Paartjie sterf ná skietery

ʼn Skietery het Maandag by ’n huis in die Hambanathi-nedersetting uitgebreek. (Foto: Reaction Unit South Africa)

ʼn Paartjie van Tongaat in KwaZulu-Natal is Maandag dood nadat ʼn skietery in hul huurkamer in die Hambanathi-nedersetting uitgebreek het.

Beamptes van Reaction Unit South Africa (Rusa) is ongeveer 06:45 deur ander inwoners na die toneel ontbied, waar hulle die man en vrou met kopwonde op die vloer aangetref het.

Die polisie was met Rusa se aankoms reeds op die toneel.

Die paartjie het in dié stadium nog geleef en nooddienswerkers het hulle op die toneel behandel.

“Die polisie is in kennis gestel dat ʼn vrou glo gegil het kort voor geweerskote afgevuur is. Toe polisiebeamptes die vertrek binnegaan, het hulle die man en vrou met skietwonde aan hul koppe op die vloer aangetref. ʼn 9 mm-pistool het tussen hulle gelê.

“Nooddienswerkers van verskeie private ambulansdienste het gepoog om die paartjie, wat kritiek beseer was, te stabiliseer. Die vrou is na ʼn hospitaal gehaas, maar het met haar aankoms daar aan haar wonde beswyk. Die man is op die toneel dood,” het Rusa in ʼn verklaring gesê.

Die motief vir die skietery is nie in dié stadium duidelik nie. Dit is ook nie duidelik wie die sneller getrek het nie.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur en wag tans op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Dit is verskriklik en raak net al hoe erger. Wat gaan met die mensdom aan vandag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.