Paartjie glo in Jhb-fliekteater beroof

‘n Fliekteater (Foto: Pixabay)

Die polisie in Gauteng het Woensdag bevestig dat hulle steeds besig is met ʼn ondersoek na ʼn voorval waartydens ʼn paartjie glo die afgelope naweek in ʼn Ster-Kinekor-fliekteater in Rosebank in die noorde van Johannesburg beroof is.

Dié ondersoek volg nadat ʼn man Saterdag in ʼn Facebook-inskrywing beweer het dat hy en sy vriendin in hul stoele, midde die vertoning van ʼn fliek, deur “ʼn bende van vyf mans” in ʼn teater by The Zone-winkelsentrum beroof is. Hy het ook gesê daar was glo “geen personeel” in sig of wat bereid was om te help tydens die voorval nie.

Dié inskrywing het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en Ster-Kinekor genoop om verlede naweek ʼn verklaring oor die voorval uit te reik. Die organisasie het in die verklaring bevestig dat hy die voorval met die man bespreek het.

“Ster-Kinekor se hooffokus is die veiligheid en sekuriteit van kliënte en personeel. Ons werk tans saam met ons personeel by The Zone om die kringtelevisiebeeldmateriaal te bekom. Ster-Kinekor werk ook saam met die polisie in dié verband. As organisasie wil ons ons kliënte net weer daaraan herinner om te alle tye waaksaam te wees en hul persoonlike besittings veilig te hou,” lui die verklaring van die organisasie.

Sers. Bongi Mdletshe, woordvoerder van die polisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê die polisie het reeds met Ster-Kinekor vergader en ondersoek tans die kringtelevisiebeeldmateriaal.

Mdletshe sê ʼn voorlopige ondersoek kon nog nie duidelikheid gee oor hoeveel verdagtes in die voorval betrokke was nie.

“Ons is besig met ʼn ondersoek om te bepaal hoeveel verdagtes in die voorval betrokke was, hoe die verdagtes toegang gekry het tot die teater en of hulle gewapen was. Daar is in dié stadium nog geen duidelikheid oor presies wat gebeur het nie. Wat ons wel weet, is dat die kliënte beweer hulle is binne ʼn donker teater in hul stoele beroof, en dat die polisie probeer uitpluis presies hoe dié voorval gebeur het,” sê Mdletshe.

Hy sê die polisie oorweeg in dié stadium “alle moontlikhede hoe die voorval kon afgespeel het”. Die ondersoek duur voort en die uitslag daarvan sal weldra bekend gemaak word. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

not in wonderland ·

Beter en hopelik veiliger om tuis te bly. Die mense is baie innoverend met hulle kriminele dade.

Snoefels ·

Se gaai man, vir wat moet ek waaksaam wees ?? Ek moet al klaar waaksaam wees op die pad, op die straat, aande as ek in my bed le, nou moet ek nog waaksaam wees as ek probeer n fliek geniet ? Hoekom kan Ster-kinerkor se suinige grootkoppe nie begin betaal vir gewapende veiligheid nie ? Dis erg genoeg dat die meerderheid sekuriteit rond loop met n plastiek stokkie, wat presies moet jy daarmee doen ? Hierdie gaan net veroorsaak dat niemand meer gaan fliek nie, jy betaal al daai geld dan moet jy nog op eie risiko waaksaam wees? Belaglik..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.