffe in Verulam, het met haar gesig na onder in die bad gelê. Haar hande was agter haar rug vasgebind,” het Balram verduidelik. “Sy is vermoedelik verwurg, maar dit moet bevestig word.”

Singh het op die vloer van die badkamer gelê. Hy het meswonde in sy nek gehad. “ʼn Knipmes, wat vermoedelik tydens die aanval gebruik is, is in die woonkamer gevind.”

Balram het gesê die huis is geplunder en ʼn televisiestel en Singh se donkergroen Toyota Conquest (registrasienommer LCD 560 GP) is gesteel.

Volgens familielede het hulle die paartjie Saterdagmiddag omstreeks 16:00 laas gesien by ʼn funksie in die gebied.

“Singh se werknemer het onraad vermoed toe hy Maandagoggend by die werk opgedaag het en die hek steeds gesluit was. Hy het aangeneem Singh, ʼn boer, is na die Verulam-mark toe. Singh se familie het later by die huis opgedaag en toe die bloed op die slaapkamervloer opgemerk.”

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. “Die vrou het wurgmerke gehad en die man het steekwonde in sy nek gehad. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie,” het Gwala gesê.

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Woedend ·

Kan iemand asb vir ons se waarheen moet ons gaan om veilig te wees? Daar is doelbewuste aksies teen alle vredeliewende mense in SA, van moorde tot inbrake en kapings, om van ons ontslae te raak. En geagte president is tjoepstil……

Bella ·

Dis so baie hartseer en so onnodig. Asb mense, beveilig julself. Ek weet partymaal is dit ontmoontlik. Hierdie is een wrede werêld.

Elena Wentzel ·

Motief? watse motief hierdie mense het motiewe nie nodig nie. Dit lyk of hulle genot put uit die vrees vd inwoners en om eers die een dood te maak en dan die ander een!!!!!!

Andrea ·

Hulle is wrede, gevoelose, haatgevulde monsters wat verseker genot put uit hul slagoffers se vrees en pyn. Psigopate.

Tanzie ·

Die motief vir die moord is egter nie bekend nie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! WORD WAKKER!!!!!!

Wiki ·

Ek is so bly ek werk nie vir ‘n Reaction Unit was op sulke tonele moet afkom nie. Ek dink dat enige beeld van ‘n moord in jou gedagtes vasgevang sal bly. Sterkte aan die manne en vroue wat se alledaagse werk dit is om op gru-tonele af te kom.

Al ·

Dis seker nie dieselfde boer wat op Carte Blanche gepraat het oor grondbesetters op sy plaas – daar was woon erwe afgebaken op sy plaas. Die stamhoof het die besetters toestemming gegee om dit te doen, die besetters het R25 000 betaal per erf vd stamhoof.
Dalk is die ñ ander Indiër.
My innige simpatie aan die naasbestaandes.

Groenie ·

Bring terug die doodstraf vir moord, verkragting en gewapende roof!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.