Paartjie vier 60 jaar van getroude lewe

Hendrik en Corrie Potgieter (Foto: Mizanne Hattingh/ Maroela Media)

In die kombuis van sy ouerhuis het Hendrik Potgieter in 1959 in een van oudste buurte in Pretoria, Capital Park, vir die eerste keer oë op Cornelia gelê. Die einste Cornelia, of eerder Corrie – soos sy onder vriende en familie bekend is – met wie hy vanjaar 60 jaar getroud is.

Maroela Media het by die paartjie gaan inloer om te sien hoe die liefde na ses dekades steeds aan die blom is.

Cornelia het daardie jare by Steve Biko Akademiese Hospitaal, wat toe nog HF Verwoerd was gewerk.

“My ma, pa en sussie het almal by die hospitaal gewerk. My ma was ʼn vrygewige tannie gewees, sy het elke naweek so drie verpleegsters terug huis toe gebring. Dis toe ek haar in ons kombuis sien staan.

“Dit was soos liefde met die eerste oogopslag. Ons het natuurlik drie maande uitgegaan  voordat ek vir die eerste keer aan haar hand gevat het,” het Hendrik vertel.

“Daardie jare was dit nog verbode om net sommer aan ʼn vrou te vat. Vandag doen die kinders dit al van matriek af.”

“Miskien nog jonger,” het Corrie bygevoeg.

Hendrik en Corrie het hul diamanthuwelikherdenking by Senior 2000 aftreeoord in Akasia saam met familie en vriende gevier.

Die paar het 60 jaar gelede in die hof getrou.

“Daardie jare was geld baie skaars gewees. Ek het op die spoorweë in Breyten gewerk. Ek het ʼn uur of twee afgekry – en dis die tyd waarin ons moes trou.

“Tot vandag toe nog is ons nie spyt daaroor nie.”

Deel van die raad wat hulle vir jong paartjies het, is om meer op die huwelik self te fokus as op die troudag.

“As jy sukses van jou huwelik wil maak, moet jy die Here by jou hê. Sonder Hom gaan jy nêrens kom nie. Ons was nog altyd gelowig, ons het gereeld kerk toe gegaan, ons het die kinders in die kerk grootgemaak. Hy het altyd vir ons gesorg.”

Die egpaar spog vandag met drie kinders en ses kleinkinders.

“Ons het soveel spesiale herinneringe. Ons was seker 30 keer by die see, ons het ʼn vol lewe gehad. Ons het ses nuwe huise wat ons aangebou en in gebly het.”

Hendrik het benadruk dat een van die belangrikste bestanddele in die resep vir ʼn langdurige  huwelik is om nie kwaad te gaan slaap nie.

“As julle kwaad is vir mekaar, kry dit voor julle gaan slaap uit die pad uit. Moenie kwaad gaan slaap nie. Ons argumenteer ook oor dinge, maar ons het ʼn beleid – vanaand vergeet ons daarvan en môre is ʼn nuwe dag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Darts girl

Baie geluk met oom en tannie se huweliksherdenking mag daar nog vele meer wees en mag God jul ryklik seen

Nico

Die jong mense vandag wil trou maar is nie bereid om dinge saam te doen en beplan nie. Die vrou is deur God daar gestel as hulp vir die man, sy is nie geskape om deur deur die man vertrap te word nie. Hou die oog gevestig op God die Vader en jou huwelik sal bly staan.

Racheltjie Debeer

Baie geluk oom en tannie. So ‘n pragtige voorbeeld vir almal. vandag se jongmense spandeer duisende rande op ‘n troue, maar sodra die 1ste krisis opduik, wil hul handoek ingooi!

Francois

Baie geluk – ek dink julle kan gerus vir die bekende sangers, akteurs en sportmense wat nou gereeld in die nuus is met skitter verlief ogies trou en kort daarna met rooi gehuilde ogies mekaar los, ordentlike praktiese huweliksvoorbereiding en verskilhantering en vasbyt aanbied. Meer gemeentes moet n hehoorlike huweliks voorbereidings kursus wat alle aspekte van die huwelik dek, voor die tyd aanbied as vereiste om paartjies te trou.

Swerwer

Baie, baie geluk aan u, dit is so ‘n mooi voorbeeld vir duisende getroude pare!