Paartjie in hof ná moord op Pta-ouma

Johan Visser. Foto: Facebook

Johan Visser. Foto: Facebook

Johannes (Johan) Visser, die 34-jarige vermeende dwelmverslaafde wat Maandag in die noorde van Pretoria in hegtenis geneem is vir die moord op Anita Cassell, het Woensdag saam met sy vriendin in die hof verskyn.

Visser het in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn op aanklag van moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, huisroof en inbraak by ʼn sake-onderneming.

Anesia de Kok. Foto: Facebook.

Anesia de Kok. Foto: Facebook.

Sy vriendin, Anesia de Kok, het verskyn op aanklag van besit van gesteelde goedere omdat sy na bewering van die geld by haar gehad het wat Visser glo van sy voormalige werkgewer, Danie Cassell, gesteel het. Volgens De Kok se Facebook-profiel is sy en Visser sedert 27 Julie 2013 in ʼn verhouding.

Mirna von Benecke, polisiewoordvoerder van die Sinoville-polisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê die saak is tot volgende Woensdag uitgestel vir verdere ondersoek. De Kok was glo by die Kolonnade in die voertuig toe Visser na bewering die geld gaan steel het.

De Kok is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Visser is nie borgtog toegestaan nie en bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Anita, wat saam met haar seun Danie en haar kleinseun in hul huis in Wonderboom in die noorde van Pretoria woon, is tussen 05:30 en 06:00 daar aangeval deur iemand die gesin ken.

Von Benecke het vroeër aan Maroela Media gesê Visser het glo voorheen as kelner vir Danie, medebestuurder van Panarotti’s in die Kolonnade-winkelsentrum, gewerk. Hy is glo ʼn dwelmverslaafde en die slagoffers wou hom help deur vir hom ʼn werk en blyplek te gee. Hy is egter sowat ʼn maand gelede afgedank omdat hy glo nie van sy gewoontes wou afsien nie.

Daar word vermoed dat Visser Maandag by die Cassell’s se huis ingebreek het om die sleutels van die restaurant se kluis te steel. Anita het hom glo in die huis betrap, waarna sy verskeie kere met ʼn mes gesteek is. Sy is op die toneel dood. Danie het op hulle afgekom en is ook gewond en na ʼn hospitaal geneem. Die kleinseun is ná die voorval vir berading gestuur en in ʼn plek van veiligheid opgeneem.

Visser het glo met ʼn selfoon en die restaurant se kluissleutels van die toneel gevlug. Hy het na bewering omstreeks 06:20 by die restaurant ingebreek en ’n onbekende bedrag geld uit die kluis gesteel voordat hy gevlug het.

Te danke aan die vinnige optrede van die Sinoville-polisie en -gemeenskapspolisiëringsforum, is hy omstreeks 15:00 by ʼn dobbelplek in Ninapark opgespoor en in hegtenis geneem.

De Kok is kort daarna  ook in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SNEL ·

Sjoe, n mens se lewe kan darem maar in n oogwink verander. Baie sterkte aan julle Danie.

As mens so na die fotos kyk, kan mens nie dink dat daai twee mense tot so iets instaat is nie. Wys mens net, mens kan niemand vertrou nie. Mens se hart is so seer om te dink hulle het n wonderlike en geliefde ma en ouma van haar mensies af weggeruk. Kan nie dink mense is so ongevoelig en liefdeloos nie, met geen gevoel of gewete. Wens regtig daar was strenger strawwe vir sulke mense.

J.Z ·

Daar is een afskrik middel vir moord, dit is die doodstraf maar mense wil dit nie instel nie want hulle is bang dit kan hulle self raak.

Nico ·

Die probleem is dwelms. En die jong mense wil dit nie glo nie.

Andre Marais ·

Nico die “Jongmense” GLO en WEET dit maar wil dit NIE ERKEN NIE – wat My Verstand net nie kan verwerk nie is dat daar wel Hulp is vir hulle maar dit word nie gebruik nie . . . . . tot dit gebeur wat nou WEER gebeur het.
Daar MOET iets baie vinnig en drasties gedoen word aan die GROOT Dwelm-PROBLEEM in hierdie Land want dit gaan Ons Jeug se Ondergang beteken.
Net nog ‘n Pluimpie dan ook vir die vinnige Optrede van die Sinnoville Polisie en Gemeenskap.
Sterkte aan die Cassell’s Kinders wat sonder ‘n Ouma moet aangaan met Hulle Lewe.

Eduard ·

Ja lyk my dwelms is die dywel hom self Ek kan nie glo dwelms kan a mens so ver dryf nie Baie sterkte aan die slag offers

Peet J ·

Hier is weer ‘n bewys dat misdaad die oorhand gekry het. het geld gesoek vir dwelms en dobbel, geen respek vir ‘n ander persoon se lewe gehad nie en gehoop hy sal nie gevang word nie. As hierdie kriminele tog maar net hulle leefwyse wil verander bv. gehoorsaam wil wees aan die woord van die Almagtige God nl. Deuteronòmium 5 vers 17 Jy mag nie doodslaan nie en 19 Jy mag nie steel nie ens. dan behoort die lewe vir ons almal hier meer aangenaam te wees. My innige simpatie aan die familie dis tragies om iemand se lewe op so ‘n manier te neem.

Francois le Cochon ·

Ek (wit) onthou as kind, het my oorlede ma altyd gese^, “daar’s niks so sleg as ‘n slegte witmens nie”.

pop ·

My sentiment ook Francois. En ek het nie tyd om te mors met swakkelinge nie. Dwelgebruikers en drank misbruikers is niks anders as swakkelinge nie.

Die skim ·

Ek ken die vroulike verdagte, sy was vreeslik geld gierig en so tot uiterstes gaan om jou van elke sent te melk, al die mans wat met haar te doen gehad het in die verlede was in die tronk, is dood, ek moet my self gelukkig ag dat ek net met finansiële verliese daar weg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.