Paartjie in hof ná speurder se dood

Blomme stroom in by die Sinoville-polisiestasie ter nagedagtenis van ao. Ben Strydom. Foto: Verskaf

Blomme stroom in by die Sinoville-polisiestasie ter nagedagtenis aan ao. Ben Strydom. Foto: Verskaf

ʼn Egpaar gaan na verwagting Maandag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn in verband met die moord op ao. Ben Strydom, ʼn polisiespeurder, wat doodgeskiet is terwyl hy aan diens was.

Maroela Media het vroeër berig Strydom (47) het as speurder by die Sinoville-polisiestasie gewerk. Hy en ʼn kollega wou Donderdag omstreeks 10:00 ʼn 64-jarige verdagte by sy huis in Montanapark in hegtenis neem in verband met verskeie aanklagte van bedrog.

Na wat verneem word, het ʼn bakleiery uitgebreek en Strydom is noodlottig gewond. Hy is op die toneel dood. Die verdagte het ook op Strydom se kollega geskiet, waarna hy in sy voertuig gespring en weggejaag het.

Die ander beampte is nie beseer nie. Hy het hulp ontbied en die Sinoville-polisie het die verdagte sowat 15 minute later op die Moloto-pad aangekeer. Die man het van die pad afgetrek, die vuurwapen op homself gerig en probeer om selfmoord te pleeg. Hy het glo homself in die kop geskiet. Hy is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die verdagte se vrou (47) is kort na die skietery ook op aanklag van bedrog in hegtenis geneem.

Beeld het Vrydag berig die egpaar het ’n toerisme-onderneming bedryf wat glo veral bejaardes ingedoen het. Hulle het na bewering deposito’s van verskeie vakansiegangers geneem, die vakansie gekanselleer en dan met die slagoffers se geld verdwyn. Die egpaar het glo ook in twee Afrikaanse koerante en op die radio adverteer, maar nie daarvoor betaal nie.

ʼn Polisiebeampte van Upington, wat glo deur die egpaar ingedoen is, het hulle opgespoor.

Die verdagtes se name mag nie bekend gemaak word voordat hulle in die hof verskyn het nie.

Buiten die aanklagte van bedrog, gaan die man ook van moord en poging tot moord aangekla word.

Lees ook:
Man skiet PTA-polisieman, homself

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Riaan ·

Is die man dan uit die hospitaal uit? Ek het verstaan hy is ernstig gewond en le in die Intensiewe Eenheid?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.